Sir James Rose Innes (1855–1942)

  • 2
Sir James Rose Innes (bron: wikipedia)

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Twee hoofregters van die eertydse Unie van Suid-Afrika is op 16 Januarie oorlede. Sir James Stratford, wat van 1938 tot 1939 hoofregter was, is op 16 Januarie 1952 in Kaapstad oorlede. Presies tien jaar vroeër, en ook in Kaapstad, is sir James Rose Innes, wat hoofregter was van 1914 tot 1927, op 87-jarige leeftyd oorlede.

By laasgenoemde wil ek 'n rukkie stilstaan.

James Rose Innes word beskou as een van die grootste Suid-Afrikaanse regsgeleerdes, maar hy het ook as Kaapse politikus en lid van Cecil John Rhodes se kabinet uitgeblink. Nadat hy die LLB-graad in 1877 verwerf het, is hy toegelaat as advokaat van die hooggeregshof van die Kaap. Kort daarna het hy hom in die vaarwaters van die Kaapse politieke lewe bevind en in 1890 het hy prokureur-generaal (die ekwivalent van minister van justisie) in die eerste Rhodes-kabinet geword.

Kort na die vorige eeuwending is Rose Innes aangestel as regter-president van die hooggeregshof van Transvaal. Tydens die agt jaar wat hy in dié pos gedien het, het hy een van die sterkste regbanke wat Suid-Afrika nog ooit gehad het, gelei. Die ongeëwenaarde hoë aansien wat die Transvaalse hofverslae van daardie jare nog steeds onder regsgeleerdes geniet, is grotendeels aan sir James te danke.

Ná die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is Rose Innes as appèlregter aangestel, en in 1914 het hy na die dood van lord JH de Villiers die tweede hoofregter van die Unie van Suid-Afrika geword.

As regter was Rose Innes regverdig, altyd beleefd en geduldig, ontsaglik hardwerkend, iemand wat vinnig tot 'n beslissing kon kom, maar dikwels veeleisend – selfs onsimpatiek – teenoor veral junior advokate.

In die 17 jaar dat hy eers as appèlregter en daarna as hoofregter gedien het, het hy 'n ontsagwekkende reeks uitsprake gelewer wat geweldig baie tot die verheldering en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse reg bygedra het. Iemand het sy uitsprake soos volg opgesom: "Dit skitter deur sowel sy geleerdheid en helderheid as die maklike gang en oortuigingskrag van sy pen. Sy uitsprake is 'n genot vir die leser en van sy tydgenote het geglo dat geen regter ooit regsbeginsels duideliker en met meer presiesheid as hy uitgespreek het nie."1

Sir James was 'n nederige en ruimhartige mens. Dit was 'n ope geheim dat hy in 1927 as hoofregter bedank het om aan appèlregter Solomon – wat ouer as hy was – die geleentheid te bied om ook sý loopbaan as hoofregter af te sluit.

Iewers lees ek ook die mooi verhaal van wyle regter Bristowe se klerk wat een oggend, na 'n partytjie die vorige aand, die telefoon in die regter se kantoor met net so 'n tikkie ongeduld beantwoord het. Die persoon aan die ander kant wou weet of hy met regter Bristowe kon praat, waarop die klerk kortaf geantwoord het dat die regter reeds in die hof was en dat hy daarom totaal afgesny was van enige kommunikasie met die buitewêreld. Die persoon aan die ander kant het gesê dat hy dit heeltemal goed verstaan, maar of dit moontlik sou wees om 'n boodskap vir die regter te stuur. Weer het die klerk hom kortaf meegedeel dat dit buite die kwessie was om vir 'n regter wat reeds in die hof is, 'n boodskap te stuur. Die ander persoon het steeds kalm geantwoord dat hy ook dít baie goed verstaan, maar wat hy éintlik wou vra, is of die klerk so goed sou wees om 'n boodskap op regter Bristowe se lessenaar te laat dat hy moes terugskakel wanneer dit hom sou pas. Steeds traag het die klerk gevra wie dit nou eintlik is wat bel, wat sy besigheid is en waarom hy met regter Bristowe wil praat, waarop die persoon aan die ander kant rustig geantwoord het dat dit sir James Rose Innes is en sou die klerk asseblief vir regter Bristowe vra om so gaaf te wees om terug te skakel wanneer dit hom sou pas.2 Die angel in die storie is dat sir James op daardie stadium as goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika waargeneem het!

Een van die interessante dinge waarmee regter Rose Innes hom besig gehou het ná sy aftrede as hoofregter, was die Non-racial Franchise Association – 'n vereniging wat hom dit ten doel gestel het om die stemregdiskriminasie op grond van ras en kleur in die Kaapprovinsie teen te staan. Rose Innes het hom beywer vir 'n "beskawingskwalifikasie" vir stemreg in die hele land – 'n gedagte wat ook 20 jaar of wat gelede sterk vanuit sommige kringe gepropageer is met die opstel van Suid-Afrika se huidige Grondwet.

 

1 Vgl Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Vol (ii), ble 335 ev.

2 Ellison Kahn, Law, Life + Laughter  (1992), ble 96 ev.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 2

Kommentaar

  • Felicia Fourie

    ‘n Interessantheid oor Regter James Rose-Innes: Sy enigste kind Dorothy is getroud met Helmuth (Graaf) Von Moltke, agter-kleinneef van die beroemde Pruissiese Veldmarskalk Helmuth Von Moltke.   Regter Rose-Innis se kleinseun Helmuth James Von Moltke is op 23 Januarie 1945 deur die Nazi-regering gehang  vir sy deelname as lid van die Kreisau-kring, aan die beplanning van die sluipmoord  op Adolf Hitler op 20 Julie 1944.  Na die mislukte poging is hy, saam met ‘n  twintigtal ander persone, skuldig bevind aan hoogveraad en gehang.   Volgens Helmuth James se weduwee Freya het die Regter direk, of indirek deur Dorothy, ‘n invloed gehad op die kleinseun en sy konsep van regverdigheid. Soos sy Oupa was hy ‘n juris.

  • Gustaf Pienaar

    My maggies, Felicia - dis nou 'n interessante bydrae van jou!  Ek was nie hiervan bewus nie.  Baie dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top