Sinspeel

  • 0

Sinspeel

I. Sinvol

dit was ’n sinnelose verhouding
ons s’n
onsin

jy wou jóú sin kry
so jy het van my sinne beroof

ek het probeer sinmaak daarvan
maar daar is slegs een sin oor

Ek is tot my sinne gebring.

II. Invloed

Nou rippel
my woordestroom
sindelik in sirkels
glad onaangeraak,

want ek sal
eerder verdrink
in my eie sinpoel
as wat ek spring
in ’n see
met vele viskring
se oorvloed
gevoelswarboel.

III. Sentiment

Tans is my woordeskat
my enigste skat.

Ek gee nie
’n sent om nie,
ek draai nie sente om,
en draai nie om in my bed
oor sentjies nie;

ek tuimel wel
om sinrykheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top