die gedagte-inhoud van gedigte
is dikwels maar dun
wanneer jy dit baie goed tref, maak dit
wonderbaarlik sin
die beste gedigte blink uit in klank
en ritme en beeld
hul prikkel die oog en die oor, maar laat
die verstand verveeld
die meeste lesers soek wysheid elders
en is min gepla
- solank die ryme bekoorlik klingel -
oor die logika
die lui maar slinkse digters weet dit goed:
suiwer poësie
- sê hulle vroom - het niks te doen met Hegel,
Kant of Nietzsche nie
vir Marlene van Niekerk raak dit te veel:
agge nee basta!
poësie is filosofie – die res
is kamma-kasta
Kant het hoeka al kritiek gehad op
die blote vernuf,
Nietzsche was digter en Hegel se sin-
tese bly gedurf
tot sover Marlene van Niekerk – sy klink
bietjie prekerig
maar die waarheid neem baie vorme aan
as jy denkend dig