Silwerskermfees-kortfilms verken eenderse tema: Spoor(loos) en Vlees van my vlees

  • 0

silwerskermfees2016_kortfilms650In 'n era waarin die speelfilm koning van die filmkuns is, is dit sekerlik normaal om te wonder waarom die kortfilm steeds aandag geniet. Dit is inderdaad so dat weens die bondigheid wat die filmmaker moet nastreef, die kortfilmgenre die ideale leerprojek vir aspirantfilmmakers is en daarom die rede waarom filmstudente en jong filmmakers daarmee afskop. Indien bondigheid as die unieke eienskap van 'n kortfilm uitgeken word, dan is dit juis hierdie eienskap wat dit so 'n moeilike genre maak om te bemeester. Vir die filmkyker lyk dit wel eenvoudig, en tog is dit nie: elke verhaalaspek en vertelstrategie op sy plek; 'n begin, middel en einde presies waar dit hoort en nie noodwendig in daardie volgorde nie; voldoende karakterontwikkeling; genoeg wending; elke woord en beeld opsetlik uitgekies en behou; en laastens trek jy styf. Dit alles binne tien tot twintig minute. Die kortfilm het gewoon nie tyd vir onnodige elemente nie.

As 'n filmgenre weerspieël die kortfilm 'n lewensgreep, 'n blik op 'n karakter se bestaan – 'n oogwink van gebeure. Dit vertel 'n volledige verhaal kompleet met 'n begin, middel en einde in 'n beperkte tyd en hierin lê die uitdaging. Die idee is om soveel as moontlik in die kort speeltyd te vertel sonder om te veel te verklap en steeds te sorg dat die verhaal genoeg intrige bevat sodat die kyker nie wegkyk nie.

Een van die grootste uitdagings wat die kortfilmmaker moet oorkom ten einde 'n gefokuste filmverhaal te lewer wat beide getuig van 'n goeie verhaal en spog met dit wat die filmmedium bied, word vasgevang deur die vrae “Watis my storie?” en “Wat is onnodig?”

Die kykNET Silwerskermfees bied in hierdie opsigte aspirantfilmmakers die geleentheid om aan hul jaarlikse kortfilmkompetisie deel te neem, en 2016 se inskrywings het nie teleurgestel nie. Die Silwerskermfees bied nie net die gehoor die geleentheid om kennis te neem van die jong talent wat agter rekenaarskerms en filmkameras skuil nie, maar is ook 'n platform vir plaaslike vervaardigers om belowende kortfilms en filmtalent te aanskou met die oog op groter projekte. So 'n voorbeeld is die kortfilm Buurtwag wat by die 2012-Silwerskermfees onder andere met die prys vir beste regie weggestap het en later as 'n volledige televisiereeks vir kykNET ontwikkel is. Die geleenthede wat aan aspirantfilmmakers tydens die fees gegun word, is belowend en kan na soveel groter dinge lei.

Dit is die intrige van 'n kortfilm wat my interesseer en, indien dit reg gedoen is, my vir dae aan die verhaal bly kou. Só was dit met twee kortfilms wat by hierdie jaar se Silwerskermfees gedraai het: Spoor(loos) (regie deur Marisa Drummond) en Vlees van my vlees (regie deur Matthys Boshoff). Hoewel die twee filmverhale wesenlik van mekaar verskil, verken dit 'n eenderse tema.

Om vasgevang te wees, hetsy in jou omstandighede of in jou liggaam, is 'n verhaaltema so oud soos die berge, maar beide hierdie kortfilms blaas nuwe lewe daarin.

spoorloosSpoor(loos) speel af oor drie dae in die lewe van Johnson (Fezile Mpela), 'n man met twee kinders wat sukkel om kop bo water te hou. As 'n huurmotorbestuurder in Johannesburg werk hy lang en meestal eentonige skofte, maar net tot Juliet (Pulane Sekepe), 'n prostituut, sy motordeur oopmaak. Kort na hy haar by haar bestemming aflaai, kry hy weer 'n boodskap op sy slimfoon om 'n kliënt op te tel. Hy aanvaar die versoek en Juliet klim weer by die motor in, en dis hier waar die wending plaasvind: Juliet se neus bloei, sy kyk bekommerd rond, smeek Johnson om te ry en weier dat hy haar na 'n hospitaal neem, selfs op sy onkoste. Moeg vir sy vrae beveel sy hom om die motor te stop en klim uit. Die volgende dag soek Johnson na haar en bel selfs hospitale op soek na 'n Juliet. Daardie aand vind hy haar weer: geslaan en bang. Hy neem haar na 'n uitsigpunt waar hulle oor Johannesburg kyk. “As jy een wens gehad het,” vra Johnson, “en jy kan enigiemand anders wees, wie sal jy wees?”

Johnson se antwoord is dat hy Superman sal wil wees. Hy wil vlieg en hy wil mense help. Hierdie begeerte om iemand anders te wil wees; om 'n mantel te dra en om te kan vlieg, dui op meer as net 'n begeerte om mense te kan help, want dít doen hy reeds. Hy is reeds die dapper held wat snags die strate van Johannesburg aandurf en bereid is om tot 'n vreemde vrou se redding te kom. Maar meer as dit: Superman is nie vasgevang in omstandighede nie; Superman is vry.

Ongelukkig, soos die lewe ook is, eindig die verhaal nie met 'n pragtige sonsondergang nie, maar Johnson se hartseer is tasbaar. Jy voel vir hom; vir sy desperaatheid om net te wees wat hy in sy hart voel hy is. Jy voel sy trane en jy hoor hoe eggo sy skreeu deur Johannesburg net voor die beeld doof. Dit is die suksesvolle visuele vertolking van die mate waarin Johnson in sy omstandighede vasgevang is wat die kortfilm laat seëvier.

Ten spyte daarvan dat die film se einde te veel vrae by die kyker ontlok en dit gevolglik die risiko loop om, met 'n einde wat moontlik téoop is, in die gat van die riller-genre te val, is dit die goed-ontwikkelde verloop van gebeure wat die kyker vasgenael hou. Die innerlike konflik wat Johnson beleef – sy begeerte om vry te wees; om ander en homself te red – word suksesvol visueel verbeeld in die manier waarop hy vir Juliet red en in haar ook geluk vind, al is dit tydelik. Die mate waarin die karakteruitbeelding visueel geskied, is die groot lokkrag van die film, veral omdat die verhaal op min dialoog staatmaak. Dan is dit die tragiese einde wat die verhaal 'n ware kortfilm maak – 'n oogknip in die lewe van 'n tragiese figuur.

Vlees van my vlees vertel 'n verhaal van diep ongelukkigheid, frustrasie en deernis. Dit is, volgens die filmspan, 'n verhaal van 'n verhouding tussen 'n man en vrou; 'n verhaal van twee mense vasgevang in 'n kamer, langs mekaar, in hulle lywe, in hul lewens.

Ná 'n motorongeluk word die gelukkige gesin van vier se lewens onherroeplik omgekeer met hul dogtertjie wat sterf en die vrou, Annelie (Erica Wessels), wat 'n kwadrupleeg word. Twaalf jaar na die ongeluk neem Magnus (James Alexander) vir Annelie uit om hul huweliksherdenking te vier en niks sal in sy pad staan om die aand 'n sukses te maak nie. Die soms speelse roetine waarin die paartjie verkeer wanneer Magnus haar help regmaak, wys dat hulle ten spyte van alles tog by hul omstandighede aangepas het. Die uitbeelding daarvan weerspieël 'n diep vertroue tussen man en vrou en is 'n hand van empatie op die kyker se skouer, maar die ongelooflike intimiteit waarmee hulle saamleef is ook 'n hand om die kyker se keel. Magnus tel byvoorbeeld vir Annelie in die bad in, en droog later in die restaurantkleedkamer haar rok af nadat haar katetersakkie lek en kort voor lank is hul frustrasies met hul situasie op die voorgrond.

vleesvanmyvleesTen spyte van die fisieke nabyheid wat die karakters teenoor mekaar betree, is daar 'n duidelike skeiding van gees tussen hulle. Nie net stamp Magnus en sy seun, Cornelius (Luan Jacobs), koppe nie, maar Magnus vind dit moeilik om met hul unieke situasie vrede te maak. So hard soos wat Magnus probeer om hul huwelikherdenkingsaand 'n sukses te maak, so vinnig rafel die aand uit en word hierdie innerlike konflik wat in die karakters se psiges heers, suksesvol visueel gekommunikeer, wat 'n wending in die filmtoon meebring. Die ontwikkeling van hul omstandighede as die verhaalantagonis staan soos 'n betonmuur voor Magnus en dit is duidelik dat hy dit te moeilik vind om met sy vrou se rolstoel en “slapgatseun” om die muur te loop. Uiteindelik eis dit ook sy tol.

Die jukstaponering van emosies en aspekte van nabyheid word in 'n kort verloop van tyd meesterlik uitgebeeld. Die mate waarin Annelie in haar liggaam vasgevang is en Magnus se frustrasie en sy eie vasgevangenheid in sy skuldgevoelens en hulpeloosheid word gejukstaponeer met 'n liggaamlike intimiteit wat weinig van ons ons sal kan verbeel, wat vrugbare grond is vir verhaal- en karakterontwikkeling.

Die verhaal bied 'n harde blik op die realiteite wat 'n paartjie in só 'n situasie in die oë staar. Volgens die filmspan het hulle hulle deurentyd tydens die verfilming afgevra: “Is it real?”, wat 'n absolute getrouheid aan die karakters nastreef met klem op Annelie as kwadrupleeg en hoe Magnus haar en hierdie realiteit hanteer, maar ook op die impak wat dit op hom het. Die vasbeslotenheid om die verhaal op 'n realistiese manier te vertel wat getrou aan die karakters is, is dan ook die rede vir die kortfilm se sukses by vanjaar se Silwerskermfees, waar dit pryse vir die beste kortfilm, beste regie in die kortfilmkategorie en beste aktrise in 'n kortfilm verower het.

Terwyl Spoor(loos) en Vlees van my vlees verskillende aspekte van vasgevangenheid as tema verken, bind hierdie tema-uitbeelding die onderskeie kortfilms aan die filmkuns in die geheel en vertolk dit een funksie van die filmkuns en kuns, omdat dit na binne kyk en die vraag vra “Wat nou?”.

Spoor(loos) en Vlees van my vlees is eersteklas kortfilms en getuig van ons plaaslike storietalent wat op 'n groter gehoor wag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top