In ’n vorige skrywe het ek verwys na ’n stelling wat Jan Spies een aand tydens ’n toespraak gemaak het. Hy het gesê dat die Afrikaner maar ’n sikspens in die bevolking van Suid-Afrika is en dat ons nou nie ’n tiekie daar van moet uitdefinieer nie. Die debat tussen myself, Pieter Redelinghuys, Jaco, Jan Rap, Thys Human en ’n spatseltjie van Johannes Comestor het my tot die gevolgtrekking gebring dat sommige mense nie net ’n tiekie van die Afrikaner wil uitdefinieer nie maar feitlik die hele sikspens.
My laaste skrywe het ek afgesluit met die woorde: “Afrikanergroete (durf ek dit gebruik?)”. Thys Human se reaksie hierop was dat ek dit nie durf gebruik nie en vir my en Jaco as lamsakkige, hanskakie, Afrikanerhaters uitgeskel. Volgens Thys is die Afrikaner ’n wit persoon wat ontuis in Suid-Afrika is en waarop voortdurend aanslae geloods word. Jan Rap eggo voortdurend hierdie sentimente en weier ewe vroom om die Afrikaner te definieer maar beweer dat enige persoon wat sê dat hy ’n Afrikaner is, en hom dus by implikasie met hierdie sentimente vereenselwig, ’n Afrikaner is.
Die vraag wat onwillekeurig by my ontstaan is wie die tiekie-denkers die reg gegee het om sommer te besluit dat die term “Afrikaner” aan hulle behoort. Na my mening het die sikspens-denkers net soveel reg op die term – straks meer omdat hulle Suid-Afrika steeds as hulle vaderland koester in teenstelling met die tiekie-denkers wat heeldag wil landuit. Jaco se voorstel dat ons na Nuwe Afrikaners verwys as ons van die sikspens-denkers praat, het nogal meriete. Die tiekie-denkers kan dan heel gepas Ou Afrikaners heet. Aan die ander kant weet ons almal wat van die Nuwe Nasionale Party geword het!
Afrikanergroete
Thomas


Kommentaar
Jy stel nie werklik belang in die term Afrikaner nie - jy wil dit in elk geval gebruik vir 'n verwaterde, vermengde spil wat eintlik nie Afrikaner genoem wil wees nie. Jy wil net die term kaap en so die werklike Afrikanervolk afbreek en vernietig.
Beste Thomas,
Ek ken jou as 'n beskaafde, intelligente persoon wat vir 10 gewone Afrikaners sal tel, en dus wat Thys Human oor jou kwyt raak is van absoluut geen belang en van nul waarde. So 'n klompie jare gelede het 'n ene Jan Rap, toe hy opdreef gekom het, my uitgeskel as 'n skande vir die Afrikaner. Ek het 'n goeie idee wat hulle bedoel met Afrikaner-wees, en wat hulle vereistes is om te kwalifiseer as een, en ek wyer om my daarmee te vereenselwig . Reeds het ek in die verlede té veel skaamte gevoel oor die beeld wat daardie soort Afrikaner van homself geprojiseer het in die buiteland gedurende die jare 1960 en 1994, dieselfde nasie wat hoë aansien verwerf en geniet het met die afloop van die Anglo-Boere-oorlog.
In een van my skrywes het ek uitgewys dat sekere elemente binne die destydse Nasionalistiese party in die Transvaal, en toe die Herstigtes, die Afrikaner "gehighjack" vir hulle eie politieke doeleindes. Die pes kom van die Transvaal en noord van Pretoria, iets wat julle Kaapenaars nooit ten volle begryp het nie.
Rasseverhoudings in die Transvaal was ook baie harder as dié in die Kaap en die Transvalers het gesorg dat die kleurlinge van die algemene kiesersrol geskraap word. Dikwels het ek gehoor dat die Kaapse Nasionaliste ook lamlendig edm is. Alles kan seker teruggevoer word na die mentaliteit van daardie trekboere wat nie in die Kaapse kolonie onder 'n Britse regering wou bly nie, en hulle konfrontasie met swartstamme langs hulle trekpad het ook hulle rasseverhoudings gevorm. Hulle is eenvoudig deur 'n ander geskiedenis gevorm, anders as in die geval van die Kaapse Afrikaners. Die Kaapenaars is ook die ABO gespaar. Dus het daar eintlik twee nasies onstaan: een Afrikaner-nasie in die Kaap, en 'n tweede in die Transvaal. En vandag soek die Transvalers nog vir definisies vir ware Afrikaner-wees, iets wat 'n Kapenaar nooit sal verhaal nie.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
"spil" moes eintlik "spul" gelees het.
Beste Thomas,
Ten byvoeging van bg skrywe oor twee Afrikaner-nasies het ek vergeet om te noem die polemiek gedurende die sestiger-jare aangaande die sg "verligtes" en die "verkramptes" onder Afrikaner-gelede. As ek my nie misgis het die "verligtes" hoofsaaklik uit die Kaap gekom, en die Universiteit van Stellenbosch was die setel van hierdie beweging/gedagtestroom wat gedink het, en hulleself gedra het, soos mense van regs-van-senter in die Europese konteks/ politieke spektrum, en die "verkraptes" hoofsaaklik gesetel in die Transvaal, in Pretoria, wat voorgekom het as verteenwoordigers van vêrregse groepe met n uitgeproke en geharde houding teenoor ras.
Hier vind mens alweer 'n manifestasie dat die Afrikaner nooit 'n homogene volk was nie. 'n Volk moet 'n gemene geskiedenis hê en dit het die Afrikaner nooit gehad nie. Die historiese omstandighede wat die mentaliteit van die Kaapse Afrikaner gevorm het, en die omstandighede wat gelei het tot die vorming van die Transvaalse mentaliteit is anders. Die Kaapse Afrikaners het getrou gebly aan die Britse kroon, hulle het nie binnelands getrek nie, hulle het nie met die swartstamme van Afrika gebots nie, en hulle het geen deel gehad aan die Anglo-Boere-Oorlog.
Die afwesigheid van hierdie diepgaande (en traumatiese) ondervindinge wat die psige van die Transvaler gevorm het, het dus geen spore gelaat op die Kaapse Afrikaner nie, en dit was eers by tye van die ABO dat Afrikaners in die Kaap weer besef het dat daar van hulle sg "landgenote" in die binneland is, en enige simpatie en aanhorigheid met Afrikaners in die Transvaal begin voel het.
Om af te sluit: ek stel nie die minste belang in wat 'n Thys Human of Jan Rap dink wat dit behels om 'n Afrikaner te wees nie (afgesien van die gedagtewisseling hier op SêNet). Ek voel net dat ek nooit tuis onder hulle soort sal wees nie, eerder tuis onder mense van my klas, diegene van my professie, en wat my uitsig en belangstellinge deel.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Pieter, jou kennis en ontleding van die geskiedenis - veral van die Groot Trek - is helaas beroerd.
Ag ou Thys
Ek kan ook oor my bloedlyn spog. My oupa se oupa Dawid Hermanus Fourie is in Dingaanskraal saam met Piet Retief vermoor. My geslagsregister: Louis Fourie; Stephanus Fourie; Dawid Hermanus Fourie; Stephanus Fourie; Ockert Fourie; Daniel Hendrik Fourie; Michael Muller Fourie (my pa); en dan die skamele ek. Almal met Afrikaanse vrouens getroud; Anna Jordaan (Jourdan); Liesbet Geertruy; Beatrix Lategan; Cecile Olivier; Hendrina Barnard; Ignasina Muller; Cornelia Barnard (my ma). Ouboet Daan met sy klompie seuns sal die bloedlyn aan my pa se kant volhou, want dit was net ons twee broers en ’n suster. Vir ooglopende redes sal ek nie ’n nageslag he nie.
Ek moet wel bykomstig met trots sê, my ouma se stamvoorvader, Anton Muller, het met ’n Maleise vry-slavin wettiglik in die huwelik getrou, soortgelyk aan Oom Paul Kruger se bloedlyn.
En dan het jy die vermetelheid om my uit te skel dat ek nie Afrikaner is nie!
Jaco Fourie
Beste Thys,
Dankie vir jou kommentaar. Gun my asb. die geleentheid om jou geheue te vervris. Die term "Nasionalistiese Party" was die term in algemene gebruik totdat dit verander is teen die einde van die sestigerjare na die "Nasionale Party" om die beeld van die party meer aanvaarbaar te maak in die buiteland, en om Engelssprekende Suid-Afrikaners na die party te lok. Onthou jy nog hoe jou held Dr. Verwoerd die Engelssprekendes uitgenooi het om by die party aan te sluit?
Daar in die Oos Kaap waar julle familieplaas gesetel was was ’n grensgebied gewees, en reeds tydens die Hollandse periode het die administrasie van die Kaap trekboere verbied om so vêr Oos te trek, en grond te betree waar daar swart stamme woonagtig was. Die sg." lamsakkige, skelm" Afrikaners van die Kaap het net eenvoudig die wette van die Britse administrasie nagekom, en waarom sou hulle daardie wetsongehoorsame anargiste op die Oosgrens steun?
Die geskiedenis van kolonisasie in Suid-Afrika volg dieselfde patroon as die kolonisasie in ander dele van die wêreld, in Afrika, en in Noord-en Suid-Amerika, en die erfstuk is dieselfde in elke geval: die ontneming van grond van die inboorlinge.
Laastens, jy maak ’n groot fout as jy dink dat ek "julle afkraak". Dit is glad nie die bedoeling nie. Ondersoek gerus die feite van die saak, kom by die waarheid uit, en dit sal jou vry maak.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys