Titel: Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War
Redakteur: Ian van der Waag
Uitgewer: African Sun Media
eISBN: 9781928480914
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
........
Wanneer ’n boek verskyn oor die persoonlike belewenisse van soldate van die destydse Unieverdedigingsmag (UVM) tydens die Tweede Wêreldoorlog, is dit voorwaar ’n seldsame verskynsel. Indien die publikasie hierbenewens ook tegnies baie goed versorg is, die drukwerk (deur Africa Sun Media) puik gedoen is, die navorsing portuurgeëvalueerd is, dit grootliks gebaseer is op argivale bronne en uitgevoer is onder redakteurskap van die bekende militêre kenner en historikus Ian van der Waag, word die weg gebaan vir ’n bron wat op menige belangstellende leser se boekrak behoort te staan.
..........
Wanneer ’n boek verskyn oor die persoonlike belewenisse van soldate van die destydse Unieverdedigingsmag (UVM) tydens die Tweede Wêreldoorlog, is dit voorwaar ’n seldsame verskynsel. Indien die publikasie hierbenewens ook tegnies baie goed versorg is, die drukwerk (deur Africa Sun Media) puik gedoen is, die navorsing portuurgeëvalueerd is, dit grootliks gebaseer is op argivale bronne en uitgevoer is onder redakteurskap van die bekende militêre kenner en historikus Ian van der Waag, word die weg gebaan vir ’n bron wat op menige belangstellende leser se boekrak behoort te staan.
Die boek het sy oorsprong in ’n seminaar wat op 6 September 2019 op die Saldanha-kampus van die Universiteit Stellenbosch gehou is ter herdenking van Suid-Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog 80 jaar gelede.
Die inligting op grond waarvan die ervaringslewe van soldate asook mediese en ondersteuningspersoneel se blootstelling aan aktiewe oorlogsvoering in Afrika, Europa en Madagaskar beskryf word, is onder andere verkry uit persoonlike briewe, dagboeke, verslae en rekords wat deur die soldate self geskryf is. Hierdie metodologie herinner baie aan dié van Spiers (2010) wat in ’n ander konteks ook van die verhale van ooggetuies gebruik gemaak het. Sy boek handel oor Britse soldate wat die situasie aan die front beskryf gedurende die beleg van Ladysmith tydens die Anglo-Boereoorlog.
Sights, sounds, memories het as volume 3 in ’n reeks publikasies onder die sambreeltitel African Military Studies verskyn. Volume 2, In different times. The war for South Africa (redakteurs Ian van der Waag en Albert Grundlingh), is in 2019 gepubliseer. Volume 1, African military geosciences. Military history and the physical environment (redakteurs Jacques Bezuidenhout en Hennie Smit) is in 2018 bekendgestel.
Volgens van der Waag (2021) word beplan om volume 4 van African Military Studies, wat handel oor die belewenisse en ervarings van Suid-Afrikaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog, binnekort te publiseer.
’n Buitestander (soos wat ek self is) sonder persoonlike ervaring van en blootstelling aan militêre veldslae en/of oorlogvoering moet versigtig te werk gaan wanneer kommentaar en indrukke oor gespesialiseerde militêre publikasies gelewer word. Hierdie lesersindruk is dus in die eerste plek gerig op lesers uit die algemene publiek, en is nie bedoel vir professionele soldate, oorlogsveterane of militêre historici nie. My opmerkings moet dus teen hierdie agtergrond vertolk word.
Akkuraatheid van persoonlike dokumente
.......
In hoofstuk 1 fokus Van der Waag op die voor- en nadele van gewone soldate op die slagveld se persoonlike narratiewe in die vorm van dagboeke, briewe, herinneringe en outobiografieë as metodes van inligtinginsameling om die soldate se persoonlike belewenisse te boekstaaf.
........
In hoofstuk 1 fokus Van der Waag op die voor- en nadele van gewone soldate op die slagveld se persoonlike narratiewe in die vorm van dagboeke, briewe, herinneringe en outobiografieë as metodes van inligtinginsameling om die soldate se persoonlike belewenisse te boekstaaf.
Volgens Van der Waag is die onder-na-bo-metode veral nuttig om die humanitêre aspekte (maw wat presies op die slagveld ervaar word) uit te lig. Die individuele stemme van menige UVM-soldaat is destyds ongelukkig onderdruk deur die praktyk van sensorskap van inligting tydens die oorlog, deur die gebrek aan simpatie van die nuwe Nasionale Party-regering wat vanaf 1948 aan bewind was, asook die wyer internasionale marginalisering van die UVM se oorlogspoging.
Sommige soldate het ook verkies om na demobilisasie nie te praat oor hul ervarings aan die front nie. Dit mag wees dat doelbewuste rasionele besluite vooraf hieroor geneem is, of dat verdedigingsmeganismes soos repressie, ontkenning of sublimasie ’n rol sou kon gespeel het in die soldate se gedrag.
Indien persoonlike dokumentasie as bronne van inligting gebruik word om gevolgtrekkings te maak oor die belewenisse van soldate tydens ’n oorlogsituasie, ontstaan verskeie metodologiese kwessies. Die inhoudsgeldigheid van die dokumentasie kan byvoorbeeld in die gedrang kom. Is die dokument(e) ’n presiese weergawe van wat in die praktyk of die bepaalde domein gebeur het? Indien enige twyfel bestaan oor die akkuraatheid van die dokumentasie, kan die inhoudsgeldigheid bevraagteken word, wat beteken dat ’n bron nie as ’n akkurate weerspieëling van die gebeurtenis(se) beskou kan word nie.
Die betroubaarheid van verslagdoening word ook bepaal deur die mate van ooreenstemming tussen die rapportering van twee of meer waarnemers oor ’n bepaalde situasie, gebeurtenis of voorval. Hierdie standaard van meting staan as interbeoordelaarsbetroubaarheid (of interwaarnemersbetroubaarheid in hierdie spesifieke konteks) bekend. Perseptuele verskille wat gebaseer is op vorige kennis en ervaring, persoonlikheidsverskille, houdings, verwagtings en doelstellings asook geloofsoortuigings en emosies veroorsaak dat sekere dinge die aandag trek en ander uitgesluit word. Die resultaat hiervan is dat dieselfde gebeurtenis verskillend deur twee of meer waarnemers geïnterpreteer kan word. Gevolglik word die interwaarnemersbetroubaarheid van die gegewens verlaag.
Spiers (2010:173) sluit hierby aan: “Briewe is dikwels selektief, dit beklemtoon huidige aktiwiteit en kan selfs as verskonings vir soldate se terugval (reverse) of krygsgevangeneming dien. Briefskrywers is geneig om gebeurtenisse te teleskopeer (met ander woorde te fokus op die finale fases van gebeurtenisse, terwyl omstandighede gedurende die eindfase met die aanvangsfase na regte gebalanseer behoort te word). Oordrywing van getalle, gevolge en gebeurtenisse kan ook in hierdie tipe dokumente voorkom.”
Van der Waag beklemtoon gevolglik dat persoonlike rapportering deur soldate nie op sigself as alleenstande inligting vir militêre geskiedskrywing gebruik kan word nie. Historici maak sover as moontlik gebruik van ʼn breë spektrum bronne om sodoende ʼn betroubare en geldige vertolking van die “ewig ontwykende” historiese waarheid beskikbaar te stel.
Temas en hoofstukke
In hoofstuk 2 bespreek Carl Punt die wel en wee van die Lugg-gesin wat twee van hul vier seuns (wat almal vrywillig vir militêre diens aangemeld het) aan die dood moes afstaan. Cyril Lugg is in ’n vliegtuigongeluk in Soedan oorlede, terwyl Harry as vlieënier oor die Middellandse See afgeskiet is. Die ander twee seuns – Eric (wat krygsgevange geneem is) en John – het ná demobilisasie op wonderbaarlike wyse weer veilig na Suid-Afrika teruggekeer.
Hoofstuk 3 handel oor die militêre hospitale in die Midde-Ooste gedurende die oorlog. Karen Horn beklemtoon dat die aanpassing in totaal nuwe omgewingstoestande geweldig uitdagend was en vernuwing, asook ’n goeie humorsin, noodsaaklik was vir oorlewing en om die siekes, gewondes en dooies doeltreffend te hanteer.
Bladsye 80–81 bevat interessante inligting oor psigiatriese-gevalle-werk en die gepaardgaande diagnose, “not yet diagnosed functional”, wat onder sulke omstandighede gemaak is.
Dit is nie alombekend dat die Unie-troepe by die ontsetting van Madagaskar betrokke was nie. In hoostuk 4 vra Evert Kleinhans of hierdie gebeurtenis dalk eerder as ’n “langdurige piekniek” beskou moet word, veral nadat die manskap Bintliff se persoonlike korrespondensie ontleed is.
Die ontplooiing van die Sesde Gepantserde Divisie in Italië en die rol van Eric Axelson, wie se komplekse opdrag dit was om hierdie geskiedenis behoorlik te boekstaaf, kom hierna aan die beurt.
In hoofstuk 6 verduidelik Frankie Monama waarom kolonel Ernst Malherbe, hoof van die destydse UVM-opleidingsdiens, se programme met die fokus op moreelbevordering van die UVM-soldate oor die algemeen onsuksesvol was.
In die volgende hoofstukke word onderskeidelik die rol van die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps, die belewenisse van geïnterneerde korpslede, asook die rol en impak van vroue in die UVM se oorlogspoging bespreek.
Die laaste twee hoofstukke handel onderskeidelik oor vrywilligers in die UVM, en oor die na-oorlogse ervarings en strewes van soldate wat na demobilisasie na Suid-Afrika teruggekeer het.
Enkele verdere opmerkings
- Die samevattende gevolgtrekkings aan die einde van elke hoofstuk is veral nuttig om ’n vinnige oorsig oor die boek in sy geheel te kry.
- Die akademiese besonderhede van die skrywers word in die vorm van ’n bylae aangebied, asook die besonderhede van 53 gepubliseerde persoonlike narratiewe oor die oorlog.
- ’n Register agter in die boek om die naslaan van persoonlike name, plekname en terme in die teks te vergemaklik, ontbreek ongelukkig in hierdie publikasie.
- ’n Resensent moet te alle tye daarteen waak om pedanties te wil wees, maar die hooftitel van die boek, Sights, sound, memories, sal vir sommige lesers dalk eienaardig voorkom. Hoekom word die rol van die reuk- en die tassintuig uitgesluit? Die reuke en smake van Kaïro byvoorbeeld, die geure van die woestyn en die dooies op die slagveld moes as intense prikkels in kombinasie met visuele en ouditiewe inligting sekerlik ook blywende indrukke op die geheuefunksies van menige soldaat gemaak het. Ook die tasruimtelike sensasies wat die greep van ’n aanvalsgeweer skep, die gevoel om aan die binnekant van die Sesde Gepantserde Divisie se tenks onder aktiewe vuur te sit, en die intense pynsensasie tydens verwonding sou bygevoeg kon gewees het. Die subopskrif van die boek is egter treffend en selfverduidelikend.
- ’n Verdere vraag ontstaan of die volgende teksgedeelde (hoofstuk 6, inteksverwysing nommer 35: Davie en Dubow) werklik ’n billike interpretasie van die gevolge van die Carnegieverslag is: “The Carnegie Report, which came out in 1932, became a reference point for ultra-nationalistic Afrikaners who exploited its findings to agitate for an ethno-exclusivist agenda in the 1930s, to the annoyance of Malherbe” (bl 186). ʼn Ander perspektief sou wees dat die Carnegie-verslag aangewend is om stappe te doen om die armblankevraagstuk in Suid-Afrika te hanteer. Die regering het daarna toepaslik op die Carnegie-verslag reageer deur die Departement van Volkswelsyn te stig.
- Ek is as leser in die duister gelaat of die inhoud van hoofstuk 6 gedeeltelik of geensins op die PhD-proefskrif (https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/86202) van Monama gebaseer is. Omdat ’n verwysing na die proefskrif met die titel “Wartime propaganda in the Union of South Africa, 1939–1945” nie in die bronnelys voorkom nie, word vir alle praktiese doeleindes aangeneem dat hoofstuk 6 en die proefskrif losstaande van mekaar is.
- Wat kon die persoonlike narratiewe van vrywilligers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Vloot, asook die verhale van soldate en vlieëniers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Lugmag gedurende 1939–45 behels het? Hoe sluit dit by die narratiewe van die grondmagte aan?
- Dit sou ook interessant wees om te bepaal hoeveel oorspronklike briewe en dokumente van psigiatriese ongevalle uit hierdie periode in die argiewe beskikbaar is, en wat die inhoud behels.
- ’n Relevante bykomende bron tot hoofstuk 10 (wat meer spesifiek oor demobilisasie en die na-oorlogse politieke bedrywighede van die soldate handel) is die werk van Greenbank (1995). Hierdie MA-verhandeling in geskiedenis (Universiteit van Kaapstad) handel oor ’n wye spektrum persepsies van 22 Tweede Wêreldoorlog-veterane met wie die navorser persoonlike onderhoude gevoer en hul response sistematies opgeteken het.
Samevattend
Sights, sounds, memories is ’n bron waarin die persoonlike belewenisse van Suid-Afrikaanse soldate aan die front tydens die Tweede Wêreldoorlog bespreek word. Dit is in die eerste plek ’n akademiese teks van hoogstaande gehalte, maar is beslis ook vir die algemene publiek toeganklik. Die boek word sterk aanbeveel.
Eindnotas
- Ian van der Waag (Fakulteit Krygskunde, US), Ina Botes (bibliotekaresse, Fakulteit Krygskunde, US) en Wikus van Zyl (publikasiebestuurder, Africa Sun Media) word bedank vir hul positiewe reaksies en hulp tydens my navrae oor die beskikbaarheid van Sights, sounds, memories, asook volume 1 en 2 van die African Military Studies-reeks.
- Wessel Pienaar word bedank vir sy waardevolle insette oor die hergebruik van akademiese teks.
Bronne geraadpleeg
Greenbank, K. 1995. “You chaps mustn’t worry when you come back”: Cape Town soldiers and aspects of the experience of war and demobilisation 1939–1953. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.
Spiers, E. 2010. Letters from Ladysmith. Johannesburg: Jonathan Ball.
Van der Waag, I. 2021. Persoonlike kommunikasie. 1 Mei.
Van der Waag, I (red). 2020. Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War. African Military Studies, Volume 3. Stellenbosch: African Sun Media.