'Sies Fennie vir oulaas

  • 0

Groter as lewensgroot. Groot en blink gesig. Destyds sou mense gesê het sy is vet. Vandag se polssny-generasie noem haar name soos Obese en ander lelike goete. ‘Sies Fennie was erg oorgewig.

Soos ek destyds al beduie het, het ek haar leer ken as die kok wat al swetende gekyk het lat die disse reg kook. Self die borde geskep het vir die wittes selfs lank na die nuwe era ingewy is. Tot sy, as ek reg onthou en ek beduie het, sy uitgevang is dat sy doer agter by die quarters wyn en paar biere verkoop het. Teen haar wins, logies. En toe beduie die Griek dat sy moet weg en ek het 'n vermoede die Griek wou bloot goedkoper arbeid bekom want 'Sies Fennie kon kook soos min mense lewend, dood of enige ander form of formaat.

En toe is 'Sies Fennie verban na die plakkerskamp. Gehug opgeslaan inderhaas en later opgegradeer na 'n deursnee drieslaapkamer-plakkershut. Met 'n baie groot voorkamer, logies, vir die manne wat 'n glas of twee van haar Zamalek wil proe want 'n Zamalek het bloot net anners geproe as dit deur 'Sies Fennie gegooi is.

Ek onthou hoe ek laas vir 'Sies Fennie gesien het en ek is spyt ek het net gestop en in my haastige verbygaan gesit en gesels: Want mens gesels nie met iemand as die ene sit en gelawe word deur jonge manne met kaal borste en ek wat in my goedkoop bakkie sit en arm innie son sit en brand nie. Ek onthou ek het haar gevra oor haar gesondheid en sy was so filosofies soos die eerste dag wat ek haar gesien het: Toe sy so staan-staan aangesukkel het om te kom hello se want haar enkels kon net nie die groot liggaam hanteer nie. Etters se dinge die deursnee enkels deesdae ... die feit dat sy al die pad aangestap het om te kom BOEK skoonmaak is bysaak. Want hoe anders as jy met die sout van hierdie aarde werk?

En toe kry ek vanoggend die tyding dat 'Sies Fennie dood is. Haar hart ... Die manne kom in en vra my net na SES en vra my of ek gehoor het en jy weet mos niemand kom in en sê: “Piet is dood” nie! Hulle kom altyd in en vra: “Het jy gehoor? 'Sies Fennie is dood?”
En my dag is opgefok. Want 'Sies Fennie was nou wel nie soos 'n moeder vir my nie maar sy kom meer as 'n leeftyd met my saam.

Ek huil, want jy kry deesdae so min van haar soort in hierdie wêreld. En ek huil nie omdat ek hartseer is nie maar omdat ek weet dat ons te min tyd vandag spandeer aan diegene wat werklik vir ons saak maak.

Ek verkies om jou te onthou soos ek jou die heel eerste dag gesien het toe ek jou gesien aansukkel het hiernatoe. Toe ek nog 'n halfmak bobbejaan (jou woorde) was. En jou nie genoeg respek betoon het om jou te loop aanhaal hettie.

Ek gaan jou mis, 'Sies Fennie. Die feit dat jy baie diep spore in stilte in hierdie geweste getrap het mag dalk stilweg onder die wittes verbygaan. Ek beskou jou steeds as een van my ultimate heros. Al moes jy dit dalk net soms in een van my briefies gelees het.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top