Siembamba

  • 0

Foto: Canva

Siembamba 

Siembamba, mamma se kindjie ...

Die woorde wil vanself uit tannie Potgieter se gapende mond kom terwyl sy met haar bewende kennetjie in die kerkbank sit. Mavis kan dit amper hoor.

“Prys die Heer met blye galme ...” Die psalm- en gesangeboek weeg swaar in Mavis se hande. Hoeveel verraaiers sit nie vandag onder hierdie kerk se dak nie? Dit kan slegs by ’n begrafnis gebeur – hier in Adderfontein, waar die adders tussen die klipkoppies skuil. Wat sou Sarina van hierdie Judas-vergadering gedink het?

Klop-klop. Dominee tik met sy halfleë waterglas teen die kansel. Die laaste note van die gesang volg nog die kronkelgang van die loodglasvensters opwaarts wanneer hy kug: “Geliefdes, ons vergader vandag hier om die lewe van Sarina du Preez te vier ...” Hy skuif sy dikraambril hoër op sy neus. “Vandag is voorwaar ’n swaar dag. Sarina was soos ’n kind in elkeen van ons se huise ...”

Cliché! wil Mavis uitroep, maar sy byt op haar onderlip. Siembamba, mamma se kindjie ... Ja, dalk wás Sarina aan die begin almal se kind. ’n Mens is mos geneig om die eer vir ’n ander se prestasies in te palm, asof jy self daaraan deel gehad het.

Mavis onthou nog die dag toe Sarina as Dux aangewys is. Skielik was tannie Potgieter méér as net die vroedvrou wat gehelp het om haar die wêreld in te bring. Juffrou Pieta was méér as net die onderwyseres wat haar die alfabet geleer het. En Dominee? Hy was méér as net die man wat Sondag na Sondag vanaf die kansel gepreek het. Ja-nee, ’n spogkind is almal se kind – solank sy presteer.

Juffrou Pieta waai met haar kantsakdoekie voor haar gesig. Haar man beduie vir een van die dogters om die vlugsout uit haar handsak te haal.

“Broeders en susters, om van ’n geliefde afskeid te neem is nooit maklik nie. Maar onthou – almal is net aan ons geleen ...”

Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om ...

Nou beweeg ons nader aan die waarheid, dink Mavis. Geleende goed gee ’n mens terug. Of gooi weg wanneer dit nie meer van nut is nie. Wanneer die stof van die lewe daarop aangepak het. Net soos wat die adders van Adderfontein met Sarina gemaak het.

Juffrou Pieta sit nou kiertsregop op die kerkbank, haar rug snaarstyf. As sy net haar vingerpunte sou laat sak, sou sy die kougom onder die blink gepolitoerde hout voel. Die handvol kinders wat nog in hierdie stofstrate deurslof, het nog nooit vlerkies gehad nie – al glo die klipgesig-mense dit graag.

Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot ...

“Ek sou ook so bleek gewees het as ek ’n moordenaar was, Juffrou Pieta,” fluister Mavis hardop.

Dominee dep die sweet op sy voorkop met ’n verbleikte strepiesakdoek. “Broe-eee-ders en sus-sss-ters ...” rek hy die woorde met ’n temerige stem. “Nadat haar moeder oorlede is, het Sarina wel verander. Maar ons het haar steeds liefgehad soos ons eie.”

Leuens! wil Mavis skree, maar haar tong kleef droog teen haar verhemelte.

“Ek moes jou daardie dag toe jy boude-eerste uitgeklim het, dadelik nek omgedraai het.” Tannie Potgieter se woorde eggo nog in Mavis se kop – Sarina het die gesprek woord vir woord oorvertel, haar gesig stroef van die seer.

“Ag Mavis, hoe kan ’n mens keer vir wie jy liefkry?” Sarina se grys oë het pers geskyn van die trane. “Hulle sê dis teennatuurlik, maar wat weet húlle van liefde?”

Mavis het net sag haar hand op Sarina se kop neergesit, haar vingers deur die lang lokke laat gly – dieselfde gebaar wat sy al duisend keer tevore in die geheim gedoen het. Maar dit was te laat vir troos. Adderfontein het reeds hul spogkind in die slangekuil gegooi, omdat sy die verkeerde een liefgehad het.

Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan is hy dood ...

Dominee neem ’n groot sluk water, spoel dit rond in sy mond. “Laat ons afsluit met Gesang 287 ...” Hy knik na die orrelis met haar rumatiekhande.

Ja, dis maklik om af te sluit nadat jy klaar iemand doodgetrap het. Die kerk wat eens Sarina se veilige hawe was, het die bek van die slang geword wat haar ingesluk het.

“Jy is onder sensuur!” het Dominee se stem deur die konsistoriekamer gedonder. “Onnatuurlike dade ... ’n gruwel in die oë van die Here!” Die diakens het net geknik, hulle oë afgewend – almal behalwe ou oom Frik wat slinks na Mavis geloer het, asof hy geweet het.

“Ai, Sarina ...” was al wat Mavis kon sê toe sy haar daardie laaste aand vasgehou het.

***

Die diens is skaars verby of Mavis druk verby die tros adders by die kerkdeur. Sy het niks lus vir die gefluister om die teetafel waar hertzogkoekies en koeksisters die bitter waarheid moet versoet nie. Sy het haar belofte aan Sarina nagekom – sy was hier. Maar nou is dit tyd om die stof van Adderfontein van haar voete af te skud.

“Kom!” roep sy toe sy met skreeuende bande voor die ou bendehuis tot stilstand kom. Gelukkig weet net sy, Sarina en Sampie van hierdie wegkruipplek – waar sy en Sarina kon wees wie hulle is, weg van veroordelende oë.

“Sampie, jou ou skelm!” lag sy bitter terwyl sy die radio harder draai. “Jy het hulle mooi om die bos gelei met daardie verbrande lyk. Mag hulle vir ewig skuldig voel. Sarina het haarself op húlle brandstapel geplaas.”

Die musiek dreun deur die kar se luidsprekers:

Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot ... Môre dink jy hy is dood ...

Maar môre is Sarina nie meer dood nie. Môre leef sy – en môre sal hulle saam wees, ver van Adderfontein se giftige byt. Ver van die adders wat nie kan verstaan dat liefde geen grense ken nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top