Titel: Sielskos – Stories oor verlange en hoop
Skrywer: Koos van der Merwe
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320995
’n Predikant preek. Reg?
Nie in hierdie geval nie. Koos van der Merwe se Sielskos is ’n keur van dié prediker se beste skryfsels uit Sarie se Laaste sê-rubrieke. Die strekking is geestelik, maar die aanbod glad nie uit die hoogte of pienkboekerig nie.
Die gewone mens met sy soeke na hoop en sy behoefte aan sin maak, staan sentraal.
Van die temas waaroor Van der Merwe skryf sluit pa-wees, grootword, ongeduld, armoede en aftrede in. Die liefde — tussen jongmense, ouer mense, ouer en kind en mens en dier — word opnuut in oënskou geneem. Visvang/hengelrubrieke, asook ander oor alledaagshede soos Marmite-toebroodjies, tweepuntproppe, elke huis se deurmekaarlaai en verkoue kom voor.
Dis egter die stories oor gewone mense wat die gemoed raak. “Meer as bloedskenk” handel byvoorbeeld oor ’n seuntjie wat vir sy babasussie bloed moes skenk. Omdat dié ware verhaal (en soortgelykes) so na aan die been sny, word skuilname dikwels ingespan.
Van der Merwe is nie net ’n prediker en gospelsanger nie, hy skryf al jare lank. Sielskos verkwik die sintuie. Taal word vernuftig aangewend. Só vertel die skrywer dat hy op ’n Sondagoggend vroeg “teen die spoed van toewyding” kerk toe ry. Die moeilike “mevrou Rottermeier” kan weer vir jou kyk “tot elke onbetaalde rekening van jou oupagrootjie deur jou skuldige aangesig verklap word”. Pleks van sy familiestamboom uit te lê, vertel Van der Merwe eerder dat daar in sy bloedlyn “doedelsakke en whiskey, kaas en tulpe, lederhosen en blutwurst” lê. En só klink sy siening van preek: “. . . preke kom nie altyd van kansels af nie. Preke hang in wolke, vlieg in die lug rond saam met skoenlappers en seemeeue, skuil in koffiewinkels, droë winterbome en op vaal vlaktes . . .”
Wat sy sangloopbaan betref, is die skrywer veral bekend vir sy Afrikaanse vertalings en sing van Leonard Cohen- en Bob Dylan-liedjies. Dit is dus nie verbasend dat Van der Merwe se skryfwerk ’n besondere ritme, oftewel musikaliteit het nie. Die rubrieke lees doodgewoon lekker. Nie dat Sielskos ligsinnig is nie. Allermins. Jy kan die “lewenslesse” saam vorentoe dra. Soos hierdie een: “’n Mens wat regtig lewe, voluit lewe, sien die wonder van dinge en mense rondom hom raak. Hy ontvang van die lewe die mildelikheid wat hy self daaroor uitstrooi.”
Jenna-Lee wat “by ’n einde gekom het”, is een van die “gewone” mense oor wie Van der Merwe skryf. Dié ontnugterde jong vrou sit op haar verjaardagnag op ’n trap en huil. Siena en Soon se verhaal sou weer beter of slegter kon geëindig het, reken die skrywer. Die werklike einde daarvan is onbekend. Daarteenoor staan Bernhard Verwey, ’n man wat nie die einde van sy skatte geken het nie. Maar, soos met Van der Merwe se ander “karakters”, ontwikkel Verwey geestelik binne die bestek van ’n enkele rubriek. Dit wil gedoen wees.
Sielskos sluit verhale oor bekende mense in. Die pad wat die sanger Elvis Blue gestap het, inspireer, terwyl die rubriek oor die aktrise Wilna Snyman pleinweg mooi is. Hierdie aanhaling kon nie méér gepas wees nie: “Ek kon sien sy (Snyman) reis saam met my na landskappe van die siel.”
Aanhalings deur groot geeste soos Margot Fonteyn en CS Lewis dien soms as wegspringplek vir ’n rubriek. Fonteyn, wat ’n prima ballerina was, is gevra om ’n intense dans te verduidelik, skryf Van der Merwe. Haar antwoord: “As ek dit kon verduidelik het, sou ek dit nie gedans het nie.” Lewis, oorlede Britse skrywer, het weer gesê dat van die heiligste klanke op aarde die gelag van vriende is.
Van lag gepraat, die skrywer het ’n guitige humorsin. Daar is die ouma om wie kinders draai “asof sy ’n nuwe Lord of The Rings-fliek is”. Die rubriek oor die “godin” wat vir Van der Merwe aarde toe gebring het, is vrek snaaks. So ook die een oor sy oorlog in die waskamer. Absurd-snaaks is weer die vertelling oor die skoenlapper wat met ’n beeldskone papierweergawe van homself paar.
Die Sielskos-rubrieke is goed gestruktureer. Hier en daar spel ’n slot of slotsin dit wat opvallend is uit, soos: “Mag ons met die waarheid wandel, maar nooit net met die waarheid nie.” Ander kere is die skrywer ietwat voorskriftelik. Byvoorbeeld: “Sien die skoonheid en waarde om jou raak” en “Tel hierdie dag en laat hom tel”.
Enkele kere praat Van der Merwe namens die leser. Soos hier: “Ons almal soek na daardie lens waardeur ons mooi kan wees.” Dit laat ’n mens met die vraag: Is skoonheid, ook van gees, vir almal ewe belangrik?
Soms strek ’n rubriek by sy einde verby. “Tien-vier, tien-vier, Nagadder” (wat oor burgerbandradio’s en die wonder van tegnologie handel) kon net ná die tweede laaste paragraaf geëindig het met “Almal wil hê Iemand moet hoor”, pleks van “Daar is Iemand wat hoor. Sonder ’n rekenaar of ’n selfoon. Jy het net die tegnologie van die hart nodig. Praat maar. Hy luister.” Die slotsin van “Dis ons en ook ek” en “Twee stemme” is eweneens oorbodig, maar wat ’n treffende wending neem laasgenoemde rubriek nie!
’n Voorbeeld van ’n slotsin wat goed werk, is dié een: “Koop vir jou stories. Koop vir jou geluk. Dis verniet. Maar baie duur.”
Ellipse kom soms onnodig voor. Ander kere word byvoeglike naamwoorde opeengestapel, soos hier: “En terwyl jy wag voor haar pynlik netjiese toonbank wat soos ’n stil wrede waghond onder haar benerige hande gereed is om die pynlike vonnis van jou verdiende verdoemenis te voltrek, voel jy dat haar alwyse oordeel sekerlik onaanvegbaar korrek moet wees.”
Sommige woorde, waaronder “die vrouegeslag”, “skoner geslag” en “laerskooljuffrouens”, is ietwat outyds. “Akklamasie” is weer te formeel vir die konteks en bepaalde leser, terwyl die rubriek oor motorkoop seksisties is. Dié aanhaling is ’n voorbeeld: “En vir vrouelesers wat daardie opwinding (‘karkoop’) nog nie verstaan nie, glo maar net: dis ’n koors onder die mansgeslag waarvoor daar nog nie ’n medisyne ontdek is nie.” Asof vroue nie hul eie motors (kan) koop nie!
Die woord “sonbruin” sou dalk “songebrand” in hierdie sin kon vervang: “Sy veertigjarige lyf is songebrand, gespierd.”
Enkele rubriektitels soos “Grond”, “Verlang”, “Dogtertjies word vroue” en “’n Ou verhaal” is ietwat verbeeldingloos, terwyl ander wél die leeslus aanwakker. Prikkelende titels sluit in: “Afrikaans sê dit nie so goed nie”, “Om onderdeur die maan te loop – met of sonder jou suikerbossie”, “Die gevreesde drieletterwoord”, “Daar was ’n Elvis in Jan” en “Gaan speel met ’n krokodil en word wys”. Hier en daar is ’n titel te lank. “Fortuine, oudste broers en skatte langs Portugese damme” is ’n voorbeeld.
Enkele van Van der Merwe se gedigte (wat by die verskillende temas aansluit) is ook in die bundel opgeneem. Toeganklik is hulle wel, maar nie almal ewe geslaagd nie.
Die skrywer kán egter spanning skep. Wanneer ’n rubriek aan ’n spesifieke woord gewy word, bly jy nuuskierig — tot en met die aha!-oomblik wanneer jy weet watter een so sappig bespreek word.
Ten spyte van dit wat beter kón, is Sielskos beslis die lees werd. Dis inderdaad voedsel vir die innerlike.