![]() |
|
Bron: flickr.com
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Bekende Suid-Afrikaanse renperd met die vreemd-interessante naam Shooting Party het op 27 September 1990 tydens 'n wedren 'n fraktuur van sy regtervoorbeen opgedoen wat uiteindelik tot sy dood gelei het.
Of het dit?
Dit was die vraag waaroor die hoogste hof van appèl – kortweg sommer “die appèlhof” – uiteindelik beslis het.
Dit het so gekom: Shooting Party is deur Lloyds van Londen vir 'n aardige bedrag verseker. Die polis het bepaal dat die renperd se eienaars vergoed sou word as die dier as gevolg van 'n ongeluk sou sterf.
Na sy ongeluk in September 1990 wou Shooting Party maar net die regkom nie. In Julie die volgende jaar het die diere-artse by Onderstepoort wat hom behandel het, tot die gevolgtrekking gekom dat hy aan 'n ernstige degeneratiewe siekte in sy regterkniegewrig ly wat 'n direkte gevolg van die ongeluk was. Party dokters het gemeen dat sy lyding beëindig moes word, maar ander wou hom nog 'n kans gee om te herstel, hoewel hy nooit weer aan wedrenne sou kon deelneem nie. Hy had immers 'n uitstekende bloedlyn en dalk sou hy nog vir teeldoeleindes gebruik kon word.
Hierdie geskil tussen die dokters was nie sonder betekenis nie, want die versekeringspolis het ook bepaal dat indien die versekerde dier na 'n besering van kant gemaak moes word, die toestemming van die versekeringsmaatskappy eers verkry moes word. Eers nadat húlle hul toestemming verleen het – en daarin sou hulle hul deur kundiges laat lei – sou die versekeringsgeld uitbetaal word.
Omdat daar nie eenstemmigheid onder die diere-artse was nie, het hulle besluit om die perd se knie onder narkose te ondersoek. Terwyl die operasie aan die gang was, het sy hart gaan staan.
Shooting Party se eienaars het daarna 'n eis teen die versekeraars ingestel, want, het hulle aangevoer, sy dood was die gevolg van die ongeluk waarin hy beseer is. Die Witwatersrandse hooggeregshof het ten gunste van die eienaars beslis, en daarteen het die versekeraars na die appèlhof geappelleer.
Die enigste vraag waaroor die vyf appèlregters moes beslis was of Shooting Party gesterf het vanweë die beserings wat hy in die wedren opgedoen het.1 Die deftige naam vir hierdie vraagstuk is die kousaliteitsleerstuk.
Die hof het toegegee dat as daar suiwer vanuit die oogpunt van oorsaak en gevolg na die vraag gekyk word, die antwoord "ja" moet wees. Per slot van rekening: as die perd nie in die ongeluk beseer was nie, sou daar nie 'n geskil oor sy toestand ontstaan het nie, sou hy nie die operasie ondergaan het nie, sou hy nie narkose ontvang het nie, en sou sy hart nie gaan staan het nie.
Maar so eenvoudig is dit nie. Shooting Party se eienaars moes bewys dat sy dood regtens deur die ongeluk veroorsaak is. Om dit te bepaal was die appèlhof van mening dat hulle ondersoek by die oomblik van die perd se dood moes begin. Daarvandaan moes teruggewerk word. Só gesien, is sy dood veroorsaak deurdat sy hart gaan staan het. Dit is veroorsaak deur die narkose wat hom 'n paar minute vantevore toegedien is. Die narkose was nodig vir die ondersoek aan sy knie, en dit was weer nodig omdat daar 'n geskil oor sy toestand bestaan het onder die dokters wat hom behandel het. Die ongeluk, het die hof beslis, was in sigself nie noodlottig nie, want voor die operasie was daar geen sprake dat Shooting Party se lewe in gevaar was nie. Gevolglik het die hof beslis dat daar slegs 'n indirekte verband was tussen die ongeluk en die arme perd se dood. Die direkte oorsaak was die narkose wat hom toegedien is ten einde die geskil tussen die dokters te besleg of hulle die versekeraars se toestemming moes verkry om genadedood op Shooting Party toe te pas. Gevolglik was die appèlhof van mening dat die perd se dood nie, soos in die polis vereis is, deur 'n ongeluk veroorsaak is nie, en het daar geen plig op die versekeraars gerus om uit te betaal nie.
Nou ja, oor hierdie beslissing sal daar seker uiteenlopende menings onder LitNetters wees. Party van julle sal voel dat dit darem ’n erg onbuigsame, onverbiddelike toepassing is van die kousaliteitsleerstuk wat ’n uiters onbillike uitkoms tot gevolg het. Ander sal stellig met die geleerde appèlregters saamstem.
In Oliver Twist – Charles Dickens se onvergeetlike roman wat gedurende die jaar van die Groot Trek, 1838, die lig gesien het – vertel iemand vir die karakter Mr Bumble: "[T]he law supposes that your wife acts under your direction." Waarop Bumble antwoord: "[I]f the law supposes that ... the law is a [sic] ass – a idiot.” Daardie uitdrukking – dat die reg so dom soos ’n esel is – het bly vassteek. Siniese LitNetters (soos ek, ná die lees van die Shooting Party-uitspraak) sal wil sê: soms is die reg so dom soos ’n renperd se swak hart; of so iets ...
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


