"Shelby Benade" deur Willie Louw

  • 0

Shelby Benade

Shelby Benade rook net Dunhill Lights
Shelby Benade verloor al haar fights
As sy al haar trane kon opgaar sou sy in ’n oseaan lewe
’n See sonder ’n strand, net water
Die lewe beweeg te vinnig vir Shelby Benade
’n Klipgooi van alles af
Maar vasgekeer in ’n glashuis
Elke oggend gaan sy draf
Maar sy kom nêrens, die kettings is te styf
En sy sal nooit wegkom nie
Soos ’n saad wat nooit sal blom nie
Shelby Benade sit vas

O waar was liefde dan? Wie was daar vir haar?

Shelby Benade het lang, reguit, blonde hare
Shelby Benade het lang, rooi merke in lyn met haar are
En al is Shelby Benade se oë al deur trane verniel
Is hulle nog steeds blou as hulle vir haar terugkyk in die spieël
En Shelby Benade het trane in haar glimlag
Shelby Benade is bang dat mense vir haar sal lag
Sy hou al haar gevoelens binne
Dit is tog haar eie
Soms laat blyk sy die waarheid in een van haar sinne
Of in ’n prentjie wat sy in haar wiskundeboek teken
Shelby Benade wonder wat sy vir die wêreld beteken

O waar was liefde dan? Wie was daar vir haar?

Shelby Benade is ’n beeldskone meisie
Shelby Benade weet nie wie sy is nie
Sy is verlore in gedagtes
Sy is die son wat die nag mis
Al is die lewe altyd deurmekaar
Shelby Benade het dit al lankal aanvaar
Sy weet dat sy nooit sal verstaan nie
Maar sy bly Shelby Benade
Shelby Benade bestaan nie
Shelby Benade is jy


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top