
Bonita Bennett (toenmalige uitvoerende hoof van die Distrik Ses-museum), Bonnie Currie-Gamwo (Spesiale direkteur van openbare vervolging: Eenheid vir seksuele misdrywe en gemeenskapsake), Zeenat Patel-Kaskar (Uitvoerende hoof van die Distrik Ses-museum), Marlene le Roux, Carin Bester (kunstenaar) en, agter, Nancy Richards (medestigter van Woman Zone)
*
Vroue behoort aan die voorpunt van sosiale verandering te wees en die gereedskap gegee te word om verandering teweeg te bring. As ’n vrou met ’n liggaamlike gestremdheid aan die stuur van een van Kaapstad se mees ikoniese instellings, is ek deeglik bewus van die talle uitdagings wat steeds so baie van my mede-vroulike landgenote kniehalter. Met die korrekte gereedskap en voldoende menslike hulpbronne vir my daaglikse take in plek, voel ek genoodsaak, in samewerking met my kollegas by die Kunstekaap en vertroude belanghebbendes en vennote, om sonder voorbehoud voort te strewe na gelykheid, gelyke beregtiging en menslikheid vir alle vroue, veral die kwesbaarste in ons midde, mense wat steeds daagliks gebuk gaan onder erge geslagsgebaseerde geweld (GBV), selfs al nader ons die 29ste Vrouemaand van ons dertigjarige demokrasie.
Vir die 17de Artscape Women’s Humanity Arts Festival, in samewerking met Woman Zone, is ons oproep sterker as ooit tevore vir almal om op te ruk vir verandering en GBV te beveg – die tema vir vanjaar se fees – wat elke landsburger uitdaag om ons regering aanspreeklik te hou vir sterk wette teen GBV, maar wat steeds versuim om die gety om te draai en ons vroue en kinders te beskerm. Die Wetsontwerp op Nasionale Raad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord wat pres Cyril Ramaphosa in Mei vanjaar onderteken het, is ’n waagmoedige teken van die regering se voorneme om saam met die burgerlike samelewing, plaaslike gemeenskappe en ander sektore te werk om GBV en vrouemoord te beëindig. Die wetsontwerp bepaal dat meer Thuthuzela-sorgsentrums en nuwe howe vir seksuele misdrywe en slagoffervriendelike kamers by byna alle polisiestasies regoor die land gevestig word om die reaksie van die strafregstelsel op GBV te versterk. Die grootste uitdaging vir ons almal is egter om te verhoed dat GBV in die eerste plek gebeur.
In ’n poging om daadwerklike verandering te bewerkstellig en meer menslikheid na ons geteisterde samelewing terug te bring, is die Kunstekaap daartoe verbind om die sterk en regverdige waardes van Suid-Afrika se Grondwet te bevorder en uit te leef. In die lig van die nie net voortdurende nie, maar toenemende statistieke oor geslagsgeweld, poog ons elke jaar by ons Women’s Humanity Festival om mense van uiteenlopende agtergronde bymekaar te bring om sodoende bewustheid te verhoog en maniere te vind om op te tree teen GBV en dit te probeer uitroei. Vanjaar het ons ’n praktiese aksie waarin ons almal ’n rol kan speel, naamlik ’n oproep om op te staan vir verandering waardeur ons al ons ondersteuners nooi om ons hande te vat deur die #Step-Up for Change Pledge te kom onderteken. Ons innige wens is om hierdie handtekeninge en boodskappe na die hoogste gesag te neem, insluitend die Verenigde Nasies se Universele Periodieke Oorsig van ons land se menseregterekord, as ’n poging om ons regering tot verantwoording te roep en GBV te help uitroei.
Ons artistieke program vir vanjaar se Women’s Humanity Festival beklemtoon dus doelbewus die #Step-Up for Change-tema. Dit sluit in ’n installasie oor geslagsgeweld en vrouemoord deur Carin Bester genaamd She had a name 365, wat die naakte waarheid van die onaanvaarbare hoë statistieke van GBV beklemtoon, maar bowenal, die fisieke bestaan van elke vermoorde vrou as ’n persoon erken en ons dwing om nie slegs teen die syfers op statistiese misdaadblaaie vas te kyk nie, maar dít wat die statistieke verteenwoordig as werklike mense raak te sien en te erken. The battered housewives’ club deur Zubayr Charles is ’n toneelstuk oor GBV en mishandeling en die uitwerking wat GBV op vroue as sodanig het, en die 1000 Women Meeting Against GBV and Femicide herinner ons daaraan dat ons nie kan stilbly oor hierdie plaag nie, dat ons woorde in aksies moet omskep en ons self verandering moet vergestalt.
’n Vrou wat aan die voorpunt van sosiale verandering was en wat ons vanjaar as ons feesikoon vier, is wyle Blanche la Guma, vrou van die literêre reus en ’n aangeklaagde in die hoogverraadverhoor van 1956, Alex la Guma, wat gemartel, verban en wêreldwyd gevier is. In 1957 het Blanche la Guma, ’n verpleegster van beroep, 300 verpleegsters gemobiliseer teen die onderdrukkende Verpleegsterswet no 69 van 1957, wat 90 dae in eensame aanhouding deurgebring het en daarna verban is. Sy het in ballingskap saam met haar man in die Verenigde Koninkryk en later in Kuba gewoon, en het aanhou veg vir gelykheid, geregtigheid en menslikheid, tot haar dood op 95 ’n jaar gelede. Dance of the La Gumas deur Sylvia Vollenhoven en Basil Appollis bring hulde aan haar lewenslange verbintenis tot die stryd van vroue, waaroor jy ook kan lees in haar eie memoir In the dark with my dress on fire. Nog ’n sterk vrou wat ons vanjaar erken, is die struggle-veteraan, skrywer en voormalige geslagskommissaris Gertrude Fester, wat die hoofrede by ons jaarlikse Humanity Walk op Nasionale Vrouedag sal lewer.

Artscape se uitvoerende personeel: Toberin Meyer, Lungisani Nkomo, Vernon van der Linde, Marlene le Roux, Marius Golding, Manuel Benans en Simone Heradien
Ons nooi almal uit om by vanjaar se Women’s Humanity Festival tydens Vrouemaand by ons aan te sluit in ons strewe om op te staan vir verandering en GBV te beëindig, deur enige tyd gedurende Augustus Kunstekaap toe te kom om die #Step-Up for Change Pledge te onderteken. Saam kan ons ’n beter wêreld vir alle Suid-Afrikaners skep, saam kan ons die Universele Verklaring van Menseregte handhaaf wat onder meer die onvervreembare mensereg verdedig en help beskerm dat alle mense vry en gelyk in waardigheid en regte gebore word. Staan op vir verandering!
- Foto’s: Jeremeo le Cordeur