
Foto: Canva
Seun
Vrydag, 08:23. Anistemi-aftreeoord, Klerksdorp.
“Mariana, ek het nie geweet jy het ’n broer nie.” Lizette – 43, lank en skraal – druk die send-knoppie. Gaan by WhatsApp uit. Sit haar selfoon op die pot suiker neer en loer deur die kombuisdeur na oom Abrie Geldenhuys.
Wat gaan vandag met die ou siel aan? Hy sit met sy hande in sy skoot, sy rug kromgetrek. Hy staar al heeloggend by die sitkamervenster uit. Praat niks. Uhm en aha net.
Sy druk ’n haarlok agter haar oor in. Haar hare word skouerlengte geknip en gereeld bruin gekleur, veral om die wortels wat by die dag meer grys word. ’n Sug plof oor haar lippe: die lewe van ’n enkelma. Sy is so verwaarloos, as mans haar sien, wil hulle ’n kospakkie in haar hand druk, eerder as om haar uit te vat vir ete.
Sy haal twee bekers uit die kas bokant haar kop uit en sit dit langs mekaar neer. Albei bekers se ore wys na voor. Sy trek die boonste laai oop, haal een teelepel uit. Gebruik dit om drie lepels suiker in oom Abrie se koffie te gooi. En ’n bietjie vir liefde. Asook twee opgehoopte lepels poeiermelk. Yskasmelk maak sy koffie glo te koud. Vir haar: Geen suiker of melk nie. Sy is al klaar te dik.
Sy wag, arms gekruis. Hoekom het Mariana nog nooit van haar broer gepraat nie? Nie in ’n gesprek of op Facebook nie. Is hy in die tronk? ’n Moordenaar?
Die ketel borrel.
Sy druk die deksel plat. Die stoom bou op; die skakelaar skiet af. Sy wag totdat die borreling bedaar, voordat sy water ingooi. Nietemin brand die stoom haar arm. Sy ruk weg, vloek binnemonds. Sy roer albei bekers, druk die teelepel in haar mond voordat sy dit in die wasbak gooi.
Sy druk op die selfoon se skerm. ’n Rooi nommer een lê en wag in die WhatsApp-blokkie. Seker haar seun. Hy soek alewig snoepiegeld. Hopelik is dit Mariana, maar haar boodskap se dubbele regmerkies het nog nie blou verkleur nie.
O, wag, Mariana se settings is so gestel dat niemand kan sien of sy haar boodskappe gelees het nie. Gelukkig het haar seun haar geleer hoe om te kyk of iemand hulle boodskappe gelees het, al gebruik hulle die opsie.
Sy druk op haar boodskap; dit highlight. Daarna druk sy op die drie kolletjies, kies info. Delivered 08:23. Read 08:23.
Hoekom antwoord sy nie? Is sy skaam oor haar broer?
Lizette search in Google: gevaarlike misdadigers met die van Geldenhuys in Suid-Afrika.
Die eerste plasing gaan oor Micki Pistorius en die Killer-Cop Kobus Geldenhuys. Net onder dit gooi Wikipedia ’n lys uit van reeksmoordenaars. O, shit. Sê nou Mariana se broer is ’n reeksmoordenaar!
Sy druk die driehoek om by al die apps uit te gaan. Druk die selfoon in haar denim se gatsak, tel die bekers op en loop sitkamer toe. Sy wag totdat oom Abrie se rimpelhande die beker omvou, voordat sy langs hom op die rusbank gaan sit. Haar selfoon op die armleuning.
Hy sê niks, sy ook nie. Mens kan mos nie vir iemand vra hoe dit voel om ’n reeksmoordenaar as seun te hê nie.
Shit! Kry hy parool? Kom hy vandag huis toe? Het hy ontsnap?
Sy loer kort-kort na haar selfoon. Facebook notifications. Instagram. LinkedIn. Maar geen WhatsApp-boodskap nie.
Sy is besig om ’n beskuit in haar koffie te doop, toe haar selfoon skielik ping. Sag. Maar sy hop soos sy skrik. Laat val die beskuit in die beker. Koffie spat oor haar bloes.
Mariana: Wat sê my pa alles van my broer?
Lizette betrag hom. Drie stukkies toiletpapier op die wang verklap sy poging om vanoggend self te skeer. Hy ruik na naskeermiddel. Old Spice. Sterk, asof hy in dit gebad het. Sy klere muf, maar dit is duidelik die beste uit sy klerekas. Kerkklere, sonder die das.
Dit is die eerste keer sedert sy hom versorg, dat hy so netjies aangetrek het. Toe sy hom vanoggend sien, het sy gedink hy het ’n date met tannie Barbara. Die tannie dra vir hom koekies en beskuit aan, en Sondae ’n bord gekookte kos.
Hy sê egter niks. Sit net. En dit is die probleem. Hy het vanoggend gevra hoe laat sy seun kom, daarna het hy op die punt van die rusbank gaan sit. Hy het nie eens die klein radio op sy bedkassie aangeskakel nie. Gewoonlik luister hy eers na monitor op RSG, voordat sy dag begin.
In die twee jaar dat sy hom versorg, het hy vir haar die pa geword wat sy nooit gehad het nie. Hy het ’n vlymskerp sin vir humor, bak poetse en lag vir alles. ’n Regte hanswors. Al wat sy dag omkrap, is kerk en politiek.
As dit haar pa was, sou sy nooit Kanada toe emigreer het nie. In die twee jaar WhatsApp call Mariana hom gewoonlik net op Vadersdag, sy verjaarsdag en Kersfees. Meestal stuur sy net foto’s en stemboodskappe.
Lizette moet gereeld die foto’s vir hom delete. Al foto’s wat hy gehou het, is dié voor Mariana weg is.
“Ek wil nie op foto’s sien hoe my kleinkinders lyk nie; ek wil hulle voel. Julle kinders weet nie wat julle aan ’n oumenshart doen as julle oorsee fok nie,” betoog hy gereeld terwyl sy die foto’s uitwis. Asof dit haar skuld is dat Mariana groener weivelde gaan soek het.
Haar selfoon ping drie keer kort na mekaar.
ouboet is dood
1989
op die grens
’n Kaalvoet boodskap. Geen leestekens, hoofletters of punte nie.
Ping. Ping. ’n Foto en ’n naam: Ruan.
Ruan was ’n aantreklike man. Op die foto lyk hy nog nat agter die ore, agtien, dalk negentien. Lizette hou nie van mans in uniforms nie, maar bruin pas by hom. Laat sy blonde borselkop en blou oë uitstaan. Romanza-skrywers sou gedigte oor sy glimlag kon skryf.
Lizette skuif nader aan oom Abrie. Lê haar hand op sy arm.
“Oom, as jy oor Ruan wil praat, sal ek luister.” Haar stem is sag.
Sy oë glinster. “Is hy hier? Ek het geweet hy gaan terugkom.”
Hy probeer opstaan.
“Nee, oom. Hy is dood.”
Hy pruim sy lippe. Haal swaar asem. Trane kolk in die hoeke van sy oë. “Dood?”
“In 1989, oom. Op die Grens.”
Sy borskas dein op en af. Op en af. Sy asemhaling versnel.
“Dood? Op die Grens?” Hy kreukel sy sakdoek in sy hande. “Kom my seun nie huis toe nie?”
***
20:03. Lizette smeer oom Abrie se voete olie. Vryf dit in. Masseer die bal van sy voete met haar duime.
Hoekom is hier geen foto van Ruan in oom Abrie se meenthuis nie? Haar blik val op sy bedkassie. Dit is waar Ruan moes staan, langs Mariana se troufoto. So tussen die kleinkinders.
“Sy klere hang nog in die kas.” Oom Abrie wys na die hangkas. Die een waarin sy die winterklere stoor.
Is dit sy weermaguniform wat daar hang? Sy het dit al gesien, gedink dit is oom Abrie s’n.
“Mis oom hom baie?” Sy wil haarself skop. Stupid. Natuurlik mis hy sy seun. Dit is net háár seun wat haar die laaste agtien jaar aan die gang gehou het. Na die eks wou sy keer op keer opgee ...
“Niemand wil vir my sê hoe’s hy dood nie.” Oom Abrie se stem bewe. “’n Pa wil weet. Dit bring berusting. Afsluiting salf wonde.” Stilte. Dan: “Maar as jy wonder, hou die spoke jou wakker.” Heftig. “My vrou ...” hy skud sy kop soos hy praat, “sy wou nie aangaan nie. Het kort daarna selfmoord gepleeg. Pille.”
Lizette gee sy voete ’n drukkie. “Oom.”
Dan: “Daar is veteranegroepe op Facebook, hoekom vra oom nie daar nie? Of op Nagkantoor, De Wet Potgieter is orals connected.”
“Facebook?”
Sy vee haar hande op ’n handdoek skoon, gaan sit langs hom. Teen hom. “Kom ek wys oom.”
In die soekenjin tik sy: weermag. Dit gooi ’n paar opsies uit, haar oë vang Alle ou Weermag Veterane. ’n Privaat groep met sestien duisend lede. Sy sluit aan.
Tik: Het iemand dalk vir Ruan Geldenhuys geken?
’n Man kommunikeer dadelik: Watter jaar was hy op die grens?
Sy: In 1989. Hy is op die grens dood.
Die man tag verskeie name. Skryf langs die string name: Dalk kan iemand die kind help. Asseblief.
Dit is asof ’n veldbrand losbrand in die kommentare. Sommige wil weet of sy ook ’n boek wil skryf, ander vra of sy van die media is. Nog ander sing Ruan se lofsange. ’n Hele paar plaas foto’s. Sy herken dadelik Ruan se glimlag in almal.
“Wat sê hulle?” wil oom Abrie weet.
Sy wys vir hom die foto’s.
Trane stroom oor sy wange. Hy druk die selfoon teen sy wang, kreun. “My seun, my seun.”
Sy hou hom vas. Lank.
Toe sy asemhaling bedaar, download sy die foto’s en stuur dit per WhatsApp vir hom.
Moet sy dit vir Mariana ook stuur?
“Hulle sê hy was dapper, oom.”
Hy knik. ’n Wrang glimlag strek om sy mond. “’n Pa wil nie hoor sy seun was dapper nie, jy wil hom vashou. Druk. Soen.” Hy skud sy kop. “Ek wil nie medaljes vashou nie; ek wil my seun vashou.”
Die volgende oggend is oom Abrie weer sy ou self. Hy maak self vir haar koffie, knipoog. “Die laaste keer wat ’n mooi aster langs my op ’n bed gesit het, was vyftig jaar gelede.”
Hy gaan sit in die son, skop sy plakkies uit. Raak nie sy koffie aan nie. “Kan jy dalk vir my lees wat almal oor my seun sê?”
“Natuurlik, oom.” Sy gaan sit oorkant hom, slurp eers ’n paar slukke koffie voordat sy die beker langs haar op die sement neersit.
Na elke boodskap wat sy lees, gaan sy eers na die skrywers se profiel, kyk wie is hy. Wys vir oom Abrie sodat hy gesigte by die name kan sit. Sy skryf ook, namens oom Abrie, vir elkeen ’n persoonlike boodskap. Die voorlaaste boodskap wat sy lees, is van sy bevelvoerder.
Sy Facebook is baie regs. Die huidige regering is net kak en Trump is die wittes se oplossing. Elke tweede plasing is iets met die weermag te doen. Dit is asof sy lewe op die grens stilgestaan het.
Oom Abrie tik met sy wysvinger op haar selfoonskerm. Hard. Hy kry ’n skewe trek om sy mond. “Hy het seuns. Kyk na al sy familiefoto’s, al wat ek het, is medaljes ...”
***
Die laaste maand is oom Abrie anders. Lizette kan nie haar vinger daarop sit nie; die beste woord waaraan sy kan dink, is doelgerig. Iets het weer sy vuur vir die lewe aangeblaas. Hy boer op Facebook, loop uit die vertrek as sy selfoon lui.
Het hy by een van hierdie regse groepe aangesluit?
Op Vrydag 13 Februarie 2025, 14:57, stap hy kiertsregop uit die slaapkamer.
Hoekom het hy Ruan se weermaguniform aan?
“En waarheen gaan, oom? ’n Veteranereünie? Of hou tannie Barbara van uniformspeletjies?” spot sy terwyl sy sy kraag reg vou.
Hy haal ’n koevert uit sy baadjiesak, druk dit in haar hande. Hy los nie dadelik nie, hou haar hande styf vas. Kyk haar waterpas in die oë.
“Lizette, as iets ooit met my gebeur, erf jy alles. Alles.”
Haar bolip bewe. “Niks gaan met oom gebeur nie. Asseblief.”
Hy haak by haar in, loop kombuis toe.
“Kom nou, my kind, ek hoor al lankal die engele sing. Gaan jy vir my koffie maak?”
Sy stamp hom speels met die skouer. “Oom se koffie is lekkerder.”
“Maar jy,” hy knip oog, “gooi altyd ’n bietjie liefde by. Jy sou ’n goeie vrou gewees het vir Ruan.”
***
Lizette druk haar hand in haar sak, voel die koevert. Wat is binne? ’n Bonus? Dan kan sy vir haar seun ’n Nintendo Switch OLED koop waarop hy games kan speel. Hy kerm al maande daarvoor.
Sy haal ’n steekmes uit die laai en skeer die koevert oop. Binne-in is ’n A4-bladsy, opgevou in kwarte. Sy maak dit oop, lees.
Haar oë rek.
Die papier val uit haar hande.
Nee! Sy wil nie al sy geld erf nie; sy wil hom hê!
Sy verander in ’n soutpilaar. Waarheen het oom Abrie gesê gaan hy?
Sy slaan haarself met die plathand teen die kop. Dink, domkop, dink.
Hy en Ruan se voormalige bevelvoerder gaan koffie drink. Hy praat al die hele week daarvan.
Waar? Die Mugg & Bean in die mall? Nee, dit is te besig.
Waar het hulle twee nog gaan uiteet? Hy sal mos ’n bekende plek voorstel.
Hulle gaan drink weekliks in From Shack to Sanctuary koffie. Sy bel die eienaar, wat onlangs in die media was oor haar Christelike romans.
Haar oproep word dadelik beantwoord.
“Hi, Sam. Is oom Abrie al daar?”
“Ek kyk gou.”
Voetstappe. Dan: “Nee, moet ek vir julle ’n tafel dek?”
Lizette maak verskoning, vra Sam om te bel as hy opdaag, druk die oproep dood.
Trane lê vlak.
Verdant? Of Plato? Hy hou daarvan om nuwe koffiewinkels uit te toets.
Die donderweer bliksem.
Die bevelvoerder!
Sy gaan by Facebook in, soek sy naam op en message hom: Sorry, oom. Oom Abrie het vergeet waar julle vanoggend ontmoet.
Hy antwoord: Verdant. Sê vir hom ek is ’n bietjie laat.
Hoe vinnig kan sy 2 kilometer ry?
Toe sy by Anistemi uitry, sit sy haar noodligte aan.
Jaag tot by die stopstraat, verminder spoed, maar stop nie dood nie.
Jaag tot by die eerste van die vier spoedhobbels.
By die vierrigting-kruising draai sy links, dan skerp regs.
Jaag.
Verminder spoed by die drie spoedhobbels voor die skool.
Jaag oor die kruising. Stop by Verdant.
Sy sluit nie haar deur nie; draf na binne.
Daar is hulle!
Sy stap nader, haar tree uitgerek.
Oom Abrie se hande rus op die tafel.
Dankie tog, als is okay.
Hoekom het hy ’n vadoek oor sy een arm?
Voor hom lê ’n houtkassie. Dit is oop. Binne-in lê medaljes.
“Dè, kolonel, vat jou donnerse medaljes en gee my seun terug.”
Net voordat hy die sneller kan trek, rus sy haar hand op sy skouer. “Oom Abrie, kom ons ry.”
Albei mans staar na haar.
Oom Abrie se hand bewe.
“Oom,” haar stem is sag, pleitend, “ek wil nie jou geld erf nie, ek wil jou hê.”


Kommentaar
Blikemmer, Stefaans.
Magteloos… Hartseerkoffie wat omgee.
Soms is Jesus 'n enkelma met bruingedyde hare wat omgee en liefhet, voete masseer en die duiwel op sy ek sit...
Dankie Julio. Dit was 'n gelukskoot. Die gedig het nie gewerk nie. So ek is LitNet baie dankbaar dat hulle dit aanvaar het.
Dankie Elise dat jy altyd my skrywes lees. Sterkte met jou eie kortverhale.
Stefaans - inderdaad 'n uitblinkkroonjuweel van 'n verhaal! 'n Goeie en verrassende slot bly maar 'n vereiste.
Stefaans, hierdie het my stil gemaak. Jy skryf eerlik en sonder versiering oor iets wat vir baie mense nog rou en onuitgesproke is: dat daar in die Bosoorlog meer gevra en gegee is as wat ooit erken of terugontvang is. Sonder verduideliking of regverdiging wys jy net — deur gewone mense, hul stilte en hul verlies. Soos altyd dra jy ’n sterk boodskap met groot subtiliteit oor.
Wow, Nico. Dankie.
Vir my is dit nog ’n kykie in julle lewe. Dankie, Stefaans.
Baie dankie, Ronnie. Skrywers is verplig om ook namens die gebrokenes te praat. As jy wil, kan ek die gedig met jou deel. Skryf jouself leeg.
Dankie dat jy dit gelees het.