Ses redes waarom

  • 4

Ses redes waarom
(ek ’n Afrikaanse skryfkursus op ’n Griekse eiland aanbied)

Ek het byna 20 jaar lank boeke geskryf voordat ek myself ’n skrywer kon noem sonder om verleë aan my neus te vat. Skrywers was vir my van kleins af wonderbaarlike wesens, soos unicorns, en ek het myself nog altyd as ’n gewone werkesel beskou, ietwat ontuis in sulke legendariese perde se geselskap.

Nóg 20 jaar later vat ek van voor af verleë aan my neus (steeds nie ’n eenhoringneus nie, helaas), omdat ek deesdae ook skryfkursusse aanbied. Noudat Afrikaanse skryfskole soos onkruid opskiet – of kom ons sê liewers soos veldblomme, om nie lelik te wees nie – moet jy óf baie dapper óf ’n bietjie domastrant wees om jouself as leermeester vir minder ervare skrywers uit te gee.

Maar ek het pas vir die vierde keer in twee jaar as mentor opgetree by ’n Afrikaanse skryfkursus op die lieflike Griekse eiland Lesbos, saam met die ouduitgewer Frederik de Jager van The Talking Table, so ek ly seker aan ’n soort (verleë) domastrantgeid. Beskou gerus die Ses Redes Waarom hier onder as ’n verskoning in die vorm van ’n verduideliking.

Skrywerstafel in die hawe van Molyvos. Frederik de Jager sit voor, Douw Steyn en Marita van der Vyver op die verste punt.

1. Jy kan niemand leer skryf nie

Die ironie is dat ek self nog nooit enige skryfkursus bygewoon het nie. Eerstens omdat daar nie eintlik so iets was in Afrikaans toe ek vier dekades gelede jeugromans begin publiseer het nie. Tweedens omdat ek nie die geld of die tyd gehad het nie. Ek was bloedjonk en platsak toe my eerste jeugboek gepubliseer is, en ek was steeds platsak, maar boonop ’n enkelma, toe my eerste volwassene-roman ’n dekade later verskyn.

Ek is wel in die jare ‘90 genooi om aan die Universiteit van Iowa se bekende International Writers Program deel te neem – en moes toestemming kry om my vyfjarige seuntjie saam met my in ’n Amerikaanse koshuis te laat bly – maar dis nie ’n skryfkursus nie, dis ’n jaarlikse program vir ’n dertigtal skrywers van oral in die wêreld wat reeds ’n boek of twee gepubliseer het. Ons skrywers moes lesings vir Amerikaanse studente en vir mekaar gee, en ek het besef dat skrywers nooit ophou leer nie (sommiges was baie ouer of bekender as ek), en dis ’n les wat ek met elke kursus op Lesbos van nuuts af leer. Ek glo in ’n demokratiese proses (Griekeland is immers waar ons Westerse idee van demokrasie begin het), want ek leer omtrent net soveel by my “studente” (vat weer verleë aan my neus) as wat hulle hopelik by my leer.

Nee, ek kan jou nie “leer skryf” nie, maar ek kan jou help om baie van die foute te vermy wat ek maar so deur my eie dwaasheid van boek tot boek oor 40 jaar moes leer. Ek kan jou help om van die begin af beter te skryf.

Die Huis van Stories. Maak oop die hek en kom skryf saam ...

En so leer skugter skrywers om saam met die Grieke te dans ...

... of om op 'n bromponie te ry met die warm wind in jou hare.

2. Die enigste manier om te leer skryf, is om te skryf

Ek glo nie lang lesings en akademiese teorieë gaan jou help skryf nie. Dit gaan jou baie oor ander mense se boeke leer, maar jy het praktiese oefening nodig om jou eie boek te skryf. (Onthou, ons bied hierdie kursusse aan by The Talking Table, nie The Preaching Table nie.) So ons skryf. Aanmekaar. En ons gesels oor die praktiese probleme van skryf. Oor hoe moeilik dit is om oortuigende dialoog te skryf, selfs vir vele ervare skrywers; oor hoe om spanning op te bou en die leser by die storie in te trek; oor die struikelblokke van perspektief (“Wat de f*k is perspektief?” noem ons dié bespreking, want dis ’n noodkreet van vele beginners); oor hoe om jou eie stem te vind. En dan doen ons praktiese skryfoefeninge om al hierdie probleme te takel.

Werksessie langs die see.

3. Twee vir die prys van een

Ek weet nie of ek dapper genoeg sou wees om só iets op my eie aan te bied nie. Met Frederik as medementor is daar altyd ’n klankbord vir my menings. Wanneer ons verskil (darem nie dikwels nie) oor hóé goed of sleg ’n stuk skryfwerk is, leer die aspirantskrywer sommer dadelik dat nie alle uitgewers, resensente en lesers ewe veel van jou literêre darlings gaan hou nie. Dan leer ons jou om daai darlings koelbloedig nekom te draai – maar ook om jou instink te vertrou wanneer jy teenstrydige raad van verskillende lesers kry.

Wanneer ons iemand se skryfwerk beoordeel, kan ek die good cop teenoor Frederik se bad cop speel, of andersom. En met sy ervaring as uitgewer kan hy praktiese raad gee oor hoe om jou manuskrip aan ’n uitgewer voor te lê, hoe die hele proses van keuring en publikasie en bemarking geskied, hoe kontrakte en tantième werk ... al daardie dinge waaroor debuutskrywers gewoonlik in die duister struikel.

Nikos Kazantzakis se Zorba het geglo wanneer jy iets nie in woorde kan uitdruk nie, moet jy dans. Twee klein skilderytjies langs 'n toilet in die hawe van Molyvos.

4. Jy moet jou gemaksone agterlaat

Van duisternis gepraat, Lesbos is die eiland waar Orfeus se legendariese lier glo saam met sy kop uitgespoel het nadat sy lyf deur die waansinnige minades of wilde vroue uitmekaar geskeur is. Dis nou nadat hy die donkerte van Hades se Onderwêreld met hierdie lier aangedurf het om sy geliefde Euridice te probeer red, en jammerlik gefaal het, en alleen moes terugkeer na die lig.

As jy enigiets van waarde wil skryf, moet jy bereid wees om jou eie onderwêreld aan te durf, daardie donker dieptes in jouself, om te skryf oor dit wat jou die bangste maak. Nie alle skrywers hoef fisiek na ’n vreemde streek te reis voordat hulle dit waag nie, maar op die een of ander manier moet jy uit jou gemaksone beweeg. Terwyl jy ’n roman skryf, voel dit dikwels asof jy in ’n donker kamer rondtas, of deur ’n tonnel stap, of onderwater swem, of laatnag in ’n sneeustorm ’n motor bestuur sonder dat jy twee treë voor jou kan sien (alles beelde wat al deur bekende skrywers gebruik is), en al wat jy eintlik kan doen, is om aan te hou skryf tot jy weer by die lig uitkom.

As jy jou boonop fisiek op ’n onbekende eiland in die middel van ’n mitologiese soort see bevind, waar jy nie die taal verstaan of selfs die alfabet kan lees nie – waar alles letterlik vir jou Grieks is! – dan wéét jy mos jy is nie meer in jou gemaksone nie. Toto, we're not in Kansas anymore. Dís waar stories begin.

As die tafeltjie onder dié olyfboom maar kon praat. Uitsig op die hawestadjie Molyvos waar The Talking Table se gaste gehuisves word.

5. Jy moet jou grense verskuif

Lesbos is ’n liminale bestemming, ’n drumpel tussen verskillende wêrelde, tussen werklikheid en mites, soos Prospero se magiese eiland in The Tempest. Dis deel van Griekeland, maar dis baie nader aan Turkye as aan die Griekse vasteland, op die verste grens van Europa, tussen Christendom en Islam, tussen Westerse sekulêre waagmoed en Midde-Oosterse morele behoudendheid. Dis die ideale hawe vir skrikkerige skrywers wat moet leer om hulle eie grense te oorskry. A safe place for dangerous ideas, sê Douw Steyn, Frederik se lewensmaat en medegasheer van The Talking Table. En al wat ek kan byvoeg, is: Ditsem.

6. Alles gaan nie net oor skryf nie

As jy nie genoeg gelewe het nie, het jy waarskynlik nie genoeg om oor te skryf nie. Dis sekerlik nie toevallig dat die bekendste roman oor die verskil tussen lewenservaring en boekervaring deur ’n Griek geskryf is nie? Nikos Kazantzakis se Zorba in Zorba the Greek (wat rolprentkykers wêreldwyd altyd in die gedaante van Anthony Quinn sal onthou) glo dat ’n man ’n bietjie malheid nodig het. ’n Vrou ook, sou ek sê. En nêrens anders kom hierdie tikkie gesonde malheid so moeiteloos soos op ’n Griekse eiland nie.

Dis nie net skrywers en tafels wat stories vertel op Lesbos nie. Selfs die stoele gesels saam.

Ons eerste skryfgroep het op die laaste aand op die dorpsplein onder die plataan by Taxia en Yiannis op die Griekse manier leer dans, soos toe Zorba sy boekgeleerde vriend leer dans het omdat daar dinge is wat nie in woorde uitgedruk kan word nie, emosies wat gedans moet word. Ons vorige groep is deur ’n Griekse kelnerin met die naam Afrodite verlei (jy kan dit nie uitdink nie, nè?) om tot vroegoggend hulle lywe in ’n kroeg te swaai op die maat van ABBA en The Village People en Gloria Gaenor se “I will survive”.

En as jy rêrig nie ’n danser is nie, selfs nie eens op ’n Griekse eiland waar niemand jou ken nie, is daar gelukkig ook ander maniere om ’n bietjie waansin te proe. Op ’n keer het almal laatnag kaal in die see beland. Dis nie iets wat jy vooraf kan beplan nie; dis soos ’n chemiese reaksie in ’n laboratorium. Jy gooi ’n groep spesiale mense saam op ’n spesiale plek, en as jy weer jou oë uitvee, kry jy sulke onvergeetlike spontane ervarings.

Dís wat jy sal onthou as jy terugdink aan jou skryfkursus op Lesbos. Saam met alles wat jy oor skryf geleer het, sou ek graag wou glo dat jy ook iets heeltemal onverwags oor jouself geleer het.

  • 4

Kommentaar

  • Renée Conradie

    As een van die onlangse groep kan ek net sê AMEN en Marita en Frederik bedank vir grondige leiding en kennis. En beaam dat baie aspekte oor jouself oopgaan.

  • Jawel, ek is daar vanaf Oktober vir die res van die jare wat ek het. Op 50 jaar klein tas gepak en verkas na Midde-Ooste, dit het byna 10jr geword. Sal dit nou na Molyvos doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top