"Sersant" deur Jaco Prinsloo

  • 0

Sersant

Jy's die lig op die katoë van my deurpad
Jqy's die blaaie van die Bybel in my binnesak
'n Makker vir elke veldslag, my vriend in die skare
'n Tonic vir elke nuwe dag, die adrenalien in al my are
Jy was altyd die skadu in my woestyn
nou word jy net my Coke en brandewyn

Gee vir my, gee vir my jou hand, sersant
Ons drome dwarrel in die rook rond
Jou roet waai as leed teen my vas
Gee vir my, gee vir my jou hand, sersant
As jy uitbloei op vreemde grond
rol daar nog 'n geraamte in my kas
Wanneer gaan ons eie vure ophou brand?
Gee vir my, gee vir my jou hand, sersant

Gesig nog vol grond, baard rof
Sien jy nie die flitse, voel jy nie die reën
ruik jy nie die stof?

Met net 'n ster wat bo my kaggel hang
verloor ek saans weer die Caspir se spoor
Sien ek weer jou mense se skouers wat ruk
'n Gedrapeerde vlag versteur die wit
So dors. so dors. so min brandewyn oor
Sersant, sersant, as die bos my onskuld sluk

Wanneer die twyfel my siel in twee kom sny
is daar geen coms, 'n stem wat my nou meer sal hoor
Dan weeg dit soveel swaarder as net ek of hy
Sersant, ek het so baie meer as net die oorlog verloor

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top