September 1969: Wat is soeter as heuning?

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Jy onthou mos nog die Bybelse verhaal van Simson wat opgeteken is in Rigters 13 en verder. Dié sterk jong man het mos eendag op pad na Timna toe om vir hom ’n vrou te gaan soek ’n onderonsie met ’n brullende jong leeu gehad. Ons lees dat die Gees van die Here vir Simson sterk gemaak het en dat hy die leeu kaalhand uitmekaar geskeur het asof dit ’n bokkie was.[1] 

En dan lees ons later hoe Simson weer na Timna toe is vir die bruilof en dat hy toe aangedoen het by die geraamte van die leeu en gesien het dat daar ’n swerm bye met heuning in die karkas was. Hy het die heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. En dan later by die bruilofsmaal het hy mos die raaisel gevra wat in Rigters 14:14 opgeteken is: "Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets." 

En nou onthou jy mos hoe Delila by Simson geneul het dat hy vir haar die antwoord op die raaisel moes gee, wat sy toe vir haar mense vertel het: "Wat is soeter as heuning? Wat is sterker as ’n leeu?"

En dan Simson se klassieke woorde net voordat hy die 30 man van Askelon doodgeslaan het en hul klere gevat het om sy weddenskapskuld te betaal: "Julle het met my kalf geploeg, anders sou julle nie die antwoord op my raaisel gevind het nie!"

Nou mag jy vra wat Simson se storie met vandeesweek se regsalmanak te make het. Dit gaan om die heuning en die plek waar die bye nes gemaak het. Gedurende 1969 het ’n sekere mnr Mnomiya – ’n Zoeloe van êrens in KwaZulu-Natal – en twee jeugdige vriende agtergekom dat daar ’n heuningnes in ’n plantasie is op grond wat aan ene mnr Norton behoort het. Soos met Simson was die vooruitsig om van die heerlike soet heuning te eet baie aanloklik en toe het hulle maar in die boom geklim, die bye uitgerook en die heuning vir hulle geneem. 

Toe Norton hiervan te hore kom, het hy ’n klag van diefstal teen Mnomiya en sy twee handlangers gelê. Hulle verweer was dat dit wilde heuning was, maar die landdros het hulle nogtans skuldig bevind, en omdat Mnomiya ’n taamlike kriminele rekord gehad het, is hy tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan een jaar opgeskort is. Hierteen het hy en die twee jeugdiges appèl aangeteken.

Die saak het in September 1969 voor regter Friedman in Pietermaritzburg gedien.[2] Die regter was nogal geïnteresseerd in Mnomiya se verweer dat dit wilde heuning was en het toe ondersoek ingestel of die eienaar van die plaas, Norton, ooit die eienaar van die heuning was. Daarvoor het die regter ver teruggegaan in ons Gemenereg tot by die Romeinse Reg en die sogenaamde Institute – ’n soort wetboek – van die Romeinse keiser Justinianus. 

Die eerste ding wat die keiser oor hierdie onderwerp gesê het, is dat bye van nature wild is. Daarom, as ’n swerm bye in jou boom nes maak, word hulle nie jou eiendom nie – net soos ’n voël wat in jou boom nes maak, ook nie jou eiendom word nie. Daarom is enigiemand in beginsel geregtig om die heuningkoeke van sulke wilde bye vir hom te neem. Eers as ’n mens die swerm wilde bye in ’n korf gehuisves het, word hulle – en die heuning wat hulle vervaardig – jou eiendom. 

Dit is ook interessant dat keiser Justinianus gesê het dat as ’n swerm uit jou byekorf getrek het, word die swerm steeds as jou eiendom beskou solank jy hulle nog kan identifiseer en hulle op ’n maklike manier kan terugkry, anders word hulle die eiendom van die eerste persoon wat hulle dan weer in ’n korf vasvang. 

Tot sover wat keiser Justinianus eeue der eeue gelede oor bye gesê het. Bye is dus, volgens ons Gemenereg, ’n sogenaamde res nullius – die Latyn vir "allemansgoed"; anders gestel: ’n saak (voorwerp) wat aan niemand in die besonder behoort nie.

Regter Friedman moes hierdie beginsels nou toepas op die klag teen Mnomiya en die twee jeugdiges wat saam met hom van diefstal aangekla is. Die regter was van mening dat die staat nie bewys het dat die heuning wat hulle geneem het, Norton se eiendom was nie en dat hulle onskuldig was aan diefstal. Daar was ’n moontlikheid dat hulle skuldig bevind kon word weens oortredings van die Boswet of dat hulle Norton se eiendom onwettig betree het, maar daardie klagte is nooit aan hulle gestel nie en die regter was nie bereid om hulle daaraan skuldig te bevind nie. 

Die drie Zoeloes met die soet tande en ’n voorliefde vir heuning het dus vry uitgegaan, maar ek wonder of hulle ooit besef het dat hulle hul vryheid te danke gehad het aan regsbeginsels wat eeue gelede onder inspirasie van ’n magtige kêrel met die naam Justinianus in ’n ver plek genaamd Rome hul ontstaan gehad het.


[1]     Rigters 14:6

[2]     Vgl S v Mnomiya  1970(1) SA 66 (N)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top