Siftingsproses van die lewe

  • 1

Iemand het eenkeer gesê dat jy elke oomblik van die dag ’n keuse maak. Wetend of onwetend. Gaan jy links beweeg of regs? Jy alleen is die outeur van jou lewe en bepaal self die storie van jou lewensverhaal. Selfs die slot word deur jou optredes geskryf.

Soms speel ons met vuur. Wetend dat om toe te gee aan ’n verkeerde saak of begeerte, kan hewige nagevolge dra. Maar iets binne jou sal die oorhand kry en juis dit doen wat jy weet jy nie mag nie. Die bybel self praat van die gees wat teenoor die vlees staan, en die vlees wat teenoor die gees staan. Soos twee bulldogs binne in jou wat veg met mekaar tot die dood toe. Die een wit en die ander swart.

Almal ken die storie van die vegtershonde waarop gebie word. Wanneer die eienaar sien daar is baie geld op die swart hond geplaas, sal hy sorg dat net die withond vleis kry vir die dag en selfs die swart hond se water terughou. Of andersom. Die vraag is: “Watter hond voed ek vir die dag?” Want die hond wat ek vir die dag voed, is die hond wat die geveg sal oorwin. Die keuse, watter hond gevoed moet word, is in my eie hand. Ek kan self besluit wat my optrede, denkrigting of daad gaan inslaan vir die oomblik. Ons kan maar leer by die spreekwoord: haastige hond verbrand sy mond.

My pa het my sekere wyshede geleer. Baie van dit word aangetref in die boek Spreuke vanuit die bybel. Dinge soos moenie kwaad met kwaad vergeld, of moenie ’n dwaas op sy vrae antwoord, of die wat homself verneder sal verhoog word of die wat haat het die dood lief, moet dan nie so lewe. Alles dinge wat jou vorm en goeie waardes laat aankweek. ’n Gesonde uitkyk op die lewe bied. Wysheid is ’n lewensgids vir wandel en handel.

Keuses in my lewe moet verder ’n siftingsproses deurgaan. Goeie voorbeeld hiervan is die artikels wat ek daagliks op LitNet lees. ’n Positiewe persoon sal altyd eers die mooi in ’n leesstuk raaksien. Verder moet my oog geleer word om voortdurend feite en onkruid van mekaar te sif. Die spreekwoordelike eet die vis en spoeg die grate uit. Ek moet die gesindheid dra van: wat kan ek leer uit hierdie artikel, ongeag my siening of gevoel omtrent die skrywer. Die dinge waarmee ek nie saamstem nie, gooi ek dadelik oorboord en is my keuse om eerder te fokus op die goeie, die positiewe, die opbouende. Want my innerlike lewe en die sprankel van my verhoudinge met ander, word hierdeur gevorm.

Gees trek gees aan. Dis interessant om te weet dat jyself gewoonlik die tipe mens na jou aantrek met dieselfde norme en uitkyk op die lewe.

’n Wyse persoon luister na insig, en die verstandige sal kennis en oorleg verkry. Sotte daarteenoor verag wysheid en tug. (Spreuke 1:4,6,7)

Die lewe is ’n wavrag vol keuses. Ek kan kies die dinge wat ek wil lees of nie, ek kan kies om my gesindheid teenoor iemand reg te hou, ek kan kies wat my optrede gaan wees. Daar is ’n tyd om te praat en daar is ’n tyd om stil te bly. ’n Tyd om op te tree en ’n tyd om eers net waar te neem. Op God se tyd daar gestel sal dinge skielik in plek val. 

Geniet jou keusemaatstaf.

Trienie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top