Daar is ’n teoretiese opvatting in die fisici wat sê as dit vir ’n mens moontlik is om ’n vlak van ses dimensies binne te gaan, sal dit moontlik wees om ’n lemoen van die binnekant af na buite te eet.
Ek lees oor ’n laserwetenskaplike wat ’n interessante teorie oor die geesteswêreld en ‘reis deur tyd’ bespreking geloods het. Dit het te doen met vlakke wat dimensies genoem word.
Ons leef in ’n driedimensionele wêreld. Die mens bestaan uit drie dimensies (gees, siel en liggaam). Dinge wat mense hier op die planeet oprig, ontstaan deur bestaande ruimte in drie dimensies te vul: hoogte, breedte en lengte. Daar is ’n drie-enige God. Selfs die Woord van God kan op drie vlakke begryp word deur die mens (Graffiti, Logos, Rhema). Die bybel praat ook van drie verskillende hemele. Dr Paul Yonggi Cho in Seoul, Korea, het ’n boek op die rak genaamd: The fourth Dimension, (Bridge Publishing, Inc) wat ’n vierde dimensie by die aardse ryk voeg, nl. geloof. Die vierde dimensie van geloof word op die aarde gebruik deur in die onsienlike te glo (Rom 4:17).
Die Skepper woon in minstens sewe verskillende dimensies. Die eerste drie is hoogte, breedte en lengte. Die nuwe Jerusalem kan met hierdie drie kombinasies gemeet word. Die basis is 12 000km wyd, met die hoogte en lengte dieselfde (Sien Open 21). God woon in absolute lig sonder die son, en lig beweeg teen 299 792 459 meter per sekonde. Dit is die vierde dimensie. God, wat nie aan tyd gebonde is, kan in die verlede ingaan, die hede sien en na die toekoms gaan om dit wat Hy in die verlede gespreek het in die toekoms te laat gebeur. Dit is die sewe geestelike dimensies wat in die geesteswêreld bestaan.
Wanneer ons so vêr wil gaan om die liggaam, siel en gees in hierdie vergelyking byreken, kry ons teoreties insig in elf verskillende dimensies. (Teoretiese fisika) Vandaar dus my openingsin: Indien dit vir my moontlik is om ’n vlak van ses dimensies binne te gaan, kan ek ’n lemoen van binne na buite eet.
Ons leef egter in ’n driedimensionele wêreld, en kan nie terug gaan in die verlede om dinge daar reg te maak, en kan ook nie sien wat môre vir my inhou nie. So kan ek ook nie veroudering keer nie, want liniêre tyd beweeg altyd vorentoe. Buite ons liggame bestaan veroudering natuurlik nie.
By ons afsterwe laat ons hierdie driedimensionele wêreld agter en gaan ’n ryk van minstens sewe dimensies binne. Of is daar meer? Ek weet nie. Maar opgewonde daaroor, is ek verseker!
In die jaar 2000 beweer wetenskaplikes dat hulle die sleutel tot onsigbaarheid ontdek het. Hul het glo ’n manier gevind om vlees vir ’n paar minute deursigtig te maak. Volgens die Universiteit van Texas het die wetenskaplikes ’n ‘weefselvenster’ geskep in ’n area van 5 tot 8 sentimeter. Die manier waarop lig deur weefsel beweeg, is in die eksperiment gemanipuleer. Die stukkie vel het blykbaar gedurende die toets deursigtig geword. (Sien: Isaac M. McPhee, Traveling at the Speed of Light, Suite101.com, http://physics.suite101.com/article.cfm/traveling_at_the_speed_of_light)
Is wetenskaplikes hier in die natuurlike wêreld naby die ontdekking of sleutel tot onsigbaarheid wat in die bonatuurlike aangetref word? Of is die driedimensionele mens, wat gees is, ’n siel besit en in ’n liggaam woon, so beperk in die fisiese, dat die liggaam eers na die graf moet gaan, voordat verdere dimensies bepaal kan word? Dalk lê die antwoord verskuil in die bybel vers: “Hier weet ons ten dele, maar eendag sal ons ten volle weet ...”
Geniet jou lemoen-eetgenot, dit is gesond vir die liggaam. Bewaar jou denke van kwaad, dit is gesond vir die siel.
Trienie


Kommentaar
Trienie
Ek sou aanbeveel dat jy bewyse soek vir al die bewerings. Wat se bewys het jy byvoorbeeld dat die mens uit gees, siel en liggaam bestaan?
Dinge is nie maar so omdat iemand so sê of omdat Kobus hom verbeel dis in sy spirituele intelligensie aan hom geopenbaar nie.
Dis g'n wonder jy glo aan slange wat praat, mense wat uit die dood opstaan en maagde wat swanger word nie. In 'n wêreld wat geen bewyse vir bewerings vra nie is enigiets inderdaad moontlik.
Thomas
Askies, maar ons bestaan in VIER dimensies. Jy het vergeet van TYD. En so misluk jou numerologiese bygeloof!
Thomas, in die dae toe ek nog gedrink het sou ek ten minste 12 biere moes drink voordat ek sou kon verstaan het waarvan Trienie praat. Nou dat ek nie meer drink nie wonder ek hoeveel biere sy moet drink om te kan skryf wat sy skryf.
Chris
Trienie,
'n woord van waarskuwing: hou liewer maar by die drie dimensies: lewe kan slegs in drie dimensies bestaan. Multidimensies skep chaos. Eintlik is ons gelukkig om in drie dimensies te lewe, want eerstens, ons kan nie anders nie, en tweedens, daar is geen spoke in nie.
Siel, gees en liggaam? Nee, wat, Trienie. As jy jimmel toe gaan, vat jy jou gesig saam, anders sal jou jou familie daar jou nie herken nie.
Bewyse, Thomas?
Die feit dat jy as ateïs so afgestomp is dat jy die primêre dimensie van menswees - spiritualiteit - nie meer kan eien nie, beteken nie dat der miljoene ander wie ten volle bewus is van hulle spirituele (geestelike) dimensie, dit aan jou hoef te 'bewys' nie.
Jy moet in daardie opsig maar in jou eie sop van onkunde sit en prut - werklik jou probleem, nie ons s'n nie.
Maar jy kan natuurlik begin uit die sop kom, uit daardie bekrompe agnostiese kassie, deur bietjie ag te slaan op wat Trienie hierbo verduidelik. Dit is mos nie moeilik om te verstaan nie en dan kan jy self gaan ondersoek instel tot die mate wat jy steeds 'bewyse' verg.
Kobus de Klerk
Triene, jy klink maar vir my goed deurmekaar, en die enigste skakel wat jy bied, is foutief. Die naaste wat ek kon kom aan jou skakel, is die volgende: http://suite101.com/article/traveling-at-the-speed-of-light-a49916
Daar is geen vermelding van onsigbare vel nie, en ek is nie bewus van enige wetenskap wat dit kan vermag waarvan jy praat nie (Om menslike vel onsigbaar vir die menslike oog te maak nie).