So stotter die SêNet-werf vir lank en die einde is nou hier. Maar hoekom? Ek ken die werf vir so 14-15 jaar sou ek skat. By tye was dit vuurwarm, die briewe, argumente, bewyse, teenbewyse, waarhede en kak stories het dik en vinnig gevlieg. Daar was iets van alles. Ek onthou met 'n glimlag die geniepsige humor in die Land Rover-teen-Land Cruiser-debatte. Mens kan dit seker debatte noem, sou ek debatteer.
En die kerkgangers wat vuur spoeg en die een hel toe bid en die ander hemel toe bid en hulself van die werf af gebid het.
En die moffies wat homoseksualiste geword het en toe gay geword het en toe weg van die werf geword het.
En die evolusioniste wat ge-evoleer het tot waar hulle nou op 'n ander werf kan voortbestaan.
En die politiek-kenners wat hulself tot onbestaan ontken het.
Dood moet 'n oorsaak hê, het ek op skool geleer. So wat het hier gebeur? Hoekom het die vurige debate afgekoel endoodgegaan? Is daar geen passie oor hierdie onderwerpe meer nie? Daar is net soveel passie soos 10 jaar gelede. Die verskil is, dis nie meer "polities korrek" om 'n ding by sy naam te noem nie. Al sou 'n stelling vas binne 'n skrywer se regte soos vryheid van spraak val, word dit steeds weggegooi. Hier vat ek vir Webvoet aan, sal maar sien of sy my brief plaas, sonder om dit eers uitmekaar te pluk.
Die werf sal nie klopdisselboom met briefies wat mekaar vertel hoe naar die ou mense was en hoe skuldig die of daai is nie. En baie beslis gaan dit niemand niks in die sak bring deur sommiges se aaklige dade toe te smeer onder "make-belief" nie.
So, ek reken laat ons nie sulke dik handskoene aantrek nie en dinge weer aan't roer kry. Of trek af en plak toe.
Duitswester


Kommentaar
Ek mis ook die vuurwarm, skop, bliksem en donder-onderonsies, asook die vele wat hier verdamp het.
Donder-onderonsies, sê jy? Wat van donderonsies - 'n nuwe woord ...
Beste Duitswester,
Ek stem saam met jou: SêNet is besig om uit te sterf, en ek sien hoofsaaklik een rede daarvoor. Hier alewige kommentare onderaan 'n brief maak die hele onderwerp dood. 'n Mens lees mos maar net die kommentare op jou kommentare en basta die res. Aan die anderkant lees ek, en ek is seker, ons almal, elke brief deeglik deur. Jan Rap het dit so 'n ruk terug gedoen deur nie kommetaar te lewer nie maar om 'n nuwe brief te begin. Sodra ons dit weer doen, sal die Christene en die ateïste mekaar weer lelik aandurf, om nie eens te praat van die moffies en die maagdelike geborenes nie.
Groete,
Angus
Dankie Angus, ek stem saam. As die briefskrywers nie briewe skryf nie, word die debatstroompie dun ...
Webvoet
Ek wil darem net byvoeg: ek het die grootste waardering vir wat Webvoet doen. Parykeer skryf 'n mens iets in "die hitte van die oomblik", en dan sal Webvoet se snoeiskêr jou ewe koel en kalm van 'n groot verleentheid red.
Duitswester, die kentering het gekom met die nuwe platform of formaat of wat jy dit ook al wil noem. Reaksies en kommentare op menings gelug in die briewe is nou weggesteek en om die 'notify me'-blokkie te merk werk lyk my ook nie altyd nie.
Soos jy sê, SêNet het gewerk; daar was al in die verlede tot 80 briewe per dag - daar was eintlik 'n middag- en 'n oggendplasing om al die briewe te akkommodeer. Myns insiens het die storie die beste gewerk toe al die briewe onder mekaar gelys was (sonder prentjies) en die kleur verander het sodra jy hom gelees het.
Wys jou nou net, soos die ou Cowboys gesê het, if it ain’t broke don't fix it.
'n Ander moontlikheid is, gruwel der gruwels, dat die magte die syn juis die ding wou afwater; dit bied te veel van 'n platform vir dié wat die keiser se naaktheid sien en dit uitbasuin (soos wat met RSG-blad se briewe gebeur het - Magdaleen was skaars aan bewind toe sluit sy die storie - daar het glo volgens haar te veel rassistiese goed verskyn).
Watter einde? Dit lyk na 'n goeie nuwe begin. Die hallusinasies verminder wel.
Moontlik is daar ’n klemverskuiwing in die tipe bydraes wat geplaas word. As dit nie kwalifiseer as ’n 'mening' nie, dan lyk dit my is die neusie verby. Ek het bv vroeg in Januarie ’n bydrae oor een van die astronomiese hoogtepunte vir 2016 saam met ’n video ingestuur. Nouja dis mos nou nie ’n mening nie of daar was ’n ander probleem. Miskien het die son se swaartekrag dit oorrompel en het dit nie by Webvoet gearriveer nie. Ek stuur dit maar weer, dan kan Webvoet vir ons sê wat die probleem is.
***
Aikôna Panda, ek plaas altyd jou sterrestories met graagte. Ek sal dit nooit net los nie. Dit het of nie by my uitgekom nie, of dalk was daar ’n tegniese probleem met die video. Ja, stuur asseblief weer, ek kyk uit daarvoor.
Groete
Webvoet
LitNet
"As die briefskrywers nie briewe skryf nie, word die debatstroompie dun ...".
Dis eerder LitNet wat moet ondersoek instel "Hoekom!"
Ek stel voor dat Litnet van vorige gereelde skrywers verneem hoekom hulle nie meer vir SêNet bydraes wil lewer nie, om sodoende weer strategie in werking te kan stel om weereens stimulus daaraan te gee.
Litnet
Skuus. Brein was stadig gewees, snap nou eers. Nuwe woord "donderonsies", he,he.
Ek moet sê die Sê was darem ’n lekker kuierplek gewees. Ek onthou die lekker debate tussen jou en Afrikaan oor sy weermagdae. Ek dink daar is ’n paar redes vir SêNet se afsterwe. Eerstens dink ek Facebook en ander internet kletsprogramme en webtuistes dra baie by tot die Sê se afsterwe. Baie van die ou Sê-wêtters klets nou op Facebook. Ek is nog in kontak op FB met so baie van die ou klomp soos Yuri, Pouveer, Maankind, Oester, Krok, Lidia, Melt, ens ... Politieke korrektheid en sensuur het ook bygedra dat ek dink baie ’n bietjie gatvol geraak het. Mens kon byvoorbeeld enige belediging na Christene gegooi het maar durf niks oor Islam sê nie of dit word verwyder. Dan is daar herhaling. As mens eers ’n paar jaar op die Sê was is die debate geneig om herhaal te word. Dieselfde debatte, onderwerpe en kommentare is geneig om oor en oor terug te kom en dit het mens begin verveel. Jare terug het daar ook baie van die vermaaklikheidskunstenaars, skrywers, joernaliste en radiopersoonlikhede en selfs politikusse gereeld op die Sê geskryf en mens kon saam met hulle debat voer. Ek glo nie dit gebeur meer regtig nie. Die mense vermoed ek Tweet en Facebook eerder deesdae.
Baie hartseer dat die Sê dalk sy einde bereik het.
Haha pasop ou, Afrikaan hou jou deur sy kyker dop. Mos ’n sniper in die Bosoorlog gewees. Right, lat ek my sê sê en klaar kry. Ek mis hierdie storie. Man ek het selfs pelle gemaak - na ’n hewige weke-lank-jou-moer-Melt-skrap-die-donner geveg, ontmoet ons vir ’n bier en wee jy wat hier praat ons gesinne net vandag oor die oggende se gekoggel en middae se aanstoot neem op SêNet. Ons mis hierdie storie. Waar is julle heen? Waar is almal? Komaan, ons is 10 jaar of wat ouer. Is julle dood of is julle net fokken skaam? PS Francois Williams agv van jou het ek begin lees, begin dink, begin stry, begin sê "seblief nie Francois se kak nie" en opt eigen end begin sit onder bome en dink oor hoe ek eintlik deel is van die niks en die alles. Mis julle donners.
Sed, sed...
Nog een van die min dinge waarmee ek met jou saamstem.