Dis die afgelope tyd, seker so 2 maande nou, dat ons hierdie koerantman, buite op die hoek van ons kantoorstraatopmerk. Die foto’s wat ek stuur, is gekies om nie veel te wys.
Oom Piet (nie regte naam) wat saam ons hier is, het van die begin af gewonder oor die man. Ek en Blommie, ook. Aanvanklik het ons nie gedink hy sou langer as ‘n week hou nie. Toe was sy lyf veel groter as nou.
Nadat ons hom opgemerk het, dit was nou na die eerste week, het hy bloedig verbrand in die son. Sweet het hom afgeloop, die hitte voor reën, bedompig onuithoubaar. Heeldag moes hy koerante verkoop, in ‘n vreemde wêreld, ‘n onbekende straathoek. My hart het innig jammer vir hom geword. Sy vel, wat nie die son gewoond was, moes verskriklik verbrand het. Soms, deur my kantoorvenster, kon ek sien dat hy nie vinnig genoeg oor die pad kan beweeg as iemand koerant soek nie, en moes maar noodgewonge die motor agterna staar, wat nie langer voor die rooi robot kon wag nie. Moedeloos sou hy dan omdraai, sy arm swaai vir die kar, en sou gou moontlik terugskuifel uit die besige straat. My hart het vir hom gebloei, maar kon ek niks doen nie. So ‘n jong pragtige seun! Wat sou in sy lewe verkeerd geloop het, het ons gewonder. Maar gemeen dat hy soos ander voor hom, gou sou verdwyn. Dat sy plek op die hoek van die straat, binnekort leeg sou wees. Dat die lewe van ‘n koerantman, wat harde ongenaakbaar natuurelemente moet deurstaan, wel sy tol sal eis.
Maar koerantman het besluit om vas te byt. Tans gebruik hy ons badkamers. Gloria, ons kombuishulp, gee vir hom water, as hy kom vra. Van v?r af, begin ons mekaar al groet! Wanneer ek eenuur, vir ete, my motor uit die parkeerarea trek, en om hom ry, sal ek vir hom knik. Vanoggend vroeg, voor werk, kry ek sowaar ‘n glimlag!!
Intussen, het oom Piet meer nuuskierig geraak. Ons ook, maar verkies om kop liewers weg te draai. So maand gelede ontvang ek e-pos van ‘n shelter wat se kragrekening al R33,000 agterstallig is (hoe dit gebeur het, weet ek nie) en afgesit gaan word by hierdie shelter. Hulp was dringend nodig! Ek het vergeet van die rekening, aangesien dit in iemand anders se naam was. Alhoewel ek eenkeer teruggeskryf en gevra het, of daar enige bewyse is, dat dit wel die shelter se rekening is.
Intussen, begin Oom Piet met koerantman te gesels. Sy hart bloeiend vir die man. Dan kom vertel hy ons stukkies en brokkies van die man. Nuuskierig luister ons, en loer dan éérs vir koerantman deur die venster.
Die koerant kom net een maal ‘n week uit, as dit die laaste dag van die week is, voor die nuwe koerant uitkom, dan koop oom Piet al die koerante by hom wat oorgebly het. Koerantman kry ‘n glimlag op sy gesig, en word sy werk nou ‘n uitdaging! Ekself meen dat oom Piet se “tips” heelwat groter is as wat ons dink.
In die week, vertel oom Piet ons dat die man by ‘n shelter bly wat se krag afgesit is. Hy wonder waar dit is, want hy wil die mense gaan sien! Hy wil meer uitvind omtrent die jong koerantman. Hy weet dat sy ouers albei dood is.
Natuurlik het ek dadelik die rekening uitgeprint en vir oom Piet gegee.
Koerantman is vriendelik. ‘n Pragtige seun, met hope seer! Dit kan ek alreeds sien aan sy gewig en oë wat hy agter ‘n masker wegsteek. Vandag besef ek, ons het soveel om voor dankbaar te wees. Dit kon net sowel my eie seun gewees het!
Hierdie is natuurlik nie die end van die storie nie, dit verseker ek jou, want waar God ingryp, verander mense en hul omstandighede drasties. Hier kom nog ‘n mooi storie ...
Trienie


Kommentaar
Trienie, het jy al ooit gehoor van hierdie ou:
http://www.marcbredenkamp.com/
of van hierdie organisasie:
http://www.destiny.co.za/
Trienie Mahne,
Jy is gewis besig om jouself baie vinnig in dieselfde formaat van godsdiensboewery as die berugte Kobus de Klerk, te onderskei.
Om die een of ander duistere rede dink jy dis slim om gewoon van die komptabiliteit in jou vorige bydraes weg te stap.
Wel, dit is nie.
Dit wys bloot dat jy nie net skynheilig omgaan met ander se stryd in die lewe nie (soos nogmaals in hierdie bydrae van jou), nee, jy is boonop gewetenloos ook.
Pla die vrae omtrent die waarheid wat jy byvoorbeeld so omtrent jou pa se preektent gerek het, jou dan nie?
Is die vrae van belangstellendes oor die onthutstheid wat jy kwytraak, dalk benede jou grootheidswaan, "die ou grote Trienie Mahne"?
Nee wat Trienie, Wouter ag jou identiteit as verdag - dit, nadat dieselfde Wouter, karikature soos Kobus de Klerk se Alie en Christenmoeder as lewensgetrou gerespekteer het.
Die koerantman in jou storietjie hierbo se uitdagings in die lewe is algemeen. Ek dink jy is verwaand om ander se swaarkry, waarskynlik net om voor te gee dat jy beter as jou onderwerp gesteun te wees, so uit te basuin.
Ek is oortuig dat enigeen wat drie woorde agtermekaar in 'n ry kan spel, hartseer stories uit hul omgewing kan saamflans. Hier moet ek egter Oester se verhale by uitstek bo sulke skynheiligheid soos die van 'n Trienie Mahne, uitsonder.
Trienie, vir wat dit nog werd is; gaan asseblief eers terug na die vrae uit jou vorige bydraes, en het die ordentlikheid om daarop te antwoord voor jy verder huigel - nes 'n wafferse infernale en farisese Kobus de Klerk (tensy dit na alles die grootste kompliment vir jou kan wees).
Ook jou amigo in Adam,
Cornelius.
Cornelius, ek dink Trienie beskou haarself as een of ander profetes. Die laaste sin in haar bydrae maak dan sin:
"Hierdie is natuurlik nie die end van die storie nie, dit verseker ek jou, want waar God ingryp, verander mense en hul omstandighede drasties. Hier kom nog ‘n mooi storie ..."
Saam met Marc Bredenkamp het sy het al só baie kerrie gevreet dat sy ook nie meer kan onderskei tussen vark, hoender of vis.
Trienie
Goddelike ingryping(as daar wel so iets is) is maar baie selektief. Miljoene mense kry swaar en as omstandighede of hul eie pogings dit toelaat, verbeter dit hul lewe, nié een of ander goddelik ingryping nie!
Hierdie ou het besluit om homself te help en ek is seker dit het niks met goddelike ingryping te doen nie.Dalk soek hy ook nie simpatie nie en wil net bloot menswaardig behandel word.
Die slagoffersindroom waarmee baie sukkelaars sukkel kan verwoestend inwerk op selfrespek en die vermoë om self iets aan jou eie situsie te doen.