Elisa en die bere

  • 11

Die verhaal van die profeet Elisa en die twee en veertig jong seuns wat deur bere verskeur is, is vir die agnostici duidelik ’n stok waarmee hulle God  probeer slaan.

Interessant genoeg, het dié soort houding jeens God juis tot die tragiese gebeure waarvan ons in 2 Konings 2:23-24 lees, aanleiding gegee.

Die agtergrond is die salwing van die  profeet Elisa wat die gedugte skoene van een van die bekendste en grootste profete van God, sy voorganger, Elia, moes volstaan.

Soos dit blyk, is dit juis in ’n tyd waar die volk Israel en Juda deur geweldige afvalligheid en afgodediens gekenmerk is. Elia het sy hande vol gehad met die berugte en wreedaardige afgodspriesteres Isebel, wat ’n berugte dienaar van die afgode asjera en baal was en vrou van die afvallige koning Agab.

Die streek Samaria en Bet-El in daardie tyd was juis bekend vir hulle afvalligheid en gruwels teen God.

Ons weet ook dat Elia nie gesterf het nie, maar deur God opgeneem is toe Elisa sy (Elia se) salwing dubbeld ontvang het en in sy plek die profetiese bediening in ’n streek van gruwelike afvalligheid moes voortsit (2 Konings 2:9-15).

Elisa se intredende optrede as profeet word gekenmerk deur weldadigheid van God (2 Konings 2:19-22).

Maar, die gebeurtenis by Bet-El weerspieël die gees van die tyd – uiterste minagting vir God en God se profete. Dit is die omstandighede waarin ’n profeet moes profeteer en die mense moes bedien met die Goddelike Waarheid te midde van die mengelmoes afgode religieë en agnostisisme wat deur gedeeltes van die volk aangehang is. Die outoriteit van God se Woord is dus gereduseer tot enige ander afgod se status en God se profete is verag.

Toe Elisa Bet-El nader, word hy ingewag deur ’n groot groep van meer as twee en veertig jong seuns. Die woorde wat vir die jong seuns gebruik word, is die Hebreeuse  ‘qatan na’ar/nahar’. Die betekenis wat hieraan geheg word, is nie soos die onkundige agnostici wil voorgee as synde onskuldige kleuters nie, maar eerder jong seuns van puberteitsouderdom en van losse sedes. Die ‘klein’ (qatan) dui in konteks nie op ouderdom nie, maar verwys na die status in konteks, naamlik onbenullig of onbelangrik, klein in aansien, natuurlik weens hulle losbandigheid.

Die feit dat daar meer as twee en veertig van hulle vir Elisa ingewag het, wys daarop dat die prosessie nie dié van kleuters was nie, maar ’n georganiseerde byeenkoms met ’n spesifieke doel, was. Kinders het al normaalweg op vierjarige ouderdom begin studeer. Twaalfjariges en ouer was al amper as volwassenes gereken. Nog ’n rede waarom die klomp spotters nie as kleuters aangesien kan word, nie is die tradisie in daardie dae wat die gebruik onder volke was, naamlik dat kleuter kinders nie in die geselskap van volwassenes mog kom om hul opinies te lug nie en ook nie volwassenes in geselskap mog aanspreek sonder vergunning nie – kinders, kleuters, was dus gesien en nie gehoor, nie. Eers eeue later het die  HERE Jesus Christus dié tradisie afgeskaf. Vandaar dat die gebruik van die HERE Jesus om kindertjies (kleutertjies) in die geselskap van volwassenes te roep, soveel konsternasie veroorsaak het, selfs onder sommige van die dissipels (Mattheus 19:13-15).

Dus, die jongmense van Bet-El het byeengekom juis met die doel om God te bespot via God se profeet, Elisa. Dit weet ons na aanleiding van hulle woorde “gaan op, kaalkop”. In die eerste instansie verwys die “gaan op” na die wyse waarop God vir Elia opgeneem het en wat deur die mense van Bet-El bespot word. Hulle het dit, soos van ongelowiges verwag word, natuurlik nie geglo nie en is Elisa, wat dan bekend was as die opgeneme Elia se direkte opvolger, daarmee gespot, soos mens van agnostici kan verwag (ons sien juis ook die gespottery gedurig onder hulle op hierdie forum). Origens was die term “kaalkop” ’n uiters growwe belediging, veral vir ’n profeet van God. Dit het met min hare niks te make nie, en was ’n belediging wat gebruik was om vir ’n profeet te sê dat hy geen outoriteit het nie en ook nie verstand het nie en dus die minagting teenoor God en Sy profeet uit te druk. Was, was immers die gebruik in daardie tyd om profete en konings te salf (salfolie oor die kop aan te wend – Eksodus 40:13-15; 1 Samuel 15:1; 16:3, ens) as teken van Goddelike outoriteit. Deur vir so iemand dus te koggel met “kaalkop”, beteken dat sy salwing en gevolglike outoriteit geminag word. Dus, deur hulle intense gekoggel, het hulle God direk gespot, nie net oor die wyse waarop God Sy profeet Elia opgeneem het, nie, maar ook oor wie God in Elia se plek gesalf (gestel) het.

Daarom dat God direk ingegryp het nadat Elisa hom tot God gewend het daaroor – sodat twee bere te voorskyn kom en twee en veertig van die spotters gedood het. Hiermee het God Sy én Sy profeet se outoriteit, baie direk bevestig.

Die feit dat twee en veertig van hulle gedood was deur die bere voor hulle opgehou het met hulle spottery, dui daarop dat hulle so besete was met hulle gespottery en so luidrugtig was, dat hulle die gevaar van die bere nie besef het voordat daar twee en veertig van hulle afgemaai is, nie. Mens kan jou skaars die besete raserny van die agnostiese spul indink, dat hulle nie die gebrul en geraas van die plunderende bere en slagoffers kon agterkom voor daar nie twee en veertig van hulle verskeur is, nie – nóg ’n aanduiding dat dit alles behalwe kleuters was, maar ’n tamaai groot groep niksnutte. Op daardie wyse is God se outoriteit en Sy profeet se salwing en gesag as sodanig, bevestig. En het die mense van die tyd gesien en besef dat hulle met die ware God en die ware God se profeet te make het. God het dus in die enigste taal wat hulle wou verstaan (God se Woord deur Sy profete is mos gewoon geminag), teenoor hulle Sy outoriteit bevestig en terselfdertyd ook gewys dat Hy ook in beheer is van die diereryk, want baie van die afgode wat die spul aanbid het, was juis diere figure.

Dan is daar natuurlik die kwessie dat mens jou dit afvra – wat sou met Elisa gebeur het as God nie ingegryp het met die besete spul spotters nie? Hulle sou hom waarskynlik aanval en om die lewe bring. Jong seuns van tien jaar en ouer was al soldate. Sy voorganger, Elia, was in ’n soortgelyke situasie met die afvallige koning  Agab se bendes.

Dit was inderdaad die enigste en laaste keer wat Elisa hom tot sulke ingrypende stappe moes wend om sy gesag van God bevestig te kry. Selfs sy voorganger, Elia, moes tot drastiese stappe oorgaan en moes hy staatmaak op God se ingrype nadat Ahasia se bendes hom wou intimideer omdat ook húlle nie die gesag van God en die outoriteit van die  profeet Elia erken het, nie en het God ingegryp op ’n manier wat die afvalliges goed kon begryp. Hulle het Elia spottenderwys “man van God” genoem, maar dit as hoon en spot bedoel omdat hulle nie in God geglo het, nie. Daarmee wou hulle te kenne gee dat Elia nié van God is, nie, omdat hulle God se bestaan in twyfel getrek, het. Telkens het God deur Elia vir hulle die Waarheid van daardie stelling aan hulle lewens laat voel en só het dit aangehou totdat hulle die nodige erkenning verleen het (2 Konings 1:2-17).

Die oordeel vir sonde kom God toe en God is getrou daaraan (Eksodus 34:6-7; Nahum 1:3).

Dit was dan ook in ’n tyd wat God gewoonte afvalliges na verloop van tyd summier geoordeel en gestraf het, soos Hy tevore met verskeie ander gedoen het, soos byvoorbeeld by Sodom en Gomorra en ook met die baälpriesters tydens Elia se bediening (1 Konings 18:19-40).

Maar vandag gaan sommige weer aan asof daar geen God is nie, nes destyds, omdat hulle nou, nes destyds, die tekens van die tye verkeerd wil lees en God se lankmoedigheid en Genade totaal waninterpreteer weens hulle karnaliteit en gebrek aan Geestelikheid – soveel só dat sommige selfs alweer dink dat God nie bestaan nie. Want sedertdien het God Sy Seun, die geïnkarneerde Woord van God, Jesus Christus die HERE (Johannes 1:1-14), laat kom om die doodstraf vir sonde op Hom te neem by Golgota, maar ook daarmee saam om die Oordeel op Hom te neem vir latere beregting (Johannes 5:26-30). Daardie Oordeel en straf is dus nie afgeskaf nie, maar uitgestel, terwille van die Genade van God Wie aan alle mense die geleentheid gee om hulle tot Hom te bekeer (Johannes 3:16-21; 12:46-50; Esegiël 18:20-23 g m 1 Timoteus 2:1-7; 2 Petrus 3:9-10).

Groete,

Kobus de Klerk

  • 11

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Wat sê jý, Trienie? Is jy net so moreel bankrot soos KdK? Is jy ook bereid om hierdie optrede van God en sy profete te regverdig?

  • Kobus

     
    Jy wens seker dat jy jou godgegewe outoriteit op my, Chris en Angus kan uitoefen deur ons gewelddadig om die lewe te bring.
     
    God van liefde? Klink vir my eerder na 'n knorrige haatdraende ou man.
     
    Oor een ding stem ek saam - jy is beslis na sy beeld geskape!
     
    Thomas
  • Kobus de Klerk

    Moreel bankrot? Is die agnostisisme nie die opperste vorm van morele bankrotskap nie? Agnostici pleeg spiritueel morele selfmoord en probeer ander beïnvloed  om dieselfde te doen, wat op spiritueel morele poging tot moord neerkom.

    Om van die insidensie van agnostisisme ontslae te raak, is gewoon spiritueel morele sanitasie en dit is juis moreel.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Trienie, jy moet nou maar versigtig wees. KdK het 'n antwoord aan jou verskaf vir my vraag en verwag dat jy dit pragtig sal pappegaai.

  • En die mense vra mekaar of hulle bereid is om G_d se optrede te regverdig. Kan julle my vertel van presies-asseblief-wanneer af verbeel julle julself dat G_d se optrede deur julle regverdig kan word??? Is julle onder die indruk dat G_d aan julle verantwoording moet doen???

    G_d is die eienaar en heerser van die heelal, Hy maak presies soos Hy wil en julle minder-as niks skepsels het 'n bêkvol te praat. Sulke arrogansie en onkunde verdien uitwissing.

     Duitswester

     

  • Kobus de Klerk

    Jy is verkeerd, Thomas, daar is géén begeerte by my of ander van ons om julle met die dood te verwens nie.

    Jy verstaan nie, dit is ons wens dat julle eerder tot besinning sal kom en bekeerd raak, juis sodat julle sal lewe en die Oordeel van die Dood sal vryspring uit geloof. Ons glo aan die HERE Jesus Christus en dit behaag Hóm om, in hierdie Nuwe-Testamentiese dispensasie, die eeu (era) van genade, aan julle genade te betoon en die geleentheid te gee om tot bekering te kom en juis nié onmiddellik die Oordeel oor julle te voltrek nie, want HY wil hê dat julle Sy reddende Hand moet neem (Lukas 9:51-56).

    Ons outoriteit is dus, weens die Genadeverbond van die Nuwe Testament, die nuwe Genade dispensasie, nie om mense dood te maak en dood te wens nie, maar om die Evangelie van Waarheid in die HERE Jesus Christus in Krag te verkondig. Maar mense soos julle sien die Genade en lankmoedigheid van God in dié tyd as swakheid aan en verloën selfs Sy bestaan en julle besef nie dat die mens van sonde juis dáárdeur geopenbaar word nie en dat die mens van sonde wél uiteindelik die Oordeel van die straf sal smaak, nie.

    Ek beskou dit as ’n bemoediging en goeie getuienis as mense vir my sê dat ek na die beeld van God geskape is – hoe sommige van hulle dit ook al self in hul stomme onkunde bedoel. Dit is ook interessant dat jy nou erkenning verleen daaraan dat mense soos ek geskape is na die Skepper se Beeld en nie ’n produk van een of ander sinnelose teorie van evolusie is, nie.

    Terloops, Duitswester het 'n baie sterk punt beet.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Chris, gaan lees maar by die ander artikel wat ek oor jou stories te sê het. Ek dink jy het eerder die drama-bus verpas. Laat staan maar jou drama oor die bus en klim jy maar weer op en kom by die regte plek uit. Ek het per abuis albei reaksies hier geplaas instede van die Thomas een hier en joue daar. Dit is nou reggestel - nou moet jy net weer bykom, en dit lyk vir my, gaan tyd neem, want jy sal moet uitwerk hoe om jou reaksie daarop ook van hier na daar te skuiwe ... en dit mag dalk te erg wees vir jou om te vermag. Nie dat enigiemand dit sal mis nie want daar is eintlik nie meer iets om vir jou daarop  te sê wat jy sal kan begryp, nie. Alles wat reeds vir jou gesê is, is vir jou verlore omdat jy daar niks van begryp nie (jou tipiese agnostiese kinderagtige reaksie bevestig dit mos weereens) want dit is gewoon bo jou vuurmaakplek.

    Kobus de Klerk

  • Stem volkome saam met jou Kobus. Ons leef nou in die genadetyd, wat een dag (wat nie baie vêr in die toekoms blyk te wees nie ) tot 'n einde gaan kom.
    As die Here ons God wraaksugtig was, sou Hy nie die dissipels gekeer het om vuur uit die hemel af te roep soos in Matteus 13 nie.
    Beste seëninge.

  • Hans Richardt

    Ek wonder of ou Kobus de Klerk nog bestaan.
    My vraag aan hom sou wees: verduidelik asb die parakleet. Nie die parrakleed nie, mense kan dit dalk met vyeblare verwar....

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top