Die donker Aanvaller

  • 0

Adri het saggies begin huil. Die oorkruiper vreet alweer aan haar brein. Hy kom gereeld, elke nag. Oneindig lank, totdat haar liggaam opkrul in ’n klein bondeltjie wat sy met haar arms probeer toevou. Maar die gedagtes bly. Swiepend deur haar kop. Soos ’n oorkruiper met bloedpote wat kriewel tot diep binne in haar hart. Dan sal sy wanhopig gryp na die slaappille langs haar bed om net later te besef dat die nagmerriesnou weer terug is?

Sy sug hortend. Die kind is ook nie meer daar nie. Genadiglik van haar weggevat na geboorte. Wat sou die mense in elk geval dink as sy met ’n donker kind op haar arms loop?

Sy het geweier om aan die fetus geheg te raak. Weggekyk tydens die geboorte. Ná die ontsettende pyn, net haar rug op hom gekeer, en verlig gevoel dat die gewig binne in haar uitgesny is. Om nie aan die baba te dink, sou sy dan eerder die traumadaad, wat die oorsaak van haar gemors is, weer en weer beleef.

Alles was verby, maar die gedagtes het gebly. Inteendeel, so vermeerder dat sy liewer wou onttrek en haarself binne in die klein woonstel toesluit. Weg van al die vraende gesigte. Saans, wanneer sy tuis kom, wil sy net kamer toe, sielsmoeg neerplons op die koue bed, en alles om haar uitsluit. Net om weer ingesuig te word in ’n donker gat van depressie. Dan sou die donker Aanvaller weer sy pote oplig en begin kriewel ...

Toe Adri, (nie regte naam) vir die eerste keer sel toe gekom het, was sy vir ons almal vreemd. Ek het dadelik die donker kringe onder haar oë opgemerk, en later die aand toe sy deur haar bybel blaai, gesien dat haar naels tot binne in die lewe afgekou is. Sy het ooglopend senuweeagtig voorgekom. Haar werksvriendin Marie, het haar saamgesleep na die selgroep. Sou sy hier rus vind? Sou sy hier die warm samesyn ontdek van mense wat omgee en beskerm? Marie, wat lid van die selgroep is, het so gemeen.

Depressie is ’n swart mag wat ontwrig. Veroorsaak ’n versteuring in die balans van jou verhoudinge, gesinslewe en selfwaarde. Depressie wat onderdruk of ontken word, genees nie maklik nie. Adri moes soek na ’n oplossing vir haar probleem. Moes uitreik na ander vir hulp. Moes haar verkragter vryspreek, haarself vergewe, asook die kind. Medikasie is net ’n onderdrukker van simptome van onverwerkte emosies.

Maar, hoe weet ek of ek depressief is?

Toets jouself - hier volg ’n paar simptome:

  1. Skep jy onwillekeurig ’n somber en swaarmoedige atmosfeer tuis? Is onvergenoegd met alles en almal?
  2. Ervaar jy wesenlike skuldgevoelens en kan nie jouself vergewe vir dit wat jy gedoen het nie?  (Soos Adri wat haar kind afgestaan het.)
  3. Gryp jy maklik na strooihalms of fopspene van medikasie, drank, drugs of wil heeldag net slaap?
  4. Ondervind jy woedeuitbarstings of ontwikkel selfmoordgedagtes?
  5. Angsaanvalle en vrese sal jou laat wroeg op jou bed wat tot nagmerries en slapeloosheid stem. Adri se oorkruiper is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ly jy aan slaaploosheid of sien drogbeelde?

Moenie wag tot dit te laat is. Sorg dat jy aanklop by die regte mense. Hulle is orals rondom jou, in jou dorp, by jou werk. Soek net op die regte plek.

Trienie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top