Bybels vir Afrika!

  • 7

Dis ’n raps na sewe die oggend van Saterdag 23 Februarie by Bolivia Lodge in Polokwane. Die reuk van grasdak begroet jou en is die Lodge bekend vir sy bosveldatmosfeer wat dit uitdra. Dit voel of jy verdwaal tussen al die verskillende eetplekke, en om elke draai begroet ’n asemrowende kleurvolle botaniese tuin jou met sy eie aangrensende pragsaal. Ons, ek en manlief, is genooi na die jaarlikse byeenkoms van Die Gideons Internasionaal en is dit ons eerste bywoning.

Terwyl ons die restaurantgedeelte instap, waar die vergadering plaasvind, ruik ek gebraaide uie wat die belofte van ’n 5-ster ontbyt inhou. Mmmm lekker. Die tafels is vrolik gedek met geel en wit, en is daar omtrent 60 mense teenwoordig.

Maar, eers al die formaliteite en toesprake afhandel, voordat ons tand in vleis en sagte eier kan inslaan.

Die genooides is almal plaaslike predikante vanuit die omgewing en is dit aangenaam om te sien hoe verskillende kerkleiers opgewonde gesels oor hul gemeentes asook nuwe visies vir 2013. Hier kom hulle een keer ’n jaar bymekaar en word daar in ’n ontspanne atmosfeer gesels oor algemene dingetjies soos die nuwe Mall wat oopgemaak het, waar die beste plase is om op te jag en die reën wat vroegtydig vir die boere gekom het.

Die Gideons Internasionaal is ’n interkerklike organisasie met ’n visie om bybels w?reldwyd te versprei in sekere strome van die lewe. Voorwaar ’n dinamiese kragbron in gratis Bybelplasing. Ek is heel verras oor hul werksaamhede en susksesverhale en besef net weereens dat Suid-Afrika tog vashou aan taal, waardes en geloof.

Verander lewens vir meer dan 100 jaar

Gert Jordaan, nasionale spreker vanaf Pretoria-hoofkantoor en self 40 jaar betrokke by die assosiasie, het dan ook begin met ’n kort skets oor Die Gideons se geskiedkundige agtergrond.

Sedert 1908 versprei Die Gideons Bybels deur ’n globale netwerksisteem. Die ledetal, soos op einde 2012, beloop 287 000 vanuit 190 verskillende lande. Daagliks word nog bygevoeg.

Missie

Die Gideons se missie is om die verlore siel, vernaam op afgeleë plekke, te bereik en van gratis Bybels te voorsien. Die oogmerk: aan elke stam, volk en nasie. Bybels in 9 tale word tans in SA versprei.

Daar word ‘volledige’ Bybels asook die kleiner Nuwe Testament ‘sak-grootte’ versprei. Sedert 1908 is daar al meer as 1.7 biljoen Bybels regoor 194 lande heen afgesit. Net 7 van hierdie lande is in staat om die Bybels self aan te koop. Die afgelope 10 jaar is daar 700miljoen Bybels per hand verwissel. Elke sekonde word tenminste 2 Bybels iewers globaal geskenk.

Meer dan sendelinge

Die Gideons Internasionaal is ’n interdenominasionele assosiasie van christen besigheids- en professionele mense, asook gewone kerklidmate vanuit die protestant/evangeliese groepe wêreldwyd.

Die meeste Gideons woeker en werk in hul eie omgewing, en plaas Bybels op strategiese plekke soos tronke, hospitale, oornagplekke, werksplekke, skole en dokters spreekkamers.

Getuienisse

Ek was verras oor die getuienisse en verhale wat opgeteken staan rondom mense, vernaam vanuit tronke, wat se lewens drasties verander het nadat hul  die Bybel begin lees het. Kyk gerus op hul blog onder blog.gideons.org.

Na ontbyt het ek kennis gemaak met Oom Theo Steyn wat al oor die tagtig jaar oud is. Jare lank plant hy getrou Bybels in die tronke en was self sendeling op sy tyd:

“Ek gee nie om as hulle die Bybelblaaie oprook in die tronk nie, môre is ek weer daar. Verhale wat uit die tronk uitkom van redding en bekering, hou my aan die gang. Die Here is goed vir my.” lag Oom Steyn saggies met ’n vonkel in sy oë.

Saai in die regte dam

Ek glo mens moet sorg dat jou geld in ’n gesonde dam gesaai word. Elke R15 wat Die Gideons as skenking ontvang, kan ’n Bybel koop. Die mens se siel sterf nooit, en om iemand se siel van die verderf te red, kan geen geld voor betaal. Waar die kerk self nie kan bykom, kan ’n Bybel wel.

Soms is dit ongelooflik om te verklaar hoe hierdie Bybels wel insypel in lande waar christendom verbied word. Katar in Moslemland, waar slegs huiskerke gehou word, en die Bybel verbied is, is goeie voorbeeld. In Rooms-Katolieke kloosters agter ystergordyne vind die Woord van God sy pad om in die hand van die behoeftige te beland.

Lees gerus meer hieroor op hul webtuiste by www.gideons.org.

Trienie Mahne

  • 7

Kommentaar

  • Dis tog so jammer dat die mense nie hierdie Bybels lees nie. Hulle lees net so hier en daar, Ps 23, Ps 121 en miskien Johannes 14.

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Angus, die storie van Gideon was dalk waar ek die eerste keer begin dink het dat daar groot fout is met die Bybel. Hier is my geheuekiekie:

    Ek het seker êrens die legende gehoor van St. Christopher wat die Jesuskind deur die rivier gedra het, sy staf geplant het buite sy huis, en dat daar die volgende oggend blomme en vrugte aan was.

    As kind het my pa elke aand vir my en my boetie 'n stukkie uit die Bybel gelees en ons laat bid voordat ons gaan slaap. Die gedeelte wat my pa díe aand lees was dié van Gideon wat God toets met die velletjie wat die een oggend dou op het en die volgende oggend niks. Vir 'n kind van omtrent tien, wat begin wonder het of die tandmuis regtig bestaan, en met die storie van St. Christopher in die agterkop, was dit die ideale geleentheid om die storie van God te toets. Ek bid toe dat as God blomme en blare laat groei aan my knopkierie as ek dit plant by die agterdeur ek sal glo hy bestaan. My pa was natuurlik baie ontsteld en het my gewaarsku dat dit 'n groot sonde is om die Here te versoek. Omdat ek nie sonde wou pleeg het ek toe nooit my knopkierie geplant nie, maar kon nooit verstaan hoekom God vir Gideon toegelaat het om hom te versoek en daarmee te laat wegkom nie.

  • Beste Chris,

    Dis nou vir jou 'n mooi storie. Ek en 'n maat het amper dieselfde ondervinding gehad met vyf boontjiepitte, nadat Juffrou vir ons in die klas "Jan en die boontjierank" gelees het. Danie, my Afrikaanse maatjie, se pa was 'n dominee, en hy het 'n plegtige gebed afgesteek nadat ons die pitte voor my kamervenster geplant het. Die volgende dag was daar natuurlik geen boontjieboom wat ons kon klim nie, ten spyte van die gebed.  
  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Angus, dan wil Christene nog weet hoekom ons nie meer glo aan die eend wat goue eiers lê nie.

  • Geagte Vriende,
    Ek is deel van 'n groep wat hawelose mense ondersteun.
    Hierdie mense kry 'n sak met kruideniersware, geskik vir 4 mense vir twee weke en dit word natuurlik opgevolg met nog verdere aflewerings totdat hul omstandighede verbeter.
    Ek persoonlik voel dat nie net die liggaam, maar ook die siele gevoed moet word en wil graag in die eerste voedings-sak vir elke gesin 'n Bybel plaas.
    Is dit moontlik dat ek 'n skenking van Bybels van u Barmhartigheidswerk mag ontvang?
    Ek sal dit verskriklik waardeer.
    By voorbaat baie dankie.
    Linda Wood

  • Hallo, ek is opsoek asb na iemand wat ons kan help met skenkings van Bybels, ons hou ’n vrouedag by ons kerk en wil graag Bybels skenk, maar kan dit nie bekostig om te koop.

  • Avatar
    Karin van der Sandt

    Goeie middag. Ek is ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Noord. Ons het begin met uitreikingswerk in ons omgewing. ’n Paar blokke van ons kerk af is ’n plek met die naam Gracia child and youth care centre, dit is veilige bewaring vir mishandelde kinders. Ons het onderneem om ’n roep van 15 kinders by ons in die kerk te neem en ook katkisasieklasse aan te bied om hulle sodoende die evangelie te versprei. Sommige van die kinders was nog nooit in ’n kerk nie en daar is ’n groot behoefte in die verband. Ons het dit goed gedink om vir elke kind ’n pakkie op te maak met onder andere ’n Bybel, dagstukboekie, notaboekie en ’n pen in. Ons wil graag hoor of dit moontlik is dat u dalk vir ons 15 Bybels kan skenk wat so broodnodig is vir hierdie kinders.
    Nogmaals baie dankie.
    Karin van der Sandt
    Gereformeerde Kerk Pretoria Noord

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top