Sempre Opera vier twee eeue van Verdi in Johannesburg

  • 0

Sempre Opera vier vanjaar saam met die internasionale operawêreld Giuseppe Verdi se tweehonderdste verjaarsdag.

Op Sondagmiddag 26 Mei om 15:30 word 'n Verdi-konsert in die Greenside Teater, Johannesburg, gehou. Dit is die tweede van drie konserte ter ere van een van die bekendste operakomponiste met 'n keur van arias en ensembles uit die tydperk vanaf die eerste (Oberto, 1839), tot die laaste (Falstaff, 1893) Verdi-opera.

Giuseppe Verdi is op 10 Oktober 1813 in Parma, Noord-Italië gebore, waar hy onder die plaaslike inwoners bekend was as die ‘swaan van Busseto’ met verwysing na die dorp waar hy gewoon het. As gerekende komponis van 30 romantiese operas, word gunstelinge soos Nabucco (1842), Rigoletto (1851), La Traviata (1953), Don Carlos (1867) en Otello (1887) steeds gereeld op die planke gebring om operaliefhebbers vandag nog wêreldwyd te betower. Selfs diegene wat aanspraak daarop maak dat hulle nie operakenners of -liefhebbers is nie, sal sonder twyfel saamneurie wanneer hulle die ‘Va pensiero’ (Nabucco), ‘La donna e mobile’ (Rigoletto) en die Aambeeld-koor (Il Trovatore) hoor.

Sempre Opera se tweede Verdi-konsert bestaan uit ? wye verskeidenheid arias en ensembles uit sy opera-oeuvre. Die gehoor kan op Sondag 26 Mei om 15:30 uitsien na uittreksels uit Oberto, met Aukse Trinkunas (mezzo-sopraan) en Chris Mostert (tenoor) asook Otello, met sopraan Jo-Nette LeKay en tenoor Coert Grobbelaar. Immergewilde gunstelinge uit La Traviata, Rigoletto en Don Carlos kom ook aan die bod. Verder verskyn arias uit Luisa Miller, Nabucco, La Forza del Destino, Un Ballo in Maschera en Falstaff op die program met sopraan Deirdré Blignaut-Rautenbach, mezzo-sopraan Linette van der Merwe en bariton Danie Verster.
Die pianiste Ferdi Geyer en Paul Ferreira deel die begeleidingslading.

Kaartjies vir die Sempre Opera “Verdi Celebration”-konsert is te koop teen R115 (algemene toegang) en R80 (vir pensioenarisse). Kaartjies kan by die teater bespreek word 011 880 5720 / 083 691 9032. Dit is aanlyn beskikbaar bywww.sempreopera.co.za of by www.hannieheferpromotions.co.za Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees ’n uur voor die aanvang van die konsert. Neem kennis dat daar nie kredietkaartgeriewe is nie.

Vir algemene kommentaar of navrae kontak asseblief vir:
Linette van der Merwe
Stigterslid, Sempre Opera
Tel: 082 923 1540
www.sempreopera.co.za

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top