Seksrobotte: Hoekom, en hoekom nie?

  • 3

Hierdie artikel is vir ons hardebaard lesers. Dit bevat sensitiewe inligting.

1. Inleiding

In die 1973 distopiese riller Westworld bevind ryk toeriste hulle by ’n pretpark wat deur robotte beman word wat al hulle begeerte bevredig, insluitend seks (Royakkers en Van Est 2015). In 2010 het hierdie wetenskapfiksie ’n werklikheid geword toe Roxxxy/Rocky (onderskeidelik die vroulike en manlike weergawe) as die wêreld se eerste seksrobot deur die maatskappy TrueCompanion bekendgestel is (Royakkers en Van Est 2015; Danaher 2017a, 2017b; Döring, Mohseni en Walter 2020). Die snelle ontwikkeling van KI sedertdien het daartoe gelei dat vele nuwe en verbeterde seksrobotte sedert Roxxxy vrygestel is, waarvan sommiges in die huidige artikel bespreek word. Die opkoms van seksrobotte het ook tot ’n debat onder akademici gelei, met sterk standpunte wat vir en teen hierdie tegnologie aangebied is (Danaher en McArthur 2017; Döring ea 2020; Jecker 2021).

Seksrobotte is ’n kontroversiële onderwerp, maar daar is navorsers wat aanvoer dat hierdie tegnologie oor die potensiaal beskik om ’n konstruktiewe bydrae tot die gemeenskap te lewer (McArthur 2017; Döring ea 2020; Fosch-Villaronga en Poulsen 2020). Die doel van die huidige artikel is om hierdie terrein te verken en sommige van die argumente vir en teen hierdie tegnologie weer te gee, maar gegewe die hoogs persoonlike aard van die onderwerp en die kompleksiteit van die onderwerp kort daar nog baie gesprekvoering en navorsing voor ’n ingeligte standpunt hieroor ingeneem kan word.

2. Wat ’n seksrobot is

Seksrobotte kan beskryf word as "service robots that perform actions contributing directly towards improvement in the satisfaction of the sexual needs of a user" (Fosch-Villaronga en Poulsen 2020). Danaher (2017a, 2017b) beskryf ’n seksrobot as enige artefak wat gebruik word vir seksuele stimulasie, met die volgende drie eienskappe:

  1. ’n menslike vorm
  2. die vermoë om te beweeg
  3. ’n mate van KI (dit wil sê ’n mate van vermoë om seine in sy/haar omringende omgewing aan te voel, te verwerk en daarop te reageer).

Danaher (2017a, 2017b) skryf ook dat seksrobotte van tradisionele seksspeelgoed en ander artefakte vir seksuele stimulasie verskil, aangesien tradisionele seksspeelgoed geneig is om óf spesifieke liggaamsdele te repliseer, en dus nie ’n menslike vorm het nie, óf, indien hulle wel so ’n vorm het, sal neig om nie enige graad van KI te hê nie. Seksrobotte verskil derhalwe van ouer opblaaspoppe en nuwer silikon- en termoplastiese elastomeer-gebaseerde sekspoppe deurdat hulle in interaksie met ’n mens kan verkeer (sien ook Döring ea 2020). Daar bestaan ook virtuele seksrobotte wat deur middel van ’n slimfoontoepassing en met behulp van aangevulde werklikheid werk, byvoorbeeld RealDoll se RealGirl-slimfoontoepassing. Die huidige artikel konsentreer egter op seksrobotte wat in ’n menslike vorm in ’n werklike robot beliggaam is.

3. Die huidige mark

Soos voorheen gesê, staan Roxxxy/Rocky bekend as die wêreld se eerste seksrobot. Ten tye van die skryf van hierdie artikel was TrueCompanion se webblad egter van lyn af en dit wil voorkom of die maatskappy nie meer funksioneer nie. Döring ea (2020) skryf ook dat dit onduidelik is of enige eenhede ooit vervaardig en verkoop is.

RealDoll van Abyss Creations was meer suksesvol, met Harmony wat in 2018 bekendgestel is, en kort daarna Solana en Henry (Döring ea 2020). ’n Video oor Harmony is hier beskikbaar. Ook in 2018 is Samantha deur Synthea Amatus vrygestel, en Emma deur AI Tech (Döring ea 2020).

Seksrobotte word reeds deur ’n verskeidenheid maatskappye verkoop, insluitend Sexy Real Sex Dolls, My-Doll, RealDoll, AI Tech, OkSexDoll, JoyLoveDolls, MyRobotDoll, SexxDollGenie en RobotCompanion. Die robotte se pryse hang af van hulle vermoëns en afwerking, maar kan so min as $1 000 en soveel as $10 000 kos, met die meerderheid rondom $2 000 (ek kon nie ’n Suid-Afrikaanse verskaffer van seksrobotte vind nie). Alle seksrobotte kan ook volgens die gebruiker se voorkeure voorsien word, met opsies vir grimering, haarkleur, kleur van oë, velkleur, liggaamsbou, lengte en ander (Döring ea 2020). Hulle het gewoonlik ook Wifi. Seksrobotte kan gewoonlik nie self rondbeweeg nie, maar sommige modelle wat kan loop, bestaan wel (Fosch-Villaronga en Poulsen). Die meeste seksrobotte is battery-aangedrewe, en hulle bewegings is meesal beperk tot seksueel-verwante bewegings (Fosch-Villaronga en Poulsen). Die meer gevorderde modelle kan ook KI gebruik om ’n gesprek met ’n mens te voer, wat nie noodwendig seksverwant hoef te wees nie (Fosch-Villaronga en Poulsen). Synthea Amatus se Samantha is byvoorbeeld bekend daarvoor dat sy grappe vertel. Dit is egter onduidelik watter taalmodelle hierdie robotte gebruik, en uit video’s op YouTube, byvoorbeeld hierdie, wil dit voorkom of hul gespreksvaardighede nie so lewensgetrou is soos byvoorbeeld Hanson Robotics se robot Sophia nie (wat hier in ’n komiese interaksie met Will Smith gesien kan word). Danaher (2017b) noem huidige seksrobotte "relatively crude and unsophisticated". Dit wil voorkom of seksrobotte tans vervaardig word om bekostigbaar te wees, eerder as dat hulle die nuutste tegnologie integreer. Bogenoemde video van Harmony toon egter beduidende verbetering in haar gespreksvaardighede (neem ook in ag dat RealDoll se robotte van die duurstes is). 

’n Paar seksrobotte wat tans op die mark is, sluit in: AI-Tech se Emma ($2 800), Maya van RobotCompanion ($3 495), RealDoll se Harmony ($6 149), en Yang Yi van Starpery ($2 100).

Gegewe die koste van die tegnologie is die seksrobotmark heelwat kleiner as die sekspopmark oor die algemeen, maar daar kan verwag word dat seksrobotte ook in die nabye toekoms die groot diversiteit van die sekspopmark sal weerspieël. Daar bestaan tans sekspoppe van verskillende geslagte, ouderdomme, seksuele oriëntasies, rasse, etnisiteite, liggaamsvorme en fantasieë (Döring ea 2020). Daar is byvoorbeeld Europese, swart en Oosterse poppe; vampier-, elf- en anime-poppe; mans, vroue, en poppe wat as gay bemark word; jonger en ouer poppe; en selfs swanger poppe.

Danaher (2017b) verwag dat die toekomstige mark vir sulke enkelgebruik-robotte sal plek maak vir meer veelsydige robotte wat byvoorbeeld sal kan skoonmaak én seksuele funksies verrig.

4. Gebruike

Naas die voor die hand liggende gebruik van seksrobotte is daar volgens verskeie skrywers ook voordele van hierdie robotte wat verder gaan as hedonisme. Eerstens maak Fosch-Villaronga en Poulsen ’n belangrike stelling:

Considered part of the overall physiological needs humans have, denying the enjoyment of sexual life to someone or being oblivious to it would endanger the overall healthy wellbeing of the person and constitute a violation of their dignity. The importance of considering sexual rights as an essential aspect of human life has, therefore, been recognized in major international policymaking.

Volgens Fosch-Villaronga en Poulsen is dit dan veral vir mense wat om een of ander rede nie toegang tot seks het nie dat seksrobotte ’n uitweg kan bied. As voorbeelde van mense vir wie seksrobotte van nut kan wees, noem McArthur (2017) mense met erge angs rondom prestasie of liggaamsbeeld, mense wat herstel van seksuele trauma (byvoorbeeld verkragting), volwassenes met beperkte of geen ondervinding op hierdie terrein nie, of mense wat van een geslag na ’n ander oorgeskakel het.

Seksrobotte kan na bewering vir ouer mense of gestremdes voordele inhou (Fosch-Villaronga en Poulsen; Jecker 2021). Lindau, Schumm  ea (2007) toon dat mans en vroue selfs in die agtste en negende dekades van hul lewens aan seksuele aktiwiteite deelneem. Fosch-Villaronga en Poulsen glo dat seksrobotte ouer mense in staat kan stel om ook weer seks te ervaar, en boonop ’n mate van intimiteit te ervaar deur robotte wat voel soos ’n mens wat langs die persoon slaap. Boonop kan die gesprekskomponent van hierdie robotte emosionele ondersteuning bied. Soos Jecker (2021) aanvoer, is daar groot stigma daaraan verbonde wanneer seks en ouer mense ter sprake is, maar sy argumenteer dat hierdie stigma ’n vorm van diskriminasie teenoor ouer mense is en moet hulle menswaardigheid ten volle erken word, insluitend hul seksualiteit.

Fosch-Villaronga en Poulsen voer ook aan dat ouer mense vanuit die LGBTQ+ gemeenskap dalk nooit hulle voorkeure openlik bekendmaak nie omdat hulle in ’n ander tydgleuf grootgeword het, maar seksrobotte kan ’n veilige seksuele interaksie volgens hulle voorkeure bemiddel. Aansluitend hierby kan seksrobotte ook volgens Royakkers en Van Est (2015) en McArthur (2017) gebruik word om mense te help wat onseker voel oor hul seksuele oriëntasie deur ’n veilige ruimte sonder oordeel te skep.

Fosch-Villaronga en Poulsen glo ook dat seksrobotte gebruik kan word om mense te leer wat instemming is. Hulle fokus veral op mense met intellektuele gestremdhede, wat volgens hulle gereeld uitdagings ondervind daarmee om instemming korrek te identifiseer. Hierdie is deel van die opvoedkundige waarde wat hierdie robotte volgens hulle inhou.

Seksrobotte kan ook na bewering gebruik word deur mense wat eensaam is (Royakkers en Van Est; Jecker). Mense wat deur ander mense verwerp word, kan dalk troos en geselskap met ’n seksrobot vind (Fosch-Villaronga en Poulsen). Fosch-Villaronga en Poulsen en Jecker argumenteer ook dat eensame bejaardes of gestremde persone wat fisiek of intellektueel gestremd is en nie in staat is daartoe om ’n seksmaat te vind nie, ’n maat in ’n robot kan vind. Aan die ander kant kan eensame mense hulself as verwerplik beskou wanneer hulle slegs ’n kunsmatige maat kan vind, en daarom kan die seksrobot hulle juis hul waardigheid ontneem in plaas daarvan om hulle hul waardigheid te laat herwin (Fosch-Villaronga en Poulsen).

Seksrobotte kan ook volgens Cox-George en Bewley (2018) gebruik word om angs rondom ’n eerste seksuele ondervinding aan te spreek. In On Chesil beach (McEwan 2007) beskryf Ian McEwan byvoorbeeld ’n huweliksaand wat met soveel angs gepaard gaan dat dit tot ’n mislukking lei wat die huwelik self vernietig. Seksrobotte kan in so ’n geval moontlik ’n veilige "oefenlopie" bemiddel. Aansluitend hierby kan seksrobotte ook gebruik word om mense op te lei (Royakkers en Van Est; McArthur), wat daartoe kan lei dat hulle hul verhoudings met meer selfvertroue aanpak.

Die gebruik van seksrobotte kan ook die mark vir prostitusie en mensehandel beperk (Royakkers en Van Est; Fosch-Villaronga en Poulsen). Hierdie is beduidende probleme wêreldwyd – ’n studie wat in nege lande (Kanada, Colombia, Duitsland, Mexiko, Suid-Afrika, Thailand, Turkye, die VSA en Zambië) gedoen is, het bevind dat ongeveer 90% van die vroue in prostitusie uit prostitusie probeer ontsnap, 60%–75% van prostitute in hul werk verkrag is, en 70%–95% fisiek in prostitusie aangerand (Royakkers en Van Est). Boonop is ongeveer 4,5 miljoen vroue gevangenes van mensehandelsindikate (Royakkers en Van Est). Seksrobotte kan die mark vir hierdie dienste verklein, wat vroue en jong meisies se onderwerping aan sulke uitbuitingspraktyke kan verminder. Daar is reeds plekke in die VSA, Asië en Europa waar sekspoppe gehuur kan word, byna soos prostitute, maar sonder die viktimisering van vroue (Döring ea 2020).

Die verhouding met ’n seksrobot hoef nie permanent te wees nie. Knafo (2015) bespreek byvoorbeeld ’n geval van ’n man wat seergekry het in verhoudings, waarna hy ’n sekspop as oorbruggingsmiddel gebruik het totdat hy genoegsaam herstel het om weer verhoudings met mense aan te knoop. In so ’n geval skep ’n seksrobot die geleentheid om veilig met ’n maat om te gaan.

5. Gevare

Dit is onseker wat die impak van seksrobotte op ’n huwelik kan wees, omdat seksrobotte aan die een kant gesien kan word as ’n derde party en daarom egbreuk verteenwoordig, maar aan die ander kant as meganies, soos ander apparate (Royakkers en Van Est; Szczuka en Krämer 2018). McArthur (2017) stel selfs voor dat seksrobotte verhoudings kan versterk deur te verhoed dat mense verhoudings met derde partye aanknoop, maar die impak op die huwelik sal afhang van hoe beide eggenote die saak beskou.

Seksrobotte kan ook bydra tot die objektivering van vroue, omdat die seksrobot letterlik ’n seksobjek verteenwoordig (Richardson 2016; Fosch-Villaronga en Poulsen; Jecker).

Danaher (2017a) vra wat die implikasies daarvan is as robotte verkrag word, of indien robotte vervaardig word om kinders te verteenwoordig wat gemolesteer kan word (sien ook Royakkers en van Est). Dit is aan die een kant moontlik dat sulke gedrag teenoor robotte tot werklike verkragting en kindermolestering kan lei, maar aan die ander kant is dit ook moontlik dat sulke gedrag teenoor robotte ’n uitlaatklep kan verskaf wat juis tot minder verkragtings en kindermolestering kan lei (Danaher 2017a; Döring ea 2020). Navorsing oor pornografie wat verkragting en kindermolestering uitbeeld, kon juis nie uitsluitsel gee oor of blootstelling aan sulke gedrag die kanse verhoog of verlaag dat sulke gedrag in die werklikheid sal plaasvind nie (Danaher 2017a). Daar is met ander woorde ’n moontlikheid dat hierdie robotte sulke gedrag kan verminder. Die robotkenner Ben Way argumenteer byvoorbeeld:

Will child sex bots lead to some people acting out their dark and disgusting desires on real children? Yes, but I suspect having child sex bots will significantly reduce the number of people overall who abuse children. ... As repugnant as it may seem society should support this technology and do proper research into its effects before making a snap decision based on social norms, the most important thing we can do as a society is reduce harm to children whatever way we can do it. (Aangehaal in Royakkers en Van Est 2015)

Hierdie probleem bestaan reeds. Ek het in my navorsing vir die huidige artikel ’n paar sekspoppe van klein dogtertjies te koop gesien, ontstellend genoeg boonop met speelgoed. Verskeie outeurs het reeds aangevoer dat sulke poppe verban moet word (Danaher 2017a; Chatterjee 2019).

Daar is ’n stigma aan verbonde om seksuele omgang met ’n robot te hê wat nie gou sal verander nie. Döring ea (2020) merk op dat ander mens-pop-verhoudinge nie tot dieselfde mate gestigmatiseer word nie:

Children love, kiss, cuddle, talk to, and sleep with their dolls, and sometimes, they poke their dolls’ eyes, cut their hair without consent, or open their stomachs during questionable operations. However, nobody assumes that children’s use of childlike dolls makes them antisocial or encourages them to treat other children like objects. The same holds true for the female adult doll owner community that uses realistic baby dolls (so-called Reborn Dolls). Here, women use doll play to express sexuality-related fantasies of procreation and motherhood without being accused of antisocial inclinations or objectification of babies, although their behavior is criticized and scandalized in the media.

Alhoewel die gebruike van seksrobotte soos in die vorige afdeling genoem dalk tot ’n werklik positiewe verbetering vir kwesbare persone kan lei, hou die stigma verbonde aan sekspoppe en -robotte die potensiaal in om enige positiewe bydrae van hierdie tegnologie tot niet te maak wanneer die gemeenskap mense verwerp wat hulself tot hierdie tegnologie wend.

Laastens is daar die impak op moraliteit vanuit ’n geloofsoogpunt. Herzfeld (2017) argumenteer dat waar die aard van die siening van seksualiteit in voor-Christelike Europese gelowe seksrobotte waarskynlik nie taboe sou maak nie, seksrobotte onversoenbaar is met die Joods-Christelike perspektief op seksualiteit. Binne die Joods-Christelike tradisie is seks verbind met voortplanting, en alhoewel norme oor die afgelope eeu ten opsigte van hierdie verbintenis vervaag het, bestaan die verbintenis steeds. Die teologiese argument teen seksrobotte is te kompleks om hier in besonderhede weer te gee, en die leser word eerder verwys na Herzfeld (2017) se uiteensetting. Dit moet egter genoem word dat die Joods-Christelike geloof ook aanpas by omstandighede, byvoorbeeld die siening van homoseksualiteit, en wat tans onversoenbaar is met die Joods-Christelike geloof, is dalk nie in die toekoms onversoenbaar nie.

6. Slot

Fosch-Villaronga en Poulsen (2020) voer aan dat "these technologies might have long term catastrophic or existential risks", maar ook dat "robot technologies may also benefit a large part of the population." Die tegnologie is nog te nuut en daar kort nog baie navorsing oor die gevare en voordele hiervan. Döring ea (2020) verskaf ’n literatuuroorsig oor die onderwerp en lig juis uit dat daar nog hopeloos te min navorsing hieroor gedoen is. Die werklikheid is dat die tegnologie reeds bestaan, wat dit nodig maak om argumente vir of teen hierdie tegnologie met meer navorsing en gesprekvoering te ondersteun.

Bibliografie

Chatterjee, BB. 2019. Child sex dolls and robots: challenging the boundaries of the child protection framework. International Review of Law, Computers & Technology, 1–22. doi: 10.1080/13600869.2019.1600870.

Cox-George, C en S Bewley. 2018. I, Sex robot: the health implications of the sex robot industry. BMJ Sexual & Reproductive Health, 44(3):161–4. doi: 10.1136/bmjsrh-2017-200012.

Danaher, J. 2017a. Robotic rape and robotic child sexual abuse: Should they be criminalised? Criminal Law and Philosophy, 11(1):71–95. doi: 10.1007/s11572-014-9362-x.

—. 2017b. Should we be thinking about robot sex? In Danaher en McArthur (reds) 2017.

Danaher, J en N McArthur (reds). 2017. Robot sex: social and ethical implications. Cambridge, Massachusetts: The MIT Press.

Döring, N, MR Mohseni en R Walter. 2020. Design, use, and effects of sex dolls and sex robots: scoping review. Journal of Medical Internet Research, 22(7):e18551. doi: 10.2196/18551.

Fosch-Villaronga, E en A Poulsen. 2020. Sex care robots, Paladyn, Journal of Behavioral Robotics, 11(1):1–18. doi: 10.1515/pjbr-2020-0001.

Herzfeld, N. 2017. Religious perspectives on sex with robots. Danaher en McArthur (reds) 2017.

Jecker, NS. 2021. Nothing to be ashamed of: sex robots for older adults with disabilities. Journal of Medical Ethics, 47(1):26–32. doi: 10.1136/medethics-2020-106645.

Knafo, D. 2015. Guys and dolls: relational life in the technological era, Psychoanalytic dialogues, 25(4):481–502. doi: 10.1080/10481885.2015.1055174.

Lindau, ST, LP Schumm, EO Laumann, W Levinson, CA O’Muircheartaigh en LJ Waite. 2007. A study of sexuality and health among older adults in the United States. The New England Journal of Medicine, 357(8):762–74. doi: 10.1056/NEJMoa067423.

McArthur, N. 2017. The case for sexbots. In Danaher en McArthur (reds) 2017.

McEwan, I. 2007. On Chesil Beach. Londen: Jonathan Cape.

Richardson, K. 2016. The asymmetrical “relationship”. ACM SIGCAS Computers and Society, 45(3):290–3. doi: 10.1145/2874239.2874281.

Royakkers, L en R van Est. 2015. Just ordinary robots: automation from love to war. Boca Raton, Florida: CRC Press.

Szczuka, JM en NC Krämer. 2018. Jealousy 4.0? An empirical study on jealousy-related discomfort of women evoked by other women and gynoid robots, Paladyn, Journal of Behavioral Robotics, 9(1):323–36. doi: 10.1515/pjbr-2018-0023.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Kan goed werk! Veral aangesien jy haar maklik sal kan weghou van haar skoonfamilie af 😉

  • Yes. This article is good, recommend everyone to try BeatRealDol, and here are some shops worth learning from.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top