Seisoene op parool deur Hans Pienaar: ’n resensie

  • 0

https://proteabooks.com/index.php/seisoene-op-parool.html

Seisoene op parool
Hans Pienaar

Protea Books
SKU: 9781485311706

Seisoene op parool van Hans Pienaar – digter, romansier, ontledende joernalis en passaatvoël tussen twee tale – verskyn in 2021 tydens die pandemie. Laasgenoemde is een feit wat bygedra het tot die laat lewering van hierdie resensie. Die resensie is bykans deel van die redelik deprimerende tematiek van die bundel, wat handel oor verval. En hoe maklik dit die mens tref

Die onmiddellike temas is verhuising van die binneland na die kus, stedelike armoede, en vinjette oor mense. Op die tweede vlak gaan dit egter oor die verval van ’n generasie, oor die digter se eie ouerword, die nuwe vorme wat ’n lewenslange liefde aanneem, die pandemie, en die verval waarvan die Covid-pandemie sinnebeeldig geword het: die planeet se verval en die planeet se terugkap.

Interessant genoeg kom die verval van ’n politieke droom, die droom van ’n vrye Suid-Afrika, slegs tussen die reëls ter sprake. Tog weet ek dat hierdie bepaalde verval baie sterk op hierdie digterlike psige kon geweeg het. En dis eintlik hierdie half versweë tema, die land se verval, wat die donker naat soos ’n bastoon deurgee in ’n bundel vol melankoliese weefwerk, en wat allerlei metafore vir hierdie triestigheid vind. Dit wat ’n bundel probeer om te versteek, is gewoonlik sy dinamo. Maar dalk is ek nou te eensydig in my vertolking. 

Die seisoene, die kalibrering van die lewe, oftewel die vrugbeginsel van lewe, is reeds lank in postapartheid Suid-Afrika “ingekerker”, en die digterlike verteller loop, metafories gesproke, “vry rond” slegs in soverre dit bietjies-bietjies “toegelaat word”. Hy is immers “op parool”. Ek lees die suggestie raak van ’n “straf” wat as ’t ware uitgedien word deur vermoedelike misdadigers. Die digter lewe sy latere bestaan uit as nasaat van apartheid se “skuldiges”, as aandadige, en binne die kader van “seisoene op parool”.

Hierdie implisiete selfkastyding is ironies, maar ook goed te verstane. Die feit dat die outeur iemand is wat in resistance tot die groot euwel van die verlede gelewe het terwyl dit nog geduur het, en nie sonder koste nie (ek ken sy ander werk), is nie ontersake nie. Dit is ’n ánder noot, een wat net te sagkens opklink, en weliswaar soos ’n kontrabas, in die bundel.

..........
Hier is groot pyn, van teleurstelling betreffende die uiteinde vir ’n lewe toegewyd gelewe aan kritiese digterskap sowel as morele stryd.
..........

Hier is groot pyn, van teleurstelling betreffende die uiteinde vir ’n lewe toegewyd gelewe aan kritiese digterskap sowel as morele stryd. Die bundel se implisiete katvoet-omganery met so ’n reuseteleurstelling in die lewe van ’n skrywer wat veel as joernalis vir bevryding in hierdie land gedoen het of wou doen (meer as heelparty van diegene wat die latere stroping in die hand sou werk), is ’n teken van neurose en een wat ek oral deesdae rondom my sien. ’n Broosheid om ruiterlik te erken dat dit tevergeefs was – of ten minste voorlopig tevergeefs. In die lig van die bydraes van onder meer ’n vergete blanke generasie van voormalige opstandiges, waartoe die digter self behoort het, kan hierdie stilswye beslis as neuroties getipeer word. Maar stil sal dit nie vir lank bly nie, nie as die bundel ook op sy implisiete vlak gelees word nie.

Indien daardie woord neurose in hierdie dikwels pragtige bundel verse voorkom, is dit by wyse van spreke, en sal dit ’n woordspelige soort blom wees. Dit is die soort digter wat Hans Pienaar is. Hy konsentreer op die “rose”, die uitstulpings kleur, wat hierdie paroolseisoene desondanks besig is om op te lewer, en waarvoor ons werklik dankbaar kan wees. Daar is lyding in hierdie land, van diegene wat nooit ’n stem het nie, wat onpeilbaar bly. En ook van die meeste van die mense wat net wil help.

Die gedig wat bogenoemde realiteit die helderste uitdruk – goed verbloem – is “Hondsegedagte”. Ek haal enkele reëls daaruit aan:

Arme hond. Hy sluip hier rond terwyl ons
die brood moet breek. Hy beloer jou met
sy kop omlaag, arme hond.
....

                                        Hy lek
aan sy pote, hy byt sy lieste, en byt
en word een groot fokken

Die gedig eindig daar. Die woord “seer” is onuitgesproke. Die herhalingselemente, wat pyn suggereer, is baie behendig ingespan. Die klankmatigheid van die beste verse is ook meestal baie goed: “Alles kry ’n swaarder / skadu en ’n valer vooruitsig” (“Prilapril”, bl 12).

*

..........

Dit is “Klara Majola”-verse hierdie, geskryf deur ’n politieke joernalis wat nadink. Dit gaan meestal oor die werklik stemloses in die samelewing. Die metafore trek op meer as een vlak deur na verdere dimensies, en dit is die sterk punt. Die swak punt van hierdie siklus is dat die gedigte te veel metafore bevat wat soms bots, dat dit tegnies verder versorg kon gewees het.

..........

In deel 1 van vyf bundeldele word daar gedig oor die seisoene, maar die metafoor “seisoene” is hier meestal sosiaal-polities. Dit druk die lot van die verstotenes uit, met politieke gevolgtrekkings wat uit die verse gemaak kan word. Dit is “Klara Majola”-verse hierdie, geskryf deur ’n politieke joernalis wat nadink. Dit gaan meestal oor die werklik stemloses in die samelewing. Die metafore trek op meer as een vlak deur na verdere dimensies, en dit is die sterk punt. Die swak punt van hierdie siklus is dat die gedigte te veel metafore bevat wat soms bots, dat dit tegnies verder versorg kon gewees het, en dit is iets wat in die redigeerfase uitgepluis kon gewees het. Dit is nie ’n sterk inleiding tot ’n bundel wat verderaan veel sterker verse bevat nie.

Deel 2 bevat liefdesverse, of handel oor mense in intieme oomblikke, insluitende in die spreker se eie lewe, en soms is dit oomblikke wat voel asof dit deur die digter geroofkyk is. Hiervan is die gedig “Soen in kroeg” ’n voorbeeld. Pienaar is op sy sterkste met sulke oomblikke. Die erotiese, asook die stille, ingekeerde oomblik van “die ander” – ’n medemens wat toevallig verbygeskuur gekom het – wat niemand behalwe die digter sien nie (per ongeluk) – is een van Pienaar as skrywer se aantreklikste truuks. Dit is ook een van die sterk punte in sy uitmuntende roman Die generaal.   

Die woord “soen”, as woorddeel uit “seisoen”, figureer homonimies in die siklus se titels. “Nat soen op wang” (ontsier deur die weglating van ‘n tweede “nie”), “Soen langs die pad” en “Soen by ’n begrafnis” is verdere voorbeelde. In eersgenoemde vra die spreker die vrou om hom te help met die tema van “’n soen langs die pad”. Hy vra dit gewoon as skrywer. Sy besluit dan om sy versoek redelik grafies tegemoet te kom met iets in dier voege: “Kom ons klim in die kar dan.” Hulle ry na ’n nabygeleë stroom, waar dinge so ‘n bietjie op die stroomklippies uitrafel, en terug in die kar sê sy: “Jy kan my nog steeds soen as jy wil.” Om die soen as antiklimaks te vermy soen hy dan die bloederigheid van haar knieë.

Duidelik hierin te sien is dat Pienaar ’n narratiewe stilis is. Daarmee bedoel ek hy weet wat om te sê en wat om uit te laat (wat die storie betref), ook hoe om ’n spanningsvolle volgorde van gegewens te handhaaf. Die hoogtepunt in die siklus is daardie begrafnissoen. Gaan lees dit gerus. Vir so ’n narratiewe stilis om van sy uitgewer sowel as redigeerder nie die volle aandag te gekry het nie, is jammer. Dit is veral waar van die laaste afdeling (deel 5). Ek beskou die pas besproke afdeling se liefdesverse egter as die bundel se beste. Mens kan dit telkens herlees en dit bly vars en verrassend.

*

..........
Entropie is egter ’n gepaste, goed gekose metafoor vir die bundel se gemoedstoestand. Dit gaan oor die terugkyklewe van ’n  wit antiapartheid kritikus en joernalis – ’n spesie wat tans deur ’n onbenydenswaardige lewenservaring in Suid-Afrika gaan.
..........

In deel 3, “Entropie”, steek die tema van die ruimtewetenskap, wat die bundel se later afdelings kenmerk, meer kop uit. Entropie slaan op die begrip van die ruimte wat eindeloos begin uitsit het na die Groot Knal, op ’n manier wat uiteindelik tot ’n eindelose uitdunning van hitte sal lei totdat niks anders as afval bestaan nie. Dié teorie is intussen, heel onlangs, heeltemal deur wetenskaplikes gerelativeer. Nie net dink wetenskaplikes nou daar kon meer as een Groot Knal gewees het nie, maar daar is ook die teorie van gelyklopende “eweheelalle” wat in die nanodeeltjies van die kwantumfisika sy oorsprong het. Entropie is egter ’n gepaste, goed gekose metafoor vir die bundel se gemoedstoestand. Dit gaan oor die terugkyklewe van ’n  wit antiapartheid kritikus en joernalis – ’n spesie wat tans deur ’n onbenydenswaardige lewenservaring in Suid-Afrika gaan.

In hierdie afdeling figureer twee metafore wat direk uit die wetenskap kom – die partikel- en die golfmetafoor – en ding met mekaar mee. Dit suggereer die onkenbaarheid van die heelal, en dat kenbaarheid maar net  ’n klein sielkundige nis is wat die mens vir homself, altyd voorlopig, aan die uitkalwe is.

*

Ná deel 4, wat na die reeds genoemde gedig “Hondsegedagte” vernoem is, kom die insiggewende deel 5, getitel “Prometheus”. In die letterkunde van die “Weste” speel die Antieke Griekse figuur Prometheus ’n geweldig groot ontplooiingsrol as metafoor. Pienaar sluit hierby aan. Goethe het byvoorbeeld ’n gedig met daardie naam geskryf, en so ook Kafka (wat Pienaar by name aanhaal). Prometheus is die alternatiewe godheid, wat Zeus uitdaag, en Prometheus is dikwels ’n simbool van die mens wat in weerwil van onmoontlike teenkragte met sy prestasies “godestatus” probeer bereik.

Dit is in hierdie afdeling waar Pienaar sy beeldvermoë en sy krag van tekening, sy slag met woorde, baie goed laat blyk. Daar is sinsnedes wat net die beste waardig is, soos waar Prometheus die geniepsige gode aanspreek: “Weet een ding tog: Pyn is dit waarby/ jul beitel nooit sal kom nie.”

Prometheus word ook simbool vir die laat eietydse mens se dubbelsinnige en skadelike prestasies in die wetenskap: sy uitvindsel van plastiek, die brandstofkultuur, en so meer.

Pienaar se soms pragtige, vindingryke reëls verloor in hierdie afdeling soms hul krag omdat oortollige woorde nie uitgehaal is nie. Hier het die redigeerfase weer eens gestruikel. Daar is reëls by Pienaar wat soms  ’n Wilma Stockenström waardig sou kon wees. Maar hy is een van daardie digters wat in die redigeerproses deurgaans van ’n klankbord voorsien moet wees. Een wat behoorlik funksioneer. Hy verdien meer.

Ek verskaf een voorbeeld uit vele. In “Prometheus ontnaam” staan daar:

    en daar, aan die rand van die see die fallus
van die gevalle ruimtestasie waaraan
die branders kom pluk en die skuim van
die aarde aan die voete van sy panele werp.

Die volgende sou presies dieselfde meer elegant sê:   

           en daar, aan die rand van die see:
      die gevalle ruimtestasie waaraan
          die branders kom pluk en die skuim van
      die aarde teen sy panele werp.

Dit is eenvoudige verstellings wat ’n wêreld se verskil maak.

*

Pienaar is baie kreatief met woorde en beelde: “ontfutselaar”; “Sperrgebietbetreders”; “plunderaar van pluime”; “vergeefselinge”; “vormfokker”; “’n gejeuk in die tattoe”; “geoogdes op die seebodems”; “bottelproppe is sterre wat ons wil uitdelg” – die lys van na asem snakkende sinsedes hou net aan en aan. “Die son steel sy eie skaduwee / .... / soos die hare van ’n weduwee.” Dis baie goed!

En tog moet ek oordeel – om die redes hier bo genoem – dat die bundel in bepaalde opsigte veel beter kon gewees het. Dit doen egter nie afbreuk aan die feit dat Pienaar in Seisoene op parool van die beste reëls en van die indrukwekkendste grepe in ’n lang tyd in die Afrikaanse poësie lewer – ondanks ontsierings en ’n onafheid van die bundel in sy geheel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top