Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee: 'n eerlike blik op verblyf in die buiteland

  • 0

Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee
Skrywer: Ilse Salzwedel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799349306

Klik hier en koop Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee nou by Kalahari.net!

Om te bly of te gly. Dit is ’n debat wat van voor 1994 al woed. En stééds lees ’n mens op gespreksforums en LitNet en in die koerant se briewe-afdelings veroordelende uitsprake teenoor dié wat emigreer, of lofsange van dié wat besluit het die gras is werklik groener aan die ander kant. Wat jou oortuiging is, maak nie werklik saak nie; ons almal word op ’n manier hierdeur geraak. Want wie ken nié iemand wat permanent of tydelik in die buiteland werk en woon nie?

In 2009 het As almal ver is verskyn – ’n bundel stories, sketse, essays, grafiese stories en ’n poskaart hier en daar, saamgestel deur Danie Marais – wat die Suid-Afrikaner se belewenis in die buiteland beskryf. “Suid-Afrikaners skryf huis toe,” lui die titelblad. Joan Hambidge, Chris Barnard, Marita van der Vyver, Antjie Krog, David Kramer – dit is maar enkele van die groottes wat jy hier kon raaklees.

En nou het daar weer ’n boek oor Suid-Afrikaners in die buiteland verskyn: Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee, saamgestel deur Ilse Salzwedel. Dit word verkoop as “fassinerende stories oor Suid-Afrikaners in die buiteland” en herinner natuurlik onmiddellik aan Marais se samestelling.

Maar sit die twee boeke langs mekaar en die omslae wys dadelik vir jou hoe groot die verskil is. Met uitsondering van die skrywer Riana Mouton sal jy in Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee nie ’n enkele bekende persoon raakloop nie. Dit is die gewone man op straat se verhaal – en die meeste van dié in die boek het permanent emigreer.

Die speelse titel gee die toon aan; elke gesin of enkellopende vertel self sy verhaal. Daar is nie mooi hoofstuktitels of opskrifte nie, bloot wie die persoon of gesin is en waar hulle woon: “Die Venters in Hongkong”, of “Die Prinsloos in Finland”. Vir die leser behoort dit ’n aanduiding te gee dat die formaat van die verhale dieselfde gaan wees. Salzwedel het kennelik ’n vraelys gehad wat sy vir al die betrokkenes gestuur het. Dit veroorsaak dat Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee as ’n tipe verslag van verblyf in die buiteland lees. Die doel is om die daaglikse lewe in die vreemde te beskryf. Wat was die moeilikste aanpassing? Hoe verskil jou nuwe land se kos- en sosiale gewoontes van joune? Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Sal jy terugkom? Dít is die tipe vrae wat hier beantwoord word.

Die titel verwys na Jakes Coetzee se sekuriteitswerk op skepe in die Golf van Oman, waar hy bote teen seerowers moes beskerm, Elize Kaltwasser se eerste kennismaking met die rye kameelkoppe wat hare en al saam met afgeslagte konyne in Libië se slaghuise uitgestal word, en die vreemde gewoonte van die Oekraïners om chillies met tee aan te bied waaraan Michele Potgieter gewoond moes raak. Die titel prikkel die leser se nuuskierigheid net genoeg dat jy wíl lees van die lewe dáár waar die gras groener is ...

Maar die gras is in die meeste gevalle nié werklik groener nie. Dit kom jy vinnig agter. Die aanpassing is moeilik en die verblyf in die buiteland nie sonder opofferings nie. “’n Mens voel so half vergete. Jy kom ook gou agter dat die lewe hier in die VSA beslis nie net maanskyn en rose is nie,” vertel Rudolph van Graan in Glendale, Kalifornië. Rudolph het ’n groenkaart gewen en moes binne ses maande na die VSA verhuis indien hy dit wou opeis. Hy en sy oudste seun is sak en pak VSA toe, waar hy spoedig ontnugter is. ’n Groenkaart bied immers nie werk en verblyf daarmee saam nie. Hy was, soos talle ander, nou ’n immigrant. Sy begroting moes haarfyn uitgewerk word; een koppie Starbucks-koffie per maand was sy grootste bederf. Rudolph het vir jare by ’n inbelsentrum gewerk voordat hy as pastoor beroep is. Deesdae gaan dit aansienlik beter met hulle, maar sy ervaring het hom beslis meer begrip en simpatie vir emigrante gegee: “Onthou maar dat jy sekere dinge nooit weer sal hê nie, en dat jy maar bereid moet wees om sulke dinge prys te gee ter wille van die groter saak.”

Dit is nie net die kultuurverskille wat aanpassing in ’n nuwe land moeilik maak nie; ook die taal, humor en verwysingsraamwerk verskil. “Jy moet die hele tyd alles verduidelik – niemand verstaan jou nie en niemand weet waarvan jy praat nie. Jy kom sonder ’n verlede hier aan en moet letterlik van voor af jou pad boontoe oopwerk” (Elize Olivier in Sydney, Australië).

Die redes waarom mense Suid-Afrika verlaat het, is uiteenlopend. Sommige is aa gevolg van ’n liefdesverhouding landuit; ander wou vir hulle kinders beter geleenthede skep; sommige soek beter werksgeleenthede of bevordering; en daar is ook dié wat sendingwerk gaan doen. Wat hulle almal gemeen het, is ’n baie emosionele verskuiwing en aanvanklik moeilike aanpassing in die vreemde. “Al was ons ook hoe goed voorbereid, niks sou ons ooit vir die helse kultuurskok kon voorberei nie. Ons het ook geen familie of vriende hier gehad nie. Ons het stoksielalleen hier aangekom,” skryf Riana Mouton uit Whangaparaoa, Nieu-Seeland. “Ek raak baie omgekrap as emigrante ‘sissies’ genoem word. Dit vat ’n groot man op ’n wilde perd om van land te verander. Veral op die manier hoe ons dit gedoen het. Dit vat ongelooflike guts.”

En dít is wat Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee uiteindelik wil sê: om na ’n nuwe land te verskuif, neem moed en deursettingsvermoë. Dié wat agterbly, oordeel maklik. En ja, dikwels kla ons met die witbrood onder die arm. Want ’n mens besef eers wat jy het wanneer jy dit kwyt is.

Maar moenie dink Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee gee slegs verslag oor mense vol heimwee wat sukkel om aan te pas nie. Daar is wonderlike suksesverhale van mense wat ’n baie gelukkige en bevredigende lewe in die buiteland het. Hennie en Annabelle Greef was weens Hennie se werk as ingenieur al in Sumatra, Chili, Peru, Argentinië, Brasilië, Taiwan, Suid-Korea en Sulawesi. Hulle is gesoute reisigers wat maklik van plek tot plek trek. ’n Mens kan nie anders as om só ’n lewe te verromantiseer nie; hulle beleef een avontuur na die ander, maak vriende in lande regoor die wêreld en leef klaarblyklik sorgvry en gelukkig. Reinette Anastagi is sielsgelukkig in Italië, ten spyte van die vreemde burokratiese stelsels. Reinette en haar Italiaanse man het vir ’n jaar in hulle huis op wiele, “Die paleis”, in Brasilië gewoon voordat hulle ’n verdere twee jaar deur die VSA getoer het. Nou woon hulle in Farnese, want “as ’n mens oud word, wil jy in jou eie land woon, ten spyte van die probleme en ten spyte van enige hartseer of ongelukkigheid wat jy in die land ondervind het”. Ek veronderstel by implikasie sal Reinette dus terugkeer na Suid-Afrika na Roberto se dood.

Uit al sewentien die verhale in Seerowers, kameelkoppe en chillies is dit duidelik dat die haarworteltjies van Suid-Afrika maar altyd agterbly. Daar ís voordele daaraan verbonde om in ’n ander land te woon: beter openbare vervoerstelsels, minder geweld, beter geleenthede vir kinders. En solank jy in gedagte hou dat jy jou nuwe land en sy mense onvoorwaardelik moet aanvaar, en besef dat jy nooit ’n boorling van daardie land sal wees nie, maar die ewige “inkommer”, is die aanpassing makliker, wil dit voorkom.

Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee se betowering lê in die feit dat die man op straat self sy storie kan vertel. Maar ongelukkig veroorsaak dit ook dat die vertellings by tye verkap en rukkerig voorkom. Daar is onnodige herhalings, en swak formulerings, en hier en daar het hinderlike taalfoute ingesluip. Daar is sewentien hoofstukke in die boek, maar teen die einde raak die verhale effe voorspelbaar, omdat soveel daarvan om dieselfde vrae en temas draai. Dit sou interessant wees om te sien wát hierdie mense vertel as hulle slegs twee of drie aspekte (van hulle keuse) van hulle verblyf in die buiteland kon bespreek.

Nietemin, die doel van hierdie bundel is om verslag te gee van die alledaagse lewe van gewone Suid-Afrikaners in die buiteland. Suid-Afrikaners wat nie net deurreis nie, maar semipermanent of permanent na ’n ander land verhuis het. En daarin slaag Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee. Die vertellings is interessant en informatief en gee ’n nuwe, eerlike blik op verblyf in die buiteland. As jy daaraan dink om te emigreer, koop die boek en lees dit. As jy nie daarna van plan verander nie, sal jy immers weet wat in die buiteland op jou wag.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top