Seeman
Met kompas in hand
en souterige smart wat
in syfergate val
in die logboeke van lank gelede
staan ek
voor jou
voor wuifende skare
voor handelsweë
wat fluister van volksvreemde
fauna
Iewers tussen die lugspeëlings
en dawerende deinings
weet ek
lê die regte koördinate
ten spyte van of
wie weet?
dalk juis omdat
ek verseg om my kaarte teen my bors te speel
maar in stede
in techno-kleur reliëf die kruine
en kraters uitstippel
standplase uitmeet
en lighuise vestig
als in die hoop dat jy die
wrakke sal miskyk
lynreg sal koers hou
en veilig anker gooi
om die gebied herbergsaam te verklaar.
![]() |



