Estelle Kruger het inligting van die Sedgefield Leeskring laat weet. Lees hieronder wat sy met LitNet se lesers rondom een van hul besprekings en staptogte wil deel. Enige ander lesers wat ook van hulle leeskringe wil vertel, is welkom om hul leeskringervarings vir die LitNet-redaksie te laat weet.
Die lang man sonder skaduwee is niks anders as die grondpad wat so deur die Karoo kronkel en wat die reis van een punt na ’n ander soveel makliker maak. Sedgefield Leeskring het behoorlik die natuurpad saam met Antoinette en oom Johannes geloop tydens Dianna Lombard se bespreking van die boek.
Antoinette sê elke mens word met ’n pad gebore. Sy loop al sewentien jaar die natuurpad saam met oom Johannes om die geheimenisse van kruie te ontdek.
Die dames het weer opnuut bewus geraak van die waarde van kruie en al het hulle nie al die kruie van die Karoo tot hulle beskikking nie weet hulle darem nou waar om vir raad aan te klop. Oom Johannes se wysheid het almal geraak: hy vertel, onder andere, dat elke mens ’n boompie in sy hart het en dat jy elke dag moet stil word en onder jou boompie gaan sit, jy moet jou boompie water gee, jou trane … maar dit hoef nie hartseertrane te wees nie. So vind jy die fontein binne-in jou, solank jy net sorg dat jou boompie vrugte dra. Antoinette se skryfwerk is uitmuntend in keurige Afrikaans.
Vooraf het Dianna met Antoinette ’n kort e-gesprek gevoer:
___________________________________________________________________________
9 September 2019
Liewe Antoinette
Ek is Dianna Lombard en woon in Sedgefield. Ek wil jou net graag laat weet dat ons Sedgefield Leeskring jou boek, Die lang man sonder skaduwee, op 27 September 2019 bespreek. Gewoonlik lees al die lede die boek wat bespreek word en die leiding van die bespreking word op ’n vrywillige basis geneem.
Ek neem die bespreking van jou boek waar en hoe geniet ek nie die voorbereiding nie! Ek het my BA-graad in 1971 aan UP behaal en vele jare daarna ook ’n diploma in skoonheidsterapie behaal. Aromaterapie was een van my vakke en kan ek my vereenselwig met die Karookruie se genesende uitwerking!
Vir my voorbereiding lees ek toe ook Kruidjie roer my. Ek moet sê dat jy en oom Johannes net te fiks is vir my – ek het telkens pootuit by jou huisie aangekom. Die raaisels is iets ongewoon!
Baie dankie vir jou tyd met die lees van my e-pos! Ek laat weet jou graag hoe ons bespreking afgeloop het.
Groete en liefde
Dianna
___________________________________________________________________________
16 September 2019
Hallo Dianna
Dis so heerlik om te hoor dat julle Die lang man sonder skaduwee gaan bespreek, dit was vir my heerlik om die boek te skryf! Ek hoop dat julle ’n wonderlike tyd sal geniet en lekker sal lag oor die raaisels.
Dis baie droog by ons, so ons kry swaar om al die kruie in die hande te kry, maar ons weet die Groot Tuinier sal die reën op Sy tyd bring.
Karoogroete
Antoinette
___________________________________________________________________________
25 Oktober 2019
Beste Antoinette
Ons hoop dit gaan goed met jou en dat ons kosbare Karoo darem al so ’n bietjie reën gehad het!
Soos beloof laat weet ek graag dat ons boekbespreking baie goed afgeloop het! Ek dink die dames het weer opnuut bewus geraak van die waarde van kruie. Al het ons nou nie al die kruie van die Karoo tot ons beskikking nie, weet hulle darem nou waar om vir raad aan te klop. Ons het baie pret gehad en hulle het ook lekker geskaterlag vir die slapstingelstres. Miskien gaan oom Johannes nog vanuit Sedgefield gekontak word vir daardie raad.
Die dames van Sedgefield Leeskring wens jou almal net die allermooiste toe vir jou toekoms en sien daarna uit om nog meer van jou Karoo-verhale te lees.
Baie groete en liefde
Dianna
___________________________________________________________________________
1 November 2019
Hallo Dianna
Dis wonderlik om te hoor dat julle boekbespreking so lieflik verloop het! Ons bly glo dat dit sal reën, ons moet net nie kleingelowig word nie ...
Dankie vir jou mooi wense.
Karoogroete
Antoinette en Oom Johannes.
Kommentaar
'n Vriendin het net gister hierdie inspirerende kort film oor Antoinette en Oom Johannes vir my aangestuur. Dis hartroerend en vol lewenswysheid.
https://youtu.be/Xup8yGqjYQw