Sê vir Hannes van Brendan

  • 0

Foto: Canva.com

Gewoonlik is Linda hierdie tyd van die dag druk in die kombuis besig met die aandete, maar Hannes is al ’n uur lank tuis van die werk af en sy is steeds nêrens in die huis of op die werf te sien nie.

Hy vind ’n lysie doendinge wat op die vloer langs die bed beland het.

Koop brood, meel en pleisters 
Ruil bibboeke om
Gaan haal eiers by boerewinkeltjie 
Sê vir Hannes van Brendan

Vreemd. Hy bel weer ’n keer en nogeens kom haar warm stem: “Hallo, ek is Linda. Ek is nie nou beskikbaar nie, maar laat gerus ...”

En weer laat hy ’n stemboodskap.

“Is alles oukei?”

“Waar’s jy? Hoe laat kom jy?”

“Jy maak my bekommerd.”

’n Rukkie lank volg hy die sportnuus op TV, maar sy ore bly gespits of hy haar motor op die oprit hoor inkom.

Sy sou by haar vriendin, Rita, kon wees, hoewel sy nooit hierdie tyd van die dag meer kuier nie. Daarvoor is sy te geheg aan haar huis. Hy kry Rita se huisnommer in die foongids en bel.

“Nee, Hannes, ek het haar seker ’n week laas gesien. Sy was nogal skaars die afgelope tyd. Maar sê tog groete as sy tuiskom en dat ek haar mis.”

Die son se strale lê skuins oor die huis langsaan se dak. Dit voel vir hom so ongewoon sonder Linda dat hy teen die deurkosyn gaan leun en sy hande deur sy hare trek. Is daar iets wat hy besig is om mis te kyk?

Brendan. Hoekom het sy nie sommer vanoggend klaar gesê nie? Sy kan soms alledaagse goed soos pampoene en verskeie gesprekspunte in een asem te noem. Soos nou op hierdie doenlysie. Dis Linda en dis hoekom hy op haar verlief geraak het. Sy leef in ’n gewiglose seepbel.

Dalk is dit net die naam van ’n nuwe fliek, of dalk ’n hond by die dierebeskerming. Dit kan niks ernstigs wees nie. Tog is daar ’n hol kol op sy maag wat hy nie weggedink kry nie. Sy kan netsowel in gevaar wees en wou sy hom nog waarsku oor iemand wat haar lastig val.

Hy klim in sy viertrek en ry deur die buurt. Dis sommer verspot, maar hy onthou skielik voor die Chinese restaurant dat sy eenmaal gesê het: “Kyk die pragtige papierlanterntjies!”

Self hou hy nie van Chinese eetplekkies nie.

En langs die spruitjie sou sy sê: “Stop net gou! Ek wil surings pluk om huis toe te vat.”

“Hoekom wil jy surings hê?”

“Sommer mooi in ’n glas water. En die stingels is lekker in waterblommetjiebredie.”

By die kinderpark is dit al skemer tussen die bome. Dikwels kom sy op ’n Saterdag hierheen met twee kinders van die Botterblom Kindertuiste. Hy het al gesien hoe stoot sy hulle op die swaaie en wiel totdat hulle gil van lekkerkry. Onder die bome lees sy dan ’n storie uit ’n boek voor. Nou lyk die swaaie, wiel en wipplank verlate op die grens tussen donkerte en lig net voor dit nag word.

Self wou hy nog nooit kinders hê nie, al het sy al dikwels in die verlede die onderwerp aangeroer. Linda met ’n boepie? Deesdae weet sy dit is ononderhandelbaar.

Haar motortjie is nie tussen die ander wat by die supermark geparkeer staan nie. Langsaan lok die neonteken van die pizza-plek. ’n Groot pizza is net die antwoord. As sy dalk al by die huis vir hom wag, kan hy haar sommer daarmee verras.

“Sit ekstra kaas en pynappel by,” sê hy met ’n glimlag. “Sy is ’n regte pynappellekkerbek.”

Terwyl hy wag, bel hy weer vir Rita.

“Brendan?” herhaal Rita, “Nee, ek het nog nie die naam by haar gehoor nie. Wat ek wel weet, is dat sy rondverneem het na iemand betroubaar as tuinhulp.”

Dalk het sy ’n kandidaat vir die tuinwerk gevind en wou dit met hom bespreek. Hy loop by die supermark in en staan ’n paar oomblikke daar en kyk na die emmers vol blomme. Lelies.

“Ek is mal oor lelies!” het sy gesê daardie eerste aand toe hy haar in die foyer van ’n teater ontmoet het. Sy het haar verkyk aan ’n vaas vol lelies.

Laasjaar het sy aangesluit by die tuinbouklub. Sy wou hê hy moet ook, maar hy was min lus vir tuinboupraatjies. Ná die sportprogramme saans kyk hy movies totdat hy vaak raak. Hy het oorgenoeg spanning by die werk, en daar is net nie nog tyd vir tuinpraatjies ook nie. Onlangs het sy begin leliebolle plant. Hy draai om en stap weg van die blomme af buitentoe.

Hulle baklei amper nooit nie. Sy laat hom begaan as hy wil movies kyk of Saterdae gaan gholf speel. Hy sorg goed vir  haar. Sy het nie nodig om te gaan werk nie. Om die waarheid te sê, hy is dodelik gekant daarteen. Net soms beweeg gesprekke in die rigting van skoolhou. Onlangs het sy glo met ’n skoolhoof gepraat. As hierdie Brendan nie ’n tuinhulp is nie, is dit dalk die nuwe skoolhoof. Hy sal wel sorg dat die skoolhoustorie oorwaai.

Hulle twee is gelukkig getroud. Net onlangs nog het hy dit weer besef toe hulle bure, Koos en Bettie, se huwelik op die rotse geloop en die huis langsaan verkoop is. Sommer netso. Alles daarmee heen. Iemand het intussen weer langsaan ingetrek. Hy weet net dis ’n ou wat grassny op Saterdagmiddae.

Sterrekunde is nog ’n gier. By die biblioteek kry sy gereeld boeke oor die onderwerp, of lees daaroor op die internet. Terwyl hy movies kyk, lê sy buite op die grasperk na die naghemel en opkyk. Onlangs het sy na ’n tweedehandse teleskoop begin soek. Dalk is dit ’n Brendan wat ’n teleskoop iewers geadverteer het, alhoewel hy twyfel, want dan sou sy tog op die lys geskryf het Sê vir Hannes van teleskoop, nie Sê vir Hannes van Brendan nie.

Toe hy in die oprit by die huis stilhou, met die pizza langs hom, weet hy sommer sy is nie daar nie.

Sou sy na haar ma toe gery het sonder om hom te sê? Vyf-en-twintig kilometer na die volgende dorp toe as sy nie betyds voor donker kan tuis wees nie? Haar ma was die afgelope tyd siekerig. Miskien het sy bekommerd geraak en skielik besluit om te gaan kyk hoe dit gaan.

Sy skoonma klink aangenaam verras toe hy bel en belangstellend uitvra oor haar gesondheid. Hy wil nie sê dat hy eintlik na Linda soek nie. Sy sal tog self noem as Linda daar opgedaag het. Sy wei lank uit oor haar en haar papegaai se skete en kwale en daarby oor die stukkende ketel en stofsuier. Toe hulle eintlik alreeds gegroet het, vra hy haar tog.

“Het Ma nie dalk vandag iets van Linda gehoor nie?”

“Nee, Hannes, ek het nie. Hoekom vra jy? Is sy dan nie by jou nie? Sy het wel vanoggend gebel en gesê sy moet op baie kort kennisgewing vandag die karretjie invat vir ’n diens. Dit sou mos eers môre wees.”

Dalk was sy hoeka bang om môre saam met die garage se motorbestuurder huis toe gebring te word. Maar hoekom het sy hom nie laat weet van die nuwe reëlings nie?

Hy bel vir Fritz, die baas van die garage. Ja, Linda het die kar ingebring en ’n bestuurder het haar teruggeneem huis toe. Sy naam? Maans het haar huis toe gevat. En hy hoef nie te bekommer nie, die kar sal môre gereed wees.

Hy laat nogeens ’n stemboodskap.

“Waar is jy, Linda? Ek is bekommerd oor jou, man. Ek het al orals gesoek,” Hierdie keer sukkel hy om die tjank uit sy stem te hou.

Agterna staan hy in die nagdonkerte met die foon nog in die hand. Brendan.

’n Vermoede kom by hom op. Miskien het sy die lys daar laat val juis vir hom om te sien. Maar hoekom? Moet hy iets daaruit aflei? Dis tog ’n onsinnige gedagte.

’n Rukkie loop hy heen en weer in die oprit. Dis ’n maanlose nag. Hy stoot die hek oop en gaan staan onder die sypaadjieboom en kyk ’n paar oomblikke straatop en straataf. Hy sal moet polisie toe. Moet hy net eers die hospitaal bel? Hy talm nog. Daar is ’n stilte in die lug. Dan loop hy die entjie tot by die buurman se hek en besluit om die voordeurklokkie te gaan lui. Hier het Koos en Bettie nog tot onlangs gewoon voor die breukspul. Hy sal moet verskoning maak dat hy nou eers met die alleenloper kom kennis maak. Toe hy die knoppie druk, hoor hy die klokdeuntjie duidelik binne weerklink, maar niemand kom maak oop nie. Deur die riffelglas skyn ’n flou lig iewers, maar alles is doodstil.

Hy huiwer, maar stap dan tot by die heining wat die voortuin van die agtertuin skei. Hy tuur in die skaduwees in. In die donkerte verbeel hy hom hy sien twee figure langs mekaar op die gras lê. Dit lyk al asof hulle na die sterre lê en kyk. Hy kyk op in die wolklose nag na die naghemel vol flonkerende sterre. Die Orion? Die Suiderkruis? Sterre is maar net sterre. Sy oë soek weer die skaduwees op die grasperk. Nee wat, dis maar net sy verbeelding.  

Dis toe hy omdraai om terug te stap dat hy die man se stem hoor, en haar hoor lag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top