Sê my velkleur hoe ek klassifiseer word en hoe dom of slim ek is?

  • 13

Helen-Rose van Wyk (foto verskaf)

Lees hierdie artikel ter agtergrond van Helen-Rose se mening:

Rasseherrie oor akademiese artikel by US

 

Ek sit in my klein koshuiskamer, want ek het besluit honneurs is nie genoeg nie en wil maar weer verder studeer. Ek browse deur Facebook iewers in verlede week en ek kom op ’n skakel af wat iemand share op my news feed: “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Colored South African women”. Ek het met my honneursskripsie twee van Anzil Kulsen, wat ’n bruin vrou is, se romans gebruik vir my studie. Dit het gehandel oor die moeder-dogter-verhouding en oor die posisie van die bruin vrou. Daarom het ek besluit om die artikel te lees. Ek het onmiddellik byna aan my koppie koffie verstik, want wow ... Sê my velkleur hoe ek klassifiseer word en hoe dom of slim ek is?

Ek het altyd hierdie wonderlike prentjie van Stellenbosch in my kop gehad, maar ek dink daardie prentjie het op daardie oomblik verander. Hoe kan hulle ’n artikel laat publiseer wat duidelik sê dat bruin vrouens minder intelligent is as ander vrouens? Van wanneer af bepaal jou velkleur jou intelligensievlak? Ek huil. Was daar dan geen akademici wat geskop het teen hierdie absolute waansin nie? Jy kan my slaan met ’n plank as ek jok, maar ek is doodseker daar is genoeg feministe en vele ander op die paneel wat verantwoordelik is vir etiese klaring en kon skop teen hierdie navorsingstuk (as jy dit regtig navorsing kan noem). Ek het so baie vrae vir die etiese komitee en die navorsers wat in die eerste plek hiermee begin het.

Ons bruin vrouens – ja ek is een van hulle – baklei elke liewe dag net om raakgesien te word en om iets te beteken vir ander ... net om dan hier in my koshuiskamertjie te lees dat ons “intellectually inferior” is.  My gesigvelle is afgeruk. Ek het geen woorde nie ... Dit gaan absoluut my verstand te bowe dat my “cognitive abilities” gemeet moet word aan die blokkie wat ek moet afmerk wanneer ek vorms vir Binnelandse Sake moet invul.

Ek self doen navorsing oor die posisie van bruin vroue in die Afrikaanse letterkunde. Gedurende die laaste dekade van die 20ste eeu word die eerste romans deur twee swart Afrikaanse vroueskrywers, Frieda Gygenaar en EKM Dido, gepubliseer. Sedertdien verwerf swart Afrikaanse vroueskrywers ’n toenemend sterker posisie binne die Afrikaanse literêre sisteem (Cochrane 2008:31). Die term swart kan egter baie misleidend wees, want daar is baie min swart skrywers in Afrikaans en dit plaas dus almal onder een sambreel. Die problematiek daaragter is dat dit van die bruin skrywers ook dan ’n onderskeidende ras maak, wat inwerk op rassisme waarteen ons juis weerstand wil bied. Dit werk ook in op wat SP Benjamin gesê het: dat hy nie ’n swart of bruin skrywer is nie, maar net ’n gewone skrywer (Cochrane 2008:33). Hy wil geen kleur aan hom verbind hê nie. Hy wil net skryf – soos ons geen kleur aan ons gebind wil hê nie. Ons wil net leef en nie hoor hoe dom ons kamma is nie.

Die marginalisering van bruin en swart stemme tydens apartheid het ook ’n baie groot rol gespeel met die publisering van bruin vroueskrywers. Dit was egter ’n meer politiese skuif van baie bruin en swart Suid-Afrikaners om nie in Afrikaans te skryf nie. Hierdie groep skrywers wou dikwels nie eintlik in Afrikaans skryf nie, want Afrikaans was gesien as die taal van die onderdrukker. Hulle wou nie herinner word aan alles waardeur hulle moes gaan nie en verder verwerp word nie. Jy kan teruggaan in die geskiedenis van Suid-Afrika. Vrouens soos Saartjie Baartman, Frances Baard en Winnie Mandela was onderdruk. Ek hoef nie eers so ver terug te gaan nie. Kyk na Caster  Semenya ...

Bruin Afrikaanse vroueskrywers soos Jolyn Phillips, Ronelda Kamfer en Shirmoney Rhode begin nou eers die kanon verander. Hulle is nogal baie beroemd deesdae ... selfs internasionaal bekend. Miskien kan die “belangrike” mense wat die navorsing gedoen het, hulle werk bietjie lees.

Maar hier sit ek nou steeds met my beker koffie (miskien moet ek dit uitgooi en bietjie vodka ingooi vir die skop) en ek dink maar aan die toekoms van Suid-Afrika en oor die posisie van die bruin vrou. Ons is altyd in die middel of onder. Ons baklei om bo te kom, maar dan word ons “intellektuele vermoëns” bevraagteken. Ons kan net eenvoudig nie wen nie.

Ek wonder ook hoe dit sou wees as hulle die studie by UWK moes doen waar die meerderheid studente bruin is en nogal nie “intellectually inferior” is nie, want ons doen nogal goed vir onsself.

Stellenbosch, ek weet julle het jammer gesê, maar “the damage is done”. Dis klaar te laat.

Kleurlingvrouens, ek is so jammer. Die ander: Kan julle asseblief ons gesigvelle teruggee?

 

Vriendelike groete

’n Bruin student met vodkakoffie.

 

Bron

Cochrane, N. 2008. Die swart Afrikaanse vroueskrywer (1995–2007): nog steeds ’n literêre minderheid binne ’demokratiese bestel? Acta Academia 40 (1): 31-42.

  • 13

Kommentaar

  • Helen-Rose, jy is ’n pragtige jong dame met `n mooi naam en is ook `n goeie skrywer, maar ek dink jy sit die pot effe mis in jou analise.
    Jy opper die volgende vraag: "Hoe kan hulle ’n artikel laat publiseer wat duidelik sê dat bruin vrouens minder intelligent is as ander vrouens?"
    Die “kontroversiële” studie vergelyk nie bruin vroue met vroue van ander rasse nie. Daarom is my gevoel dat jy op die kontroversie-wa spring? Op sigself is daar niks fout met die studie nie; die titel is wel ondeurdag en is na my mening verantwoordelik vir die woedende reaksies.
    Die titel alleen perpetueer die siening dat alle bruin vroue oor lae kognitiewe denke beskik. Ek reken die studie sou nie een wenkbrou laat lig het as dit getiteld was: "Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women from low socio-economic backgrounds". Bygesê, die navorsers van die gewraakte artikel stel dit duidelik dat die aantal vroue wat deelgeneem het aan die studie baie klein is en woonagtig is in `n sekere gebied (geteister deur armoede). In die lig is die vroue nie verteenwoordigend van alle bruin vroue in Suid-Afrika nie.
    Ek het die studie gelees en aldus my mening voldoen die studie metodiek aan die verlangde etiese voorwaardes. Die vraag is eerder: Is so `n studie nodig? Ek dink enige etniese groep wat daagliks lewe in armoede en akademies ongeletterd is, sal in alle waarskynlikheid lae kognitiewe vermoë toon? Dit is nie nodig om `n rocket scientist te wees om tot die slotsom te kom nie.
    Ter afsluiting haal ek aan uit die artikel "Rasseherrie oor akademiese artikel by US" (Die skakel geplaas ter agtergrond van jou artikel), "daar is niks rassisties aan die studie nie, netsoveel so as wat ’n studie van skisofrenie onder Xhosas rassisties is".

  • Mooi gesê. Ekself as ’n bruin vrou voel sleg beledig. When will the racial insults stop? Van ons voorvaders tot by ons. Is daar dan geen einde aan die swaarkry nie? Net die Hemelse Vader kan ons verlos van die bose geeste wat hulself intelligente mense noem.

  • Die gepubliseerde artikel oor die intellektuele vermoë van bruin vroue het dieper gesny, seergemaak as wat ons ooit kon dink.
    Slegs ’n verskoning deur die Universiteit Stellenbosch begin al hoe meer onverskoons klink.
    Dankie vir jou roerende artikel Helen-Rose.

  • Rehana Mohamed

    Piet Pompies se lang verduideliking absoluut snert ... Hierdie stuk, myns insiens ...(en ek is so bly vir baie ander) is g'n navorsingstuk nie ...

  • Rehana Mohamed, glo my, jy het geen idee wat `n "lang verduideliking" is nie. Jou repliek op my kommentaar, myns insiens, is snert. Uit blote nuuskierigheid, lig asb die dele van my repliek uit wat snert is? Rehana, dit is afleibaar in jou kommentaar dat jy soos baie ander emosioneel reageer slegs op die titel van die studie, nie die studie gelees het nie, en nie `n akademiese navorser is nie. Ek daag jou uit tot `n vriendelike debat, maar glo my, jy is nie eens amper reg hiervoor nie.

  • Di studie moes liewer in verskillende gebiede gedoen wees waar armoede en werkloosheid 'n rol speel. Bv ek's seker dat in verskillende plakkerskampe dieselfde bevindings gekry sou word. Na my mening etikiteer jy nie 'n bevolkingsgroep wanneer so 'n studie gedoen is nie. Dit maak seer.

  • Natuurlik is dit nie velkleur wat jou menswees bepaal nie, maar wel jou opvoeding en jou kultuuragtergrond. Dit bly verstommend dat daar onophoudelik gekla word dat velkleur nie gebruik moet word om mense te etiketteer nie, maar ek kan my herinner dat die betrokke bevolkingsgroep lank terug beswaar gehad het oor die benaming "kleurling" en toe verkies het om "bruinmense" genoem te word. Dit lê tog nie op die weg van ander groepe om te besluit watter naam die kleurlinge/bruinmense verkies om te hê nie. Duidelik gee witmense nie om om so genoem te word nie en skynbaar ook nie swartmense nie.

    Besluit tog asseblief wat julle genoem wil word sodat almal die naam van voorkeur kan gebruik.

  • Ek het nie die navorsingstuk gelees/bestudeer nie. Ek wil/kan egter net my mening oor die kommentare lewer. Ek verstaan die emosie van die mense/groep op wie dit betrekking het. Ek blameer die media wat die navorsingstuk bekend gestel het. As dit 'n navorsingstuk was het dit nie dalk meriete nie? Nou spring die emosie in aksie en die ou holrug geryde cliché, apartheid kom te voorskyn. Mense is te gou om gevolgtrekkings/afleidings te maak en kommentare te lewer oor iets waarvan hulle net gehoor het. Die swartes en blankes (boere) word daagliks as agterlik, onnosel of wat ook al uitgekryt. Vergewis jouself eerstens van die feite en agtergrond voordat jy jou naam met 'n plank slaan.

  • Helen-Rose en al die seergemaaktes, gee vir ons 'n akademies gefundeerde analise en verduidelik waarom die navorsingsartikel verkeerd of swak is of tot foutiewe gevolgtrekkings gekom het. Mens vat nie navorsing aan met emotiewe tirades nie, jy bewys stap vir stap op wetenskaplike wyse wat fout is daarmee, dan sal rasionele mense kennis neem. Ongelukkig word die akademiese wêreld alreeds deur politieke korrektheid oorheers.

  • Ismail Lagardien

    There is nothing wrong with emotional responses. To deny this is either very crude positivist dogma, or simply sexist. Human responses are not always driven or shaped by “rational” thought. And the suggestion that the writer is “emotional” is typically sexist; where men are always rational and women emotional. I, too, was shocked by the research finding and responded with anger. Imagine if human emotion was removed from all social relations ... as for ai ja ja’s scientism, the less said the better.

  • Pieter. Kroutz

    O, hoe kan Afrikaanssprekendes op mekaar skel! Jammer mense , met my lae intelligensie het ek 'n stadige lesing (slow motion) nodig om al jul skellery te verstaan.
    Laat weet my wanneer julle bedaar het.
    Afrikaanse groete
    Pieter

  • Renier du Toit

    Indien 'n soortgelyke studie gedoen word onder blanke vrouens in plakkerskampe, sal die resultate dieselfde wees en niemand sal die navorsers oor die uitslae verkwalik nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top