
Die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele 2012 in Londen is die groot internasionale geleenthede van 2012 en wek massiewe belangstelling dwarsdeur die wêreld. Vir die deelnemers en afrigters span dit die kroon op jare se harde werk en kompetisie om uiteindelik tydens die grootste internasionale geleentheid te kan meeding. Citius, Altius, Fortius – vinniger, hoër, sterker – die Olimpiese leuse, geskep deur Baron Pierre de Coubertin in 1894, motiveer atlete om hul vermoëns verder te ontwikkel om hulle in staat te stel om ’n medalje te kan wen of ’n rekord te kan opstel.
Dit is veral die ongeveer 4 000 gestremde deelnemers aan die Paralimpiese Spele wat baie respek en bewondering by ’n mens laat ontstaan. Die geleentheid om voor ‘n skare van 80 000 op die atletiekbaan deel te neem, is oorweldigend, maar onderstreep wat vermag kan word as mense in staat gestel word om hul potensiaal ten volle te ontwikkel. Dit is werklik fantasties om te sien dat die skare die rolstoelatlete, atlete met gids-hardlopers, Oscar Pistorius en ander atlete wat op lemme hardloop en vele ander gestremde atlete ewe hard aanmoedig as wat hulle vir Usain Bolt en ander ondersteun het. Die vertoning van die gestremde sportmanne en -vroue is ‘n toonbeeld van wat die bemagtiging van mense kan ontsluit. Jong sportmanne en -vroue se drome word werklikheid.
Die SBA se fokus is om die potensiaal van mense te help ontsluit deur die bevordering van die sprekers van Afrikaans se uitdrukkingsvermoë, lewensvaardighede en selfverwesenliking deur Afrikaans. Ons wil mense in staat stel om in die gees van die Olimpiese leuse hoë ideale te kan stel en dit te kan uitleef, om toekomsdrome te kan droom en jou drome te kan najaag. Die SBA se bydrae mag dalk binne die groot see van behoeftes in Suid-Afrika klein wees, maar dit maak ’n groot verskil in die lewens van die mense wat deel is van die programme van die SBA.
Die afgelope jaar was ‘n tyd van vernuwing vir die SBA. Teen die einde van 2011 het Christo van der Rheede, vorige hoof? uitvoerende beampte, die SBA verlaat om die leisels by die Afrikaanse Handelsinstituut oor te neem. Ek wil namens al die trustees ook by hierdie jaarvergadering baie dankie sê vir die enorme rol wat Christo gespeel het om die SBA uit te bou, relevant te hou en vennootskappe oor ‘n wye spektrum te bou. Dit het ’n goeie fondament gelêvir die nuwe HUB, Danie van Wyk, wat sedert 1 Januarie 2012 aan die stuur staan. Hy het ’n goed funksionerende organisasie gekry met programme wat al vroeg in die jaar begin het en waarby hy dus vinnig moes inval. Een van die eerste aktiwiteite was die SBA se deelname aan die debatte oor die nuwe SA Talewet, waaraan ons konstruktief deelgeneem het. Die SBA sal, saam met die Afrikaanse Taalraad, moet dophou hoe die proses van implementering verloop en sal ook daar die nodige insette lewer om erkenning aan Afrikaans as amptelike taal te gee. Danie het in hierdie afgelope paar maande gemaklik gegroei in die rol van uitvoerende hoof en is ’n aanwins vir die SBA. Mag jy die SBA tot nuwe hoogtes lei. Ons het ook ’n nuwe kantoorbestuurder, Jackie Swart, gekry, wat werklik ’n verskil maak. Strukturele vernuwing het ook plaasgevind met die skuif van die SBA se kantoor uit die middestad na die Tygervallei-korridor, of nuwestadskern van Kaapstad. Dit is in die hart van die groot ontwikkelingsnodus van Kaapstad wat in die volgende dekades baie aandag gaan kry.
Ook wat die aktiwiteite van die SBA betref, het daar vernuwing gekom. Vir die eerste keer is Wiskunde ook deel van die programme. Die lae vlakke van syfervaardigheid in Suid-Afrika, die tekort aan leerders wat matriek met wiskunde as een van hul vakke slaag en die tekort aan voldoende gekwalifiseerde Wiskundeonderwysers is genoeg rede om betrokke te raak om ’n verskil te maak. Tydens die bekendmaking van die uitslae van die geletterdheids- en syfervaardigheidstoetse wat in 2011 in die Wes-Kaap onderneem is, is ’n redelik kommerwekkende prentjie geskets. Die uitslae van die toetse, wat deur die Universiteit van Pretoria onderneem is, was as volg:
| Graad |
Slaagsyfer |
|
Graad 3 geletterdheid |
30,4% |
|
Graad 6 taalvaardigheid |
31,5% |
|
Graad 9 taalvaardigheid |
44,2% |
|
Graad 3 syfervaardigheid |
47,6% |
|
Graad 6 wiskunde |
23,4% |
|
Graad 9 wiskunde |
10,4% |
Dit is dus geen verrassing dat onderwys een van die kritieke fokusareas in die Nasionale Beplanningskommissie se verslag, National Development Plan 2030 – Our future make it work, is nie. Die SBA lewer reeds ’n belangrike bydrae om leerders se vaardighede te ontwikkel en kan in die toekoms ’n nog groter bydrae maak. Hierdie statistiek regverdig ook die SBA se besluit om die bevordering van Wiskunde in te sluit in die spektrum van programme wat aangebied word. Die SBA Wiskunde-olimpiade vir Graad 7-leerders het met die hulp van die SA Akademie afgeskop en alhoewel dit ‘n klein begin gehad het, dink ek dit sal vinnig momentum kry en vir baie leerders ’n opwindende geleentheid skep om hul wiskundige vaardighede te toets en verder te ontwikkel. Die beplande Wiskunde-kongres op Oudtshoorn beoog om vir onderwysers ‘n platform te skep om hul eie vaardighede te help ontwikkel en op hoogte te kom van nuwe ontwikkelinge in die veld van Wiskundeonderrig.
Die dood van dr Neville Alexander in Augustus 2012 laat ’n leemte binne die Afrikaanssprekende gemeenskap en ook binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. Ek bring hulde aan ’n groot kampvegter vir meertaligheid, moedertaalonderrig en die ontwikkeling van Afrikaans. Die debat oor moedertaalonderrig en die erkenning van Afrikaans as onderrigtaal bly steeds aktueel en sal vorentoe steeds in die kollig staan in ’n onderwysstelsel wat net nie behoorlik rigting wil kry nie en waar Afrikaans dikwels aan die kortste ent trek.
Die SBA speel ’n konstruktiewe rol, nie net om die debat positief te beïnvloed nie, maar veral om daadwerklik in die skole ’n verskil te maak en vir leerders nuwe geleenthede in Afrikaans te skep. Die verskillende programme, van voorskoolse leesprogramme tot die geletterdheidsprogramme op laer- en hoërskool, lewer ’n wesenlike bydrae tot die ontsluiting van die potensiaal van mense om uiteindelik ook hul drome te kan realiseer. Die impak wat die SBA se programme in skole het, blyk onder andere uit die dramatiese vordering van graad 5- en 6-leerders by twee skole in Atlantis. Sedert Februarie 2012 tot Junie 2012, toe hulle weer geassesseer is, het hierdie kinders se leesvermoëns in die meeste gevalle verdubbel of bykans verdubbel. Die kweek van ’n liefde vir lees op ’n baie jong ouderdom lê ongetwyfeld ‘n goeie fondament vir kinders se verdere ontwikkeling. Daar is tans 6 817 kinders betrokke by die verskillende Zoë-leesprogramme in die Kaapse metropool sowel as in ’n paar plattelandse gebiede, wat met die ondersteuning van die DG Murray Trust en die Dagbreek Trust aangebied word. My dank aan hierdie vennote en ook aan Naspers, die SBA se belangrikste donateur, en al die ander vennote wat ons in staat stel om al die projekte aan te bied.
In hierdie 20ste bestaansjaar van die SBA dink ons met dankbaarheid terug aan die visionêre leiers wat hierdie organisasie begin het en almal wat oor twee dekades daaraan help bou het. Die rol wat Ton Vosloo as stigter, trustee en kritiese denker gespeel het om die SBA op koers te hou, kan nie onderskat word nie en daarvoor bedank ek hom.
In Afrikaans en deur Afrikaans is dit moontlik om jou drome werklikheid te maak. Die landing van die Curiosity-voertuig op Mars was die realisering van ‘n droom van ’n klomp wetenskaplikes en dit het plaasgevind onder leiding van ‘n Afrikaanssprekende, dr Japie van Zyl, mededirekteur van die Jet Propulsion Laboratory van NASA. Die SBA wil leerders help om ook sulke drome te kan droom en dit in Afrikaans te kan doen.
Anton Rupert het gesê: “Wie nie in wondere glo nie, is nie ’n realis nie. Om jou drome werklikheid te maak, moet jy ’n praktiese dromer wees, ’n realistiese optimis.”
Die SBA mag maar droom en in wondere glo, maar ons moet dit in die gees van ’n realistiese optimisme doen. Laat ons met groot ywer voortgaan om geleenthede vir jongmense te skep om hul drome in Afrikaans te realiseer.
Lees die toespraak van Hein Willemse by die jaarvergadering.

