SAUK en Fokus

  • 1

“Oom, is jy daai ou wat op Fokus speel?”

Dit kom van ’n jong seuntjie van seker so 10. Hy is skoon opgewonde en roep sy maatjies ook nader om te kom kyk wie hy nou raakgeloop het in die strate van Beaufort-Wes.

So het ek dit op baie plekke oral in die land beleef.

Hoewel ek net 14 jaar die aanbieder van Fokus was, het dit trefkrag gehad. Ek was in 1996, toe Fokus begin het, by ’n kruispad in my lewe: Gaan ek dieper betrokke raak by bestuur – my een been was reeds op die korporatiewe leer – of moet ek prakties by televisie betrokke bly deur stories te vertel? Ek het besluit ek sou my rug op bestuur draai. Verder het ek my voorgeneem om veral die stories van bruin mense te vertel. Dit was my waarneming dat dit die een groep was wat gemarginaliseer is in die nuwe Suid-Afrika. Dit het my verbaas dat daar nie ’n sterker band was tussen bruin mense en Afrikaners nie. In die breë het ons tog dieselfde kultuur en taal gedeel.

Dis ’n strategie wat gewerk het – soos die seuntjie van Beaufort-Wes getuig het. Dikwels het ek ook jong volwassenes teёgekom wat vertel het hoe hulle as’t ware saam met my in die huis grootgeword het, want die grootmense het daarop aangedring dat dit stil word op ’n Sondagaand as dit tyd was vir Fokus.

Hoewel die program in ’n stadium my naam gedra het (Fokus met Freek), het ons talentvolle, toegewyde personeel gehad wat uitstekende stories vertel het. Ek wil nie mense uitsonder nie, maar ek moet Wilma Alant se naam noem. Sy was vir omtrent die hele tyd dat ek by Fokus was, my steunpilaar – eers as produksie-assistent en later regisseur.

Die program het ’n moeilike begin gehad. Transformasie in die SAUK is seker die vinnigste in die land toegepas. Juis omdat televisie so visueel is, kon elke kyker met eie oë sien hoe aanbieders en joernaliste kom en gaan. Met die stigting van Fokus in 1996 is besluit dat alle aktualiteitsprogramme van die verskillende tale dieselfde moet lyk en dieselfde tyd en begroting moes kry. Dis daar waar ek besluit het om prakties by televisie betrokke te bly, want ek kon raai dat die kanse op bevordering vir ’n bleek gesig skraal was.

Na ’n paar warm vergaderings is besluite geneem oor formate ens, en die naam Fokus. Ek het nie daarvan gehou nie, maar het dit maar aanvaar. Ek is aangestel as uitvoerende regisseur en aanbieder. Ironies het al die ander programme mettertyd misluk tot net die Afrikaanse Fokus oorgebly het. Vir die 14 jaar wat ek daar was, was die kykersteun goed gewees. Nooit is ek aangespreek of voorgesê nie. Hoewel die program van tyd tot tyd rondgeskuif is van kanaal tot kanaal en tydgleuf tot tydgleuf, het ek nooit die indruk gekry dat dit spesifiek gedoen is om Afrikaans te benadeel nie. Dit sou dom gewees het, want die program het goed gevaar en Afrikaanse kykers is die mees lojale, toegewyde ondersteuners. Gegewe die moeilike finansiële posisie van die SAUK kan hy dit kwalik bekostig om kykers te vervreem. So ek glo nie die huidige beplande rondskuiwery van Afrikaanse programme en die nuus is met kwade wil nie, dalk wel ongewens. Ek kan net dankbaar wees vir die talle geleenthede wat ek gegun is om te reis – die wêreld vol en van hoek tot kant binnelands.

Die verwydering van Fokus is tragies. Dis ’n program wat ’n wesenlike bydrae gelewer het tot groter skakeling en begrip. Ons het meer dialoog met mekaar nodig, nie minder nie. So ek hoop ’n nuwe program kan geskep word om dialoog te bevorder – in Afrikaans en dalk saam met ander tale. Hier onder gee ek ’n bietjie agtergrond wat kan help om die SAUK beter te verstaan:

Dis bitter jammer dat die meeste van die stories oor die SAUK in die media redelik negatief is. En dis verstaanbaar. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie het dikwels opgetree soos ’n staatsuitsaaier en nie soos ’n openbare uitsaaier soos dit behoort te wees ingevolge sy mandaat nie. Dis ’n belangrike punt – iets wat die politici van vroeër en nou te maklik ignoreer. Dit verstom my hoe politici deur die dekades gedink het jy kan maar net op televisie verskyn dan poets dit jou beeld en die publiek glo jou propaganda. Ironies is televisie laat in Suid-Afrika ingestel omdat die destydse nasionale minister van pos- en telekommunikasiewese, Albert Hertzog, dit vir tien jaar teengestaan het, tot 1968. 

Die SAUK is eintlik ’n nasionale bate – soos Eskom en ander leweransiers van dienste aan die publiek. Die koms van televisie het sonder twyfel tot ’n kulturele, skeppende ontploffing in die land gelei – van kinderprogramme tot ernstige dramas. Feit is: Toe televisie uiteindelik begin het in 1976, moes Afrikaanse mense (en beslis ook sprekers van die ander inheemse tale) inspring en van ’n zerobasis materiaal lewer vir die honger masjien: televisie. Daar was eenvoudig nie ’n argief of mense met vaardighede by wie ons kon leer nie. Ons by die nuusspan, ek ingesluit, het maar so voel-voel gewerk om uit te vind wat werk en wat nie. Daar was darem Afrikaanse radionuuslesers wat die nuusbulletin kom lees het. Hoewel van hulle werklik goed was, het nie almal met lof die oorgang van “lees” op radio na “aanbied” op televisie geslaag nie. Ek moet byvoeg dat van ons swart kollegas uitstekend was en ’n natuurlike aanleg gehad het.

’n Mens moet onthou dat die SAUK ook 18 radiostasies besit. Daar word uitstekende werk gedoen om in die 11 amptelike tale kuns-en-kultuur- en inligtingsprogramme te lewer. Dit lewer ook ’n groot bydrae tot onderwys – veral in afgeleë plattelandse gebiede.

Nog twee televisiestasies,TV2 en TV3, is in die begintagtigerjare ingestel. Toe was Afrikaans reeds saam met Engels stewig gevestig op TV1. Met ander woorde, toe was Afrikaans reeds sterk befonds en het dit ’n hele paar jaar se voorsprong bo die ander inheemse tale gehad. Op die een kanaal is die Nguni-tale uitgesaai en op die ander een die Sotho-tale en Afrikaans. SABC3 het toe ’n Engelse kommersiële kanaal geword as mededinger vir M-Net. Saam met die swak ekonomie en kompetisie het die SAUK begin sweet. Dit was duidelik dat die SAUK se finansiёle model nie werk nie.

Diegene wat so graag die SAUK beskuldig van wanbestuur en korrupsie, het ’n punt beet, maar die eintlike probleem is dat daar nog nooit ’n strategiese plan was wat die SAUK deur moeilike, snel veranderende tegnologiese tye sou kon dra nie.

Kom ons neem hierdie voorbeeld: Suid-Afrika moes, saam met die hele wêreld, teen 2014 die digitale migrasie voltooi het. So is deur die Internasionale Telekommunikasie-Unie bepaal. Dit beteken dat ons moes wegbeweeg van die verouderde analoogstelsel met sy haasoorantennes na satellietopvangs deur ’n digitale boks. Dit gee maklik vyf keer meer wydte per kanaal as analoog en die beeld is aansienlik beter. Daar was een groot probleem: Om die sein op te vang moet jy ’n digitale dekodeerder hê. Die armes word dus deur tegnologie uitgesluit, pleks van ingesluit. Die regering het na onderhandelings besluit om duisende van die bokse te finansier. Daar was ook meningsverskille tussen die SAUK en e.tv oor welke tegnologie gebruik sou word. Intussen was daar ’n stuk of 12 ministers van tegnologie. Blykbaar sal die uitfasering van analoog teen die einde van die jaar klaar wees. Maar die tegnologie is nou al by die vólgende hekkie – internetstroming. Dis makliker en bied talle moontlikhede. Solank daar WiFi is, het jy toegang tot die wêreld se kennis en vermaak. Wat nou van die digitale bokse wat lê en stof vergaar? Die SAUK se gesloer het die uitsaaiwese derduisende miljoen rand gekos – en natuurlik is dit veral die minder gegoede huishoudings wat as gevolg daarvan ly.

Die finansieringsmodel vir die SAUK se televisiedienste was eintlik van die begin af verkeerd. Jare lank het die uitsaaier se inkomste uit drie dele bestaan:

  • advertensies – rondom 80%
  • lisensiegeld deur kykers betaal – so 18%
  • staat se bydrae vir spesiale uitsendings van openbare belang – 2%.

Dié syfers het natuurlik van jaar tot jaar verskil. Dis ’n vreemde verskynsel dat ’n openbare uitsaaier hoofsaaklik deur advertensies befonds word. Voor M-Net en e.tv op die toneel verskyn het, het die SAUK natuurlik die hele advertensiekoek vir homself gehad. Maar toe die koek in kleiner dele gesny word, het die finansies begin knyp. Wêreldwyd worstel openbare uitsaaiers met die vraag: Hoe finansier jy so ’n uitsaaier volhoubaar sonder dat sy geloofwaardigheid in die slag bly?

Die BBC se resep is dat lisensiegeld van die publiek gehef word. Dit werk vir hulle, want die betaalkoers is so 95%. In Suid-Afrika is dit onder 50% en het dit al tot minder as 20% gedaal. Jaar na jaar gaan die SAUK se bestuur na die parlement, waar hy oor onder meer sy finansies verslag moet doen. Jaar na jaar vra die SAUK toestemming vir ’n verhoging van die lisensiegeld, maar dit word nie toegestaan nie en die uitsaaier moet met minder tevrede wees. Die SAUK se bemarkingsveldtogte was dat dit “die regte ding is om te doen” om jou lisensiegeld te betaal. Maar kykers steur hulle nie veel daaraan nie. Baie vra: “Hoekom moet ek vir ’n televisielisensie betaal as ek nie eens ’n televisie het nie en na internetstroming kyk op my skootrekenaar of selfoon?”

In Australiё word die ABC direk betaal deur die parlement. Dis goed en wel, maar as die regerende party meen die ABC is bevooroordeeld teenoor hom, vra hy dat die lede die toewysing verklein. Met sy meerderheid in die parlement stem parlementslede dan dat die ABC se begroting ingekort word. Dus is hierdie opsie nie noodwendig die beste nie.

Die SAUK bevind hom in die onbenydenswaardige posisie dat sy inkomste eenvoudig nie genoeg is nie. Dis hoekom hy elke jaar vir ’n reddingsboei vra. Hy word nou teen ’n verlies van net meer as ’n miljard rand per jaar bedryf. Die 9,2 miljoen skuldenaars saam moet die SAUK R44,2 miljard betaal.

Planne moet gemaak word. Sake by die SABC kan nie so aangaan nie. Dis in die belang van almal dat die korporasie sterk moet herleef as ’n openbare uitsaaier – veral om sy mandaat met dienste aan al die taalgroepe toe te pas.

  • 1

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Ja, broer Freek, die luislang van transformasie is om ons alger se nekke en hy pers die lewe uit ons uit. Met diepe leedwese aanskou ons magteloos die voortdurende verskraling van 'n inligtingsomgewing waarin 'n ouer generasie hom tuis gevoel het, soos ook met die verliese aan die kant van die gedrukte media. Die is eweneens, of selfs nog des te meer, "tragies" is - en onherstelbaar. Ek dink byvoorbeeld aan my koerant, Die Volksblad, waarvan ek 'n heuglike 12 jaar redakteur was en waarvan slegs 'n klein digitale teenwoordigheid oorgebly het. 'n Pynlike mistroostigheid oorval my opnuut.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top