#SAS4_2015 – Shirmoney Rhode

  • 0
_MG_0752

Shirmoney Rhode (foto: Naomi Bruwer)

 

Shirmoney Rhode het op 3 Oktober deelgeneem aan die vierde Swart Afrikaanse Skrywersimposium. Hier is haar bydrae tot die gesprek.

Wannie Carstens noem tydens 'n onderhoud dat sy oudste seun besig is met sy MBA en dat hy eerder elke tweede Saterdag Potchefstroom toe sal ry om dit in Afrikaans te kan doen as om dit in Engels te doen by universiteite in Johannesburg, nie omdat sy Engels sleg is nie, maar omdat sy liefde vir Afrikaans groot is, neem ek aan. En dit is die tipe houding teenoor die taal wat sal verseker dat daar 'n toekoms vir Afrikaans is.

Maar die probleem is: nie almal voel so sterk oor Afrikaans nie. Veral nie so sterk dat dit die taal sal wees waarin daar noodwendig gestudeer wil word nie. Veral nie die Standaardafrikaans waarin daar gestudeer en op skoolvlak geleer moet word nie. Dit is maar 'n aanname wat baie maak omdat hulle namens ander wil bly hoop dat Afrikaans as taal van die onderwys, godsdiens, die hof, die media, ontspanning en vermaak, die ekonomie en politiek voort sal leef. En dit is dan natuurlik wat almal paniekbevange maak. Dat die geliefde Afrikaans as taal wat tot dusver toe geblom het in die hoër funksies sal verlep. Afrikaans durf nie net 'n taal van die private sfeer wees nie.

Ek is lief vir Afrikaans in sy volle hoedanigheid. Eers vir Kaapse Afrikaans, die Afrikaans waarin ek my eerste lewenskree geskreeu het. Naas dit seker maar Standaardafrikaans wat ek op skool kennis mee gemaak het. Wat bietjie snaaks in my mond geproe het aan die begin (net soos wat Kaaps seker maar kras klink en proe vir die nie-Kaapse spreker), maar baie lekker gelees het, en dan daarna die Afrikaans wat my familie in Calvinia, Ceres en Tulbagh praat, maar ook Namakwalandse Afrikaans wat baie van die studente op UWK se kampus praat. Ek praat Afrikaans oral waar ek kom en ek verander dikwels my variëteit afhangende van die situasie wat ek myself in bevind. So tuis praat ek Kaaps op sy lekkerste, maar ook op enige plek sodra iemand met my in Kaaps praat. Standaardafrikaans het my brood en botter geword as 'n nuwe Afrikaans Eerste Addisionele Taal-onderwyseres. So ek praat dit hoofsaaklik by die werk, en in situasies soos hierdie. Ek moet bieg, ek verander dikwels die voorgeskrewe gedigte en kortverhale in Kaaps in my kop. Omdat dit vir my mooier klink so. Volgens Frank Hendrick van UWK huisves die konsep “Afrikaans” sprekers van alle variëteite van die taal. Die punt wat ek wil tuisbring, is dat ek alle variëteite van Afrikaans aanvaar. Sommige geniet ek meer as ander, maar ek aanvaar en geniet Afrikaans soos wat hy is. In al sy vorme. En daarom dig ek ook graag in beide Kaapse Afrikaans en Standaardafrikaans.

En daarom is my vraag: Wie anders kan met alle eerlikheid sê dat hulle Afrikaans in alle vorme aanvaar en geniet? Ek kom agter dat nie almal Afrikaans as konsep sien wat alle sprekers van alle variëteite huisves nie. Baie maak asof “Afrikaans” slegs verwys na Standaardafrikaans en dat al die ander variëteite van Afrikaans buite-egtelike kinders is wat sleg behandel moet word. Ek veralgemeen dalk bietjie, maar ek geniet dit om mense se kommentaar te lees op artikels soos “Maak Afrikaans meer inklusief, vra kenners” (Die Burger, 18 Jan 2014) asook op Facebook, waar die hele taalkwessie vurig gedebatteer word. Dan kan mens maklik sien hoe mense oor Afrikaans voel en dink. Daar word baie genoem dat die groter meerderheid Afrikaanssprekendes mense van kleur is, maar diegene se stemme en opinies word weinig gehoor in die debat. Hier wil ek tuis bring dat mense wie steeds Afrikaans beskou as “die eksklusiewe eiendom van een groep” (Hendricks 2014) die groei van Afrikaans belemmer. Ook diegene wat steeds sekere variëteite van Afrikaanse beskou as beter, meer korrek of meer gesofistikeerd as ander. Daar word ook nog baie gebruik gemaak van “suiwer Afrikaans” en “regte Afrikaans” en dit is twee terme my kleintjies laat kry – of my kerrie suur maak, soos die Kaapse sal sê.

Baie bruin Afrikaanssprekers op die Kaapse Vlakte kan glad nie identifiseer met Standaardafrikaans nie. Hulle verstaan dit, lees dit graag, maar hulle kan nie hulself uitdruk of verduidelik in Standaardafrikaans nie. Baie het ook die persepsie dat Standaardafrikaans beter en belangriker is as die Afrikaans wat hulle praat en dit juis omdat dit die variëteit is wat in die hoër funksies gebruik word. Die ander variëteite van Afrikaans geniet nie naastenby dieselfde voorregte in die hoër funksies soos Standaardafrikaans nie. En my vraag is hoekom nie? As ons sê ons aanvaar Afrikaans as konsep wat alle variëteite van Afrikaans verteenwoordig, waarom is dit steeds taboe om blootstelling te gee aan ander variëteite van Afrikaans? Baie meen natuurlik dat Standaardafrikaans die middelpunt is waar alle Afrikaanssprekendes mekaar ontmoet en ons lekker saam kan dans op die common ground. Standaardafrikaans word gesien as die gom wat almal bind, want die ander variëteite is nie “standaard” genoeg om die rol van Standaardafrikaans te vervul nie. Maar dan kom my vraag: Indien ons vroeër saamgestem het dat ons Afrikaans waardeer en geniet in al sy vorme, beteken dit ons verstaan dit in al sy vorme? Dis hier waar vernuwing moet inkom. Om Emo Adams na elke fees te nooi is doodeenvoudig nie genoeg nie. En dit is die rede hoekom nie almal trots en nostalgies voel oor Afrikaans nie. Dis een van die redes hoekom ek nie altyd trots en nostalgies voel oor Afrikaans nie. Daar word baie gepraat, maar min gedoen.

Volgens Wannie Carstens is die grootste prestasie van die Afrikaanse Taalraad sedert 2003 die versoeningsproses wat plaasgevind het onder Afrikaanssprekendes. Die gaping tussen Afrikaanssprekendes was ontsettend groot as gevolg van die apartheidstydperk en hierdie versoeningsproses moes plaasvind sodat Afrikaans kon voortbeweeg. Daar is nou 'n vlak van samewerking tussen bruin en wit wat daar nie voorheen was nie.” Ek is dalk miskien nog te jonk en nog nie betrokke genoeg om kommentaar te lewer oor hierdie stelling nie, maar ek voel wel daar kan meer gedoen word. Ten minste van waar ek staan.

Mense moet anders begin dink oor Afrikaans. Alle sprekers van Afrikaans moet weet en verstaan dat Afrikaans aan hulle behoort. Ongeag hoe hulle dit praat, hulle het die volste reg om dit wel te praat. En om hulself uit te leef daarin. Ek weet dis hoe baie van my leerders voel, want talle weier om mondeling te doen oor hulle te skaam is dat die eintlike manier hoe hulle Afrikaans praat gaan uitkom in hulle toesprake en dat hulle dan geklassifiseer gaan word as “gam”. Dit laat my dink aan 'n insident laasjaar terwyl ek op proef was by 'n hoërskool in Elsiesrivier. Tydens 'n dialoogopvoering het die onderwyser die twee leerders stil gemaak en gesê hulle gaan min punte kry en hulle moet gaan sit want hulle praat nou “jaart”- (smokkelhuis-) Afrikaans in sy klas. Die kinders se onderwerp was puik en ek het gedink hulle lewering daarvan was goed. Maar omdat hulle nie “regte Afrikaans” gepraat het nie, was hulle gepenaliseer en verneder deur die onderwyser. Ek weet hierdie is dalk 'n geïsoleerde insident. Maar hoeveel ander skoliere word nie soortgelyk behandel omdat hulle nie voldoen aan die standaard nie? In my hoedanigheid probeer ek my leerders gerusstel dat hulle bloot hulself moet wees. Solank ek verstaan wat hulle probeer sê en hulle lewering daarvan is goed, gee ek 'n punt wat hulle toekom. Standaardafrikaans of nie. Dis genoeg dat hulle opstelle, briewe en toetse moet aflê in 'n variëteit van Afrikaans wat nie baie spasie bied vir selfuitdrukking nie. Baie van die leerders kan nie eers identifiseer met van die letterkunde wat hulle op skool moet doen nie. Baie van die stories lê ver buite hulle ervaringsveld.

Gerda Odendaal van die Universiteit Stellenbosch word aangehaal deur Alet Rademeyer in Die Burger van 18 Januarie 2014 en sy sê: “Met die standaardisering van Afrikaans is ander variëteite in die verlede gestigmatiseer in so 'n mate dat omgangstaalsprekers skaam geword het en selfs opgehou het om hul taal te praat.” En dis wat met talle leerders op skoolvlak gebeur. Omdat hulle nie met Standaardafrikaans kan identifiseer nie, wil hulle totaal en al nie meer Afrikaans praat nie. Verder glo baie ook vas dat daar nie baie werk in Afrikaans is nie en dat dit om hierdie rede nutteloos is vir hulle om Afrikaans te leer. Baie van my leerders kom uit ouerhuise waar Afrikaans as huistaal gepraat word, maar hulle word in Engels groot. Baie ouers op die Kaapse Vlakte het die persepsie dat Engels beter is as Afrikaans en dat daar beter werksgeleenthede is as hulle kinders eerder hul opvoeding in Engels kry. Ook dat hulle op 'n sosiale vlak beter sal vorder as gevolg van Engels. Hoeveel Afrikaanse professors se kinders is by Afrikaanse skole en studeer in Afrikaans?

Met die bostaande in ag wil ek dit noem dat daar soveel aandag geskenk word aan Afrikaans op tersiêre vlak dat ons nie juis sien wat besig is om te gebeur op grondvloer nie. Kinders is besig om belangstelling in Afrikaans te verloor. Ek hoor al heel jaar hoe daar goed gemompel word soos “yor, I hate Afrikaans”, “Afrikaans is so boring”, “I don’t have lus for Afrikaans”, ens. En dis hier waar die moeilikheid lê. Dis hier waar Afrikaans die gevaar loop om 'n taal te word wat (in die woorde van Breytenbach) “slegs om die braai” (of ghellieblik) gepraat gaan word.

Gepraat van Afrikaans om die ghellie praat. Ek dink dit is net so belangrik soos om in Afrikaans te studeer want jy kan sekerlik nie in Afrikaans lewe alvorens jy dit nie praat nie. Vroeër het ek genoem dat baie kinders uit huisgesinne kom waar die ouers Afrikaans praat maar baie van hulle kan op die meeste drie tot vier sinne in Afrikaans skryf, met agt tot tien spelfoute. Baie praat min tot geen Afrikaans. So Afrikaans moet gepraat word. Al is dit ook om die braai.

In my derde jaar by die Universiteit van Wes-Kaapland het 'n groep van agt bruin studente vir die eerste keer aan die ATKV se nasionale universiteitsdebatskompetisie deelgeneem. Hierdie kompetisie vind streng plaas in Standaardafrikaans en 'n groot gedeelte van my kon nie altyd lekker stry nie, nie omdat ek nie kan debatteer nie, maar omdat ek nie myself kon uitdruk soos ek wou nie. Ons het na die tyd altyd lekker gespot oor hoe dit sou wees as ons ons argumente in variëteite anders as Standaardafrikaans kon lewer. Een van die gesogte pryse wat gewen kan word by die kompetisie is die “beste taalgebruiker”-prys. Suné van Rooyen, meesterstudent aan UWK, vriendin en vurige debatteerder, het baie keer baie aan die gons gehad oor haar pragtige Noord-Kaapse Afrikaans. Sy en haar Afrikaans het soveel kleur na die kompetisie gebring. Die dag as sy die ATKV se nasionale universiteitsdebatskompetisie se gesogte “beste taalgebruiker”-prys wen, dan sal ek met die volste vertroue kan glo dat daar wel 'n baie rooskleurige toekoms vir Afrikaans is. Enigeen wat al vir Suné van Rooyen sien debatteer het, sal verstaan hoekom ek so sê. As hierdie prys nie eksklusief was aan die Standaardafrikaansspreker nie, sou sy dit teen nou al gewen het.

Daar is 'n toekoms vir Afrikaans. Afrikaans kan groei, maar alleenlik die sprekers van Afrikaans kan die mate van daardie groei en hernuwing bepaal.

Shirmoney Rhode

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top