Huberte Rupert gedenkkonsert in die Endlersaal
![]() |
|
Igor Fyodorovich Stravinsky Bron: Wikipedia |
![]() |
|
Paul Abraham Dukas Bron: Wikipedia |
Die Suid-Afrikaans gebore Sarita Uranovsky, wat tans in Boston in die Verenigde State woon, is op Vrydag, 21 November die solis in die jaarlikse Huberte Rupert Gedenkkonsert in die Endlersaal. Sy sal Beethoven se gevierde Vioolkonsert uitvoer. Die dirigent is die voormalige hoof-gasdirigent van die Kaapstad Filharmoniese Orkes, Owain Arwel Hughes.
Die ander twee opwindende werke op die program is Die Towenaar se Leerjonge van Dukas en Stavinsky se Petroesjka (1947-weergawe).
Me Uranovsky is verheug om weer in Stellenbosch te kom speel, saam met dieselfde orkes waarmee sy soveel jare gelede haar debuut gemaak het: “Dit is vir my ’n voorreg om vir al die mense wat my destyds as jong kunstenaar ondersteun het, te wys hoe ek as kunstenaar ontwikkel het.”
Haar vorige optrede in Suid-Afrika was in 2007, toe sy in ’n huldigingskonsert vir Prof. Jack de Wet se tagtigste verjaardag opgetree het.
Me Uranovsky het ’n Kunstenaarsdiploma aan die Boston Universiteit behaal, asook ’n honneurs- en meestersgraad (met lof) aan die Koninklike Skotse Akademie vir Musiek en Drama behaal. Sy is ook die konsertmeester van orkeste in Italië en Skotland en het reeds vir die BBC en SAUK opnames gemaak. Sy tree ook in die Bostonse Filharmoniese Orkes en die Boston Pops op.
Kaartjies teen R120 elk kan by Computicket bespreek word. Vir meer inligting kontak vir Luvuyo by luvuyo@cpo.org.za of skakel 021 410 9809



