Sarel, die Landie en die spietkop

  • 0

Sarel issie sy regte namie. As sy naam Sarel was, beduie hy my annerdag, sou hy in sy lewe nooit aangevang het wat hy gedoen hettie. Wat Sarel aangevang het kan boeke vol maak maar ons issie bekommerd oor boeke nie, want Sarel kan nie eens lees of skrywe nie. Het wel sy standaard Standerd ses geslaag, en ek vermoed bloot omdat dit sy hoeveelste poging was, en kan getuig en steeds vertel van die juffrouens.

Sarel het die pad wat alle mans geloop het geloop: Sestien standerd ses uit die skool en oppie trein Potch toe. Artillerie. En Potch het gou gesien dat arme Sarel nie kan uitmaak nie en Sarel is toe Tiffies toe. Waar hy nie lank gehou het nie, want hy is om een of ander vreemde rede baie vroeër as ons gewone rowe huis toe gestuur. En genoeg oor doerie tyd ...

Sarel werk vir my. Vir jare reeds. Of, wel, nie vir my nie, wel MET my soos hy altoos beduie. Uit die aard van ons gesamentlike werksaamhede het die ou Landrover series 3 hom geval. Want die donnerse ding staan net daar en enigeen met meer as twee breinselle weet tog dat 'n Landrover wat staan gaan staan en breek. Die fokken ding lek olie op plekke waar geen ander voertuie of vrouens lek nie!

Sarel is hier weg, na 'n lange dag se gewone werk, want hier in Oesterland en op my werf werk ons ons gatte af en maak laatnag eers klaar, en is vort, baie glase brannewyn sterk.
Tot by die Stinkdrif, kort voor die dorp. Waar die spietkops altoos in die nanag sit en sluimer-waak om die politici se boeke te laat klop. Want wat is 'n dorp dan nou sonder sy hoeders en behoeders en gewillige melkkoeie? Dit is tog immers die norm deesdae as die regime gekritiseer word om te wys hoe die boeke, velen dank en danksy verkeersboetes al meer kan klop ... (ons weet almal waarvan ons praat hier ...).

Nietemin, Sarel word gestop by een van ons vele geldinsamelingsveldtogte, ofte wel, padblokkades. Sarel is dronker as 'n spook. Terloops.

Ek herhaal wat die Spietkop aan my beduie het, bloot omdat Sarel lankal nie meer kapabel genoeg was om te onthou nie: Spietkop beduie dat hy gesien het Sarel slinger uit die bestuursitplek uit en het darem die passasiersitplek kon inneem voor hy kon bykom. Sarel het vir hom beduie "Goeienaand, meneer?" En toe bars die hel los.

Want ten eerste is dit duidelik dat Sarel dronker as enige deursnee spook is. Ek sal weet, want ek het die bottel gesien wat hy geledig het. Sarel het bloot plek ingeneem in die passasiersitplek en toe die spietkop met fileclip forms tot verhaal kon kom het Sarel gesit en vra waar de fok die drywer dan nou is. En toe 'n moerse scene opgeskop het oordat die arme spietkopvrou hom nie goed genoeg gegroet het nie. Want, beduie Sarel: Sy het soos 'n man gelyk en ek het haar bloot ge-sersant en toe sy beduie sy issie 'n sersant nie toe raak ons altwee kwaad vir mekaar. En toe bly hy sit, arm uit die venster uit soos dit enige deursnee passasier van enige Series 3 Landrover betaam in die vroeë oggendure.

Sarel beduie dat hulle tot in die vroeë oggendure gekuier het want hy is huis toe gevat daardie oggend en toe moes hy pose hou en die spul entertain want die drywer gaan tog sekerlik opdaag om die Landrover te kom haal. Sarel sê hy het later loop slaap want net 'n spietkop kan soos 'n spietkop kuier, en hy’s buitendien nie eens 'n spietkop nie.

Oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top