Sara Davidson oor Joan Didion

  • 0

Ek het twee boeke van Joan Didion (gebore in 1934) bespreek: The Year of Magical Thinking (2005, SêNet 7.10.2011) en Blue Nights (2011, SêNet 20.12.2011). Die eerste een handel oor die dood van haar man, John Dunne (1932-2003). Ek het dit as leeswaardig aanbeveel. Die tweede boek is grootliks na aanleiding van die dood van Didion se aangenome dogter, Quintana (1966-2005), geskryf. Ek het die teks as 'n mislukking bestempel.

Soms word goeie tekste nie gepubliseer nie of eers nadat dit baie keer aan uitgewers voorgelê is. Aan die ander kant verskyn talle vrot tekste in druk. Myns insiens is dit hoogs onwaarskynlik dat Blue Nights as boek sy verskyning sou gemaak het as dit die teks van 'n aspirantskrywer was. Didion se naam verskyn egter net so groot soos die titel op die band omdat sy teen 2011 as skrywer wyd erkenning geniet het. Die boek is aggressief bemark.

Uiteraard hou 'n mens daarvan om reg bewys te word. In daardie opsig was dit goed om 'n boek oor Didion te lees: Sara Davidson (gebore in 1943) se Joan: Forty Years of Life, Loss and Friendship with Joan Didion (San Francisco: Byliner, 2011; slegs elektronies beskikbaar). Soos Didion is Davidson 'n skrywer van onder andere draaiboeke. Hulle het in 1971 ontmoet. Albei voel tuis in die glanswêreld van die "Hollywood royalty" (Kindle 92). Davidson het byvoorbeeld 'n boek oor Rock Hudson geskryf. Aan die begin word genoem dat Didion vyf voet twee duim lank is. Liggaamlik word sy as "tiny ... fragile and slight" (K 39) beskryf. Soms koop sy haar klere in die winkel se kinderafdeling.

Davidson, wat twee keer geskei het, wou met 'n feministiese inslag in 1971 by Didion verneem "how to live as a woman and a writer and a wife and mother" (K 52). Didion het die indruk gewek van "self-reliance, optimism, not complaining, giving people space, and claiming your own" (K 56). "She 'believed absolutely' in her ability to overcome any obstacle" (K 59). Vir Didion was selfrespek belangrik en daaronder verstaan sy "freeing oneself from the expectations of others" (K 59), wat op selfsug kon dui. "The ethic I was raised in was specifically a Western frontier ethic. That means being left alone and leaving others alone" (K 231).

Namate Didion ouer geword en haar gesondheid verswak het, het daardie "self-reliance" al hoe meer verkrummel. Deesdae erken sy: "I'm not self-reliant" (K 576). Pleks van steeds te poog om op haarself aangewese te wees, het sy "surrender" as haar nuwe kode of leuse aanvaar (K 69). "You've got to get through what you've got to get through" (K 479), dus "acceptance of what is" (K 580). "I don't mean giving up. I mean ... giving yourself over to what is" (K 583). Dit lyk asof sy dit eerder aanvaarding of berusting as oorgawe behoort te noem.

Didion is, soos soms by skrywers aangetref word, "not as fluent in conversation as she was in prose. She has said she writes in order to find out what she's thinking" (K 72). Sy bestempel haarself as skaam. "Part of it is that I'm terribly inarticulate" (K 78). "It's easier for me to write than talk ... to express the state I'm in" (K 411).

"Simple things can make me happy" (K 255), maar toe Didion en haar man aan die weskus van Amerika gewoon het, het hulle hulle aktief onder die hoëlui bemark deur bv die "Hollywood royalty" tuis te onthaal. Op 'n keer het die rolprentster Warren Beatty by Didion aangelê. Sy het sy toenadering afgeweer met: "This is not feasible" (K 116).

In 1988 het Didion en haar man in 'n luukse woonstel in New York City kom bly. Dat hulle finansieel in 'n ander liga as die meeste mense is, blyk uit die feit dat daar in hierdie woonstel 13 telefone is. Hulle is as "rich and famous" gereken (K 350). Hulle het hulle in die woonstel graag by 'n vuurherd tuisgemaak. "Fires were important to them, she'd written in Magical Thinking. Fires meant 'we were home, we had drawn the circle, we were safe'" (K 408).

The Year of Magical Thinking is kort na haar man se dood gepubliseer. Sy het die teks in minder as drie maande geskryf. Dit was 'n geval van "sitting down at the typewriter and bleeding" (K 415). Dit het vir haar gevoel asof John se dood haar skanse afgebreek en haar blootgestel het. Die hoofprobleem is om die finaliteit van die dood te aanvaar. "There's almost nothing that can make me accept the fact that death will occur to me" (K 464). Die spontaniteit en egtheid van die teks het meegebring dat meer as 'n miljoen eksemplare van die boek verkoop is.

Didion se volgende boek het na die dood van haar dogter as 'n boek oor kinders begin: "How we raise them, the mistakes we make and don't make" (K 502). "But the book evolved into something different: Blue Nights, an elegy for one child, Quintana, and a discourse on growing older" (K 502). Daar is dus minstens 'n tweeslagtigheid in hierdie werk. In 2010 het Didion haar uitgewer geskakel: "I'm sorry. I'm having trouble with this book and I'm beside myself. I don't know what to do with it. I can't think straight" (K 505). Geen wonder die boek het so lank na die dood van Quintana verskyn nie.

Davidson vra toe vir Didion hoe sy die probleme met haar manuskrip oorkom het. "I didn't. I just jumped ship. I couldn't live with it anymore" (K 509). "The doubting of herself is what makes Blue Nights different from Joan's previous writing. In the past, her voice was one of confidence and certainty ... 'I don't have that kind of certainty anymore. That's why this book was hard to write. I didn't feel certain about what I was saying'" (K 536).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top