Ek het waardering uitgespreek vir Joan Didion (gebore in 1934) se The year of magical thinking, gepubliseer in 2005 (SêNet, 7.10. 2011). Daarin besin sy oor die dood van haar man, John Gregory Dunne (1932-2003), met wie sy in 1964 getrou het. Toe Dunne sterf, was hulle dogter, Quintana Roo (1966-2005), reeds ernstig siek. Sy het verskeie kwale gehad. Depressie het tot drankmisbruik gelei. Sy het breinchirurgie ondergaan en is aan pankreasontsteking dood.
Didion se jongste boek is Blue nights (London: Fourth Estate, 2011, 188p). Dit is opgedra aan en handel veral oor Quintana. Die titel verwys na die somernagte in New York City, dus "the inevitable approach of darker days" (p 134). "During the blue nights you think the end of day will never come" (p 4). Terugskouend kom die outeur agter dat daar baie gebeure was wat haar bedag op die dood van haar kind kon gemaak het. Maar sy het dit nie werklik voorsien nie: "This was never supposed to happen to her" (p 16, 18, 23).
Die aanleiding vir die boek was die sewende herdenking in 2010 van Quintana se troudag. Sewe jare tevore (dus op Quintana se troudag, 26 Julie 2003, en voor ’n hartaanval haar man op 30 Desember 2003 geëis het) "we still counted happiness and health and love and luck and beautiful children as ’ordinary blessings’" (p 30).
Euripedes (485-406 vC) word soos volg aangehaal: "What greater grief can there be for mortals than to see their children dead?" (p 13, 26). Na haar uitgebreide ervaring met medici kom Didion tot die gevolgtrekking: "Medicine ... remains an imperfect art" (p 15, ook p 47). Terugverwysend na haar vorige boek en die dood van haar man en kind vra sy: "What it meant to let them go?" (p 16). Kort na hulle dood was daar ’n tyd toe "I believed that I could keep people fully present, keep them with me, by preserving their mementos" (p 44). Nou dink sy nie meer so nie. "In theory they serve to bring back the moment. In fact they serve only to make clear how inadequately I appreciated the moment when it was here" (p 46).
Enersyds is daar die banaliteit van "of course, time passes" (p 17). "For my having a child there was a season. That season passed" (p 69). Andersyds is daar "the general nature or the permanence of the slowing, the irreversible changes in mind and body" (p 17). Haar gedagtes gaan terug na 1966 toe hulle Quintana kort na haar geboorte aangeneem het. Daar is die kontras tussen wat was en die situasie wat nou is. "Quintana is one of the areas about which I have difficulty being direct" (p 119). Eintlik het hulle met die aanneming ander mense se probleem oorgeneem.
"At the time of Quintana’s birth the natural mother and father had not yet been married. At a point after her birth they married, had the two further children, Quintana’s full sister and brother, and then divorced" (p 120-121). Die aannemingsproses was nie (soos wetlik vereis) anoniem nie. Quintana se ma het die name van haar dogter en pleegouers geweet en die pleegouers het Quintana se ma se naam geweet. Die gevolg was dat Quintana na drie dekades haar ma, suster en van haar ander biologiese familie ontmoet het. "When Quintana herself died, her sister sent flowers" (p 130).
Die outeur het drie onderwerpe vir aandag uitgesonder: siekte, veroudering en dood (p 53). In geen geval kon sy werklik daarin slaag om hierdie leser se insig te bevorder nie. "I have made no adjustment whatsoever to aging" (p 137). By geleentheid het sy flou geword. "There were thirteen telephones in the apartment, not one of which was at that moment within reach" (p 143). (Dit klink na ’n luukse blyplek.) Sy het by haar eie "fear of life" uitgekom: "Passing into nothingness" (p 131, ook 188). "No idea that ’recovery,’ like ’adoption,’ remains one of those concepts that sounds more plausible than it turns out to be" (p 154). "In the hospital there was no day or night. Only shifts. Only waiting" (p 145).
Iets wat Quintana gesê het, het terapeutiese waarde vir Didion: "When someone dies ... don’t dwell on it" (p 155, 181). Soos in haar vorige boek haal Didion aan uit WH Auden (1907-1973) se "Funeral Blues": "The stars are not wanted now; put out every one, / Pack up the moon and dismantle the sun, / Pour away the ocean and sweep up the wood; / For nothing now can ever come to any good" (p 157). Al wat vir die outeur oorbly, is "maintain momentum" (p 165), "keeping up ... staying alive" (p 183). "I know that I can no longer reach her" (p 187). "Fade as the blue nights fade, go as the brightness goes" (p 188).
In die eersgenoemde boek hierbo het Didion geskryf: "The way I write is who I am, or have become" (p 7). In haar jongste boek word te baie vrae gevra wat sonder antwoorde gelaat word. Daar is te veel nie-funksionele (selfs irriterende) herhaling, te min wat nuut is en glad te min substansie. Daar is ’n rigtingloosheid in die teks en ’n gebrek aan struktuur. Die boek is nie ’n meesterstuk nie. Teen R185 vir 188 bladsye is hierdie slapbandboek nie ’n winskoop nie.
Johannes Comestor

