Sanlam-pryse vir Jeuglektuur 2011 aangekondig

  • 0

Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, en Sanlam het die wenners van die Sanlam-pryse vir Jeuglektuur 2011 bekend gemaak.

Annelie Ferreira verower die goue prys in die Afrikaanse kategorie vir Tot siens, koning Arthur. In die Engelse kategorie wen Jayne Bauling goud vir haar roman Dreaming of Light. Die veelbekroonde Kabelo Duncan Kgatea wen goud in die kategorie Sotho-tale met sy boek Mmudubudu. Silwer pryse is toegeken aan Derick van der Walt vir Hoopvol (Afrikaans), en die debuutskrywers Neil Malherbe, vir The Magyar Conspiracy (Engels), en BD Khawula, vir Yihlathi Leli (Nguni-tale).

Die skrywers het op 16 Oktober hulle kontantpryse ontvang by ’n skemerkelk, aangebied deur Sanlam, by Emoyeni Estate, Parktown, Johannesburg. Die wenboeke is gelyktydig bekendgestel en is nou landswyd in boekwinkels en in e-boek formaat beskikaar.

Die tema van hierdie twee-jaarlikse kompetisie was hoop. ’n Totaal van 109 inskrywings is ontvang en anoniem beoordeel. Die beoordelaars was Melt Myburgh, Lona Gericke, Susan Samuel, Alet Míhalik, Penny Hochfeld, Verushka Louw, DBZ Ntuli, Dolly Dlavane, Diako Mokatsane en Dorah Mabule.

Inskrywings vir die volgende kompetisie, die Sanlam-pryse vir Jeuglektuur 2013, is reeds oop. Inskrywings kan tot 30 Junie 2013 ingestuur word. Besoek Tafelberg se webwerf vir meer inligting en om ’n inskrywingsvorm af te laai. Dit is gebruiklik dat die Sanlam-pryse ’n tema het, maar in 2013 kan skrywers hulle verbeelding vrye teuels gee; daar sal dié keer geen tema wees nie.

Opsommings van die wenboeke en bondige biografiese besonderhede van die skrywers:

Engels – Goud: Jayne Bauling vir Dreaming of Light

Hierdie verhaal gee ’n kyk na die desperate bestaan van zama-zamas; kinders wat vir so lank as drie maande onwettig in ongebruikte myne werk. Die hoofkarakter is die agtienjarige Regile, wat die hoof van ’n groep jonger werkers is. Hy moet hulle vrae oor ’n moontlike uitweg aanhoor en hoop self ook op ’n beter bestaan.

Jayne Bauling is in Engeland gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword en bly nou in Witrivier, Mpumalanga. Sewentien liefdesverhale uit haar pen is in die VK uitgegee . Haar jeugverhale E Eights en Stepping Solo is met die Maskew Miller Longman-pryse bekroon.   

Afrikaans – Goud: Annelie Ferreira vir Tot siens, koning Arthur

’n Onbesonne keuse kos Sylvia van der Merwe haar posisie as prefek en droom om medies te studeer. Sy word uit die skool geskors en moet gemeenskapswerk doen. Om die finansiële las vir haar enkelma te verlig spring sy ook in as kelnerin. Nóg ’n krisis kruis haar pad. Kan sy haar omstandighede omkeer?

Suid-Afrikaner Annelie Ferreira woon tans in Engeland saam met haar man. Sy het lank as taalpraktisyn gewerk en ’n aantal nie-fiksieboeke en romans geskryf.

Afrikatale – Goud (Sotho-tale): Kabelo Duncan Kgatea vir Mmudubudu (Setswana)

Attie en Rapula kom albei uit moeilike huislike omstandighede, en vanuit dié raakpunt word die twee goeie vriende. Hulle droom ook albei van sukses as professionele sportmanne ná skool. Die boek speel in die tyd van die FIFA Sokkerwêreldbeker in Rustenburg af.  

Kabelo Duncan Kgatea woon Rustenburg en is die skrywer van verskeie jeugromans in Setswana. Sy vorige Sanlamwenner Monwana wa Bosupa is in 2011 met die gesogte K Sello Duiker Prys bekroon.

Engels – Silwer: Neil Malherbe vir The Magyar Conspiracy

Sandy is die seun van ’nHongaarse pa en ’n Suid-Afrikaanse ma. Kort voor hulle skool-waterpolospan na Hongarye gaan toer, sterf sy pa tydens ’n staptog teen Tafelberg. Sandy is oortuig dat dit nie ’n ongeluk was nie, want hy het dié oggend twee verdagte figure op die berg gewaar. Die toer na Hongarye beteken vir hom veel meer as die glorie van oorwinning in die swembad; hy is ook vasberade om antwoorde uit sy pa se verlede daar te kry.  

Neil Malherbe is skoolhoof van Penryn Voorbereidingskool naby Nelspruit. Hierdie is sy eerste boek.

Afrikaans – Silwer: Derick van der Walt vir Hoopvol

Hoopvol is die aangrypende verhaal van Ben wat ná ’n traumatiese gebeurtenis by sy huis in Johannesburg blindelings op ’n trein klim om die pa te gaan soek wat hy nooit geken het nie. Dit is ook die verhaal van Nathalie, wat as weeskind op die Karoodorpie Hoopvol by die pastoor en sy vrou woon.  Op verrassende wyse word dié stories een.

’n Oorgrensroman waarby oud en jonk aanklank sal vind, meesleurend geskryf soos nét Derick van der Walt kan. Sy boeke Lien se lankstaanskoene en Willem Poprok is voormalige Sanlamwenners.

Afrikatale – Silwer (Nguni-tale): Bhekisigcino Damasius Khawula vir Yihlahti Leli (IsiZulu)

Mchithwa is ’n goeie seun wat eendag ’n onderwyser wil word. Wanneer hy op ’n dag sy ma se motor sonder toestemming gebruik en ’n pap wiel kry, stop ’n taxi om hom te help. Voordat hy weet wat gebeur of kan keer word hy ingetrek as dwelmmuil om bestanddele vir die dwelm “wunga” te steel en versprei. Is daar vir hom enige uitkoms?

Bhekisigcino Damasius Khawula woon in Ntokozweni buite Durban. Hierdie is sy eerste boek.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top