‘n Paar wenke aan voornemende skrywers
1. Ken die tradisie waarbinne jy wil skryf, met ander woorde, lees – lees baie, wyd, krities en analities. Geen skrywer werk in ’n vakuum nie.
2. Lees gerus ook maar óór die skryfkuns. Leer en lees oor die tegniese aspekte van skryf: karakteriserng, vertellersperspektief, spanningslyne, ens, ens. (Stephen King se On writing is byvoorbeeld ’n lekker boek om te lees hieroor.) Boekresensies kan mens (soms) ook baie leer.
3. Moet tog nie te behep wees met jou eie lewe as gegewe vir ’n storie nie. Dis (in die algemeen) ongelukkig nie naastenby interessant genoeg vir ’n boek nie! Verbeelding is wat goeie stories maak.
4. Oefen baie om te skryf. Moenie sentimenteel wees oor die “kuns” van skryf nie, want skryf is ’n ambag en oefening verskerp vaardigheid. Hou maar ’n notaboekie byderhand vir idees en doen daardie vingeroefeninge, aanhoudend.
5. Humor en erns kan gerus maar goed gebalanseer wees in ’n storie!
6. Hou jou waarskynlike leser in gedagte, dus die soort lesers en die mark vir wie jy skryf.
7. Taal is die grondstof waarmee jy werk. Maak seker jy gebruik dit goed en reg.
8. Moenie jou eerste weergawe van ’n storie aan ’n uitgewer stuur nie. Laat lê jou skryfwerk vir lang rukke en lees dit dan weer. Skryf oor. Skryf weer. Kry afstand.
9. Onthou, om te skryf is nie glamorous nie. Dis om op jou boude te sit en te skryf. Dis eensaam. Dis een persent inspirasie en 99 persent inspanning. Dit verg dissipline. Groot skrywers sê almal hulle skryf omdat hulle nie ’n keuse het nie.
10. Vind jou pad deur al hierdie inligting en ontdek jou eie, unieke stem.
![]()
![]()

