Sangeres Belia Lourens laat matriekmeisies blom

  • 0

Belia Lourens (foto: verskaf)

Sy is veral bekend vir haar vertolking in die gewilde Tsotsi-Evangelie asook vir haar optredes saam met die sanger Manuel Escorcio. Min mense weet egter dat Belia Lourens ’n ambassadeur vir die Prinses Projek is en van haar omgeehart vir matriekmeisies wat eenvoudig nie kan bekostig om op hul beste by hul matriekafskeid te lyk nie.

Sy hou self van die glans van “opdress” en om in romantiese balrokke voor haar gehore te verskyn. Nou help sy matriekmeisies om hul groot aand in ’n onvergeetlike sprokie te omskep.

Hoe het sy by die Prinses Projek betrokke geraak?

Belia vertel: “Ek soek al lank na ’n projek om by betrokke te raak, maar my hart moes daarin wees. Dis toe dat ek van hierdie projek gehoor het. Ek wou dit nie dupliseer nie en het Erica Pienaar, die stigterslid, gekontak. Ons het saam besluit om my sangloopbaan vir die bewusmaking van die Prinses Projek te gebruik. Dit het my hart laat galop. Ons was vier susters wat kort na mekaar opgedaag het en ek onthou nog hoe my ouers binne enkele jare behoorlik moes bontstaan om vir ons matriekafskeidrokke te koop.”

Belia se taak as ambassadeur is die bewusmaking van die Prinses Projek met die hoop dat nog takke sal ontstaan. Daar is reeds meer as 33 takke landwyd. Sy bied onder meer ma-en-dogter-geleenthede by skole aan om te help om fondse in te samel vir hul matriekafskeid en om mense van die projek te vertel.

“Ons het besluit om dit oral waar ek optree te propageer en hoop dat daar ’n Prinses Projek-tak in elke dorp tot stand sal kom. Ek hanteer Porterville se tak en dit is ’n heerlike projek. Die rokke word deur bekende handelsname voorsien en dan is daar ook skenkings uit die gemeenskap. Die rokke is van hoogstaande gehalte. Ek beskik self ook oor ’n groot verskeidenheid rokke.”

Die Prinses Projek se goeie towerfeë sorg nie net vir die meisies se droomrokke nie, maar help ook om die hele prentjie te voltooi en verskaf daarom ’n hele aantal dienste wanneer dit benodig word.

“Hoewel die rok natuurlik die belangrikste bly, doen ons in uitsonderlike gevalle ook moeite om borge vir hare, grimering en naels te kry. As ek nie by optredes betrokke is nie, is ek betrokke by die aantrekkery. As ek by optredes is, is daar iemand wat vir my instaan. Ek stel ook my huis daarvoor beskikbaar en probeer om die meisies spesiaal te laat voel.

“Dit gebeur wel dat daar matrikulante is wat nie die matriekafskeid sou kon bywoon as dit nie vir die Prinses Projek was nie. Dit is ook so dat ouers baie skuld vir die een besonderse aand maak. Ons wil hiermee help. Skenkings kom vanaf kettingwinkels van bekende handelsname en die publiek. Dit sou werklik duisende rande gekos het as hulle dit self moes koop. ’n Verdere uitvloeisel van hierdie projek is om die kinders weer hoop en selfvertroue te gee.” 

Belia lyk self treffend as sy in haar romantiese rokke optree. Waar kry sy hierdie uitrustings?

“Dit is vir my altyd lekker om ’n bietjie 'op te dress' vir optredes. My stem, genre en die soort optrede wat ek doen, regverdig dit. My liefde vir mooi rokke was altyd ’n passie. My eie matriekafskeidrok was blink, grys nagklere wat ek met wynrooi satyn opgetooi het.

“Rokke vir my optredes kom uit talle oorde. Daar is nie een spesifieke handelsmerk/ontwerp nie, alhoewel ek baie van Coleen Pienaar se rokke hou. My kinders speel ook te lekker pop met hul ma en trek my dikwels met die mooiste rokke uit die Ooste aan.”

Belia sê dis heel maklik om ’n Prinses Projek-tak te begin. Mens registreer net jou besonderhede by Erica Pienaar. “Daar is altyd takke in die omgewing wat bereid is om rokke oor te dra as jy ’n nuwe tak stig. Maak die tak bekend en vra vir skenkings en jy sal verbaas wees oor mense se groothartigheid. Stuur ’n e-pos aan omliggende skole. Dit is goed om ’n kontakpersoon by ’n skool te hê. Kinders werk makliker deur ’n onderwyseres en hulle is ook van die nood bewus. Dit is egter noodsaaklik om behoorlik reëlings vir die aanpas van rokke te tref en om behoorlike beheer daaroor uit te oefen.

Wat haar sangloopbaan betref, het Belia eers op 32 gaan sang studeer. “Dit was vir my belangrik om my talent te ontwikkel. Tot in daardie stadium het ek kantoorwerk, meestal sekretarieel vir die Departement van Korrektiewe Dienste, gedoen. Dit het my goed gepas, want elke keer as my man, Piet, met ’n bevordering in die departement oorgeplaas is, kon hulle my ook akkommodeer. Dit het vir die kinders, maar ook vir ons, standvastigheid gegee. 

“Ek het op die dorpie Gansbaai grootgeword en het baie tyd by die see deurgebring. Die see is steeds vir my ’n simfonie. Baie van my liedjies het hier uit my kinderhart gekom. Toe ek ’n klein dogtertjie was, moes ek altyd vir ‘grootmense’ sing vir ’n geldjie. Ek dink die idee van ‘n loopbaan het toe reeds in my kop vasgesteek.

“Later kon ek my tienerhart interpreteer en musiek en kreatiwiteit het bymekaar uitgekom. Ek het begin om dit wat ek wou sê, te sing, en het toe agtergekom ander luister. Ek moet bely dat sang steeds my lewensasem is. Dit hou my gemoed skoon.

“My pa is op ’n vroeë ouderdom in ’n tref-en-trap-ongeluk oorlede. Ons het altyd saamgesing en ek het ‘n dringende behoefte gehad om my hartseer uit te sing.

“Dit was ook ’n soort van ’n lojaliteit teenoor hom omdat hy my altyd sterk gemotiveer het. Op sy begrafnis wou ek teenoor die dominee aandui dat hulle maar sonder my sang met die verrigtinge moet voortgaan. Ek het egter opgestaan en ek dink nie ek het ‘Jerusalem’ al ooit weer so mooi gesing nie. Dit was net ek en hy, die engele en God.

“My ma het altyd liedjies gesing of gefluit wat net vir haar bestaan. Die wonder van my ma was dat sy kon stilstaan om te luister. Ek kon ’n uur aanmekaar sing en sy sou luister en verstaan. Op my nuwe album, Belia sing Janita Claassen, bring ek ’n ode aan my ma met ‘Lied vir Ma’.

“My eerste CD wat na my pa se dood uitgereik is, was bloot ’n emosionele reis. Dit was ’n genesingspad. Daarna het agt albums gevolg, waarvan Select die laaste vier op die winkelrakke gekry het. Elke CD het sy eie spesiale plekkie. Die Tsotsi-CD’s is toonsettings van gedigte van Frans van Rensburg. Dit is Matteus in ’n ‘tronktaal’ wat al 11 tale van ons land bevat. Die produksies van Tsotsi-Evangelie was by al die feeste en ons het landwyd opgetree. Ek het selfs gevangenes by verskeie gevangenisse gaan oplei en hulle saam met my by onder meer die KKNK laat optree. Die Tsotsi-album het drie benoemings ontvang, naamlik van Huisgenoot, Vonk en AMT. Ek het ook dieselfde jaar ‘n benoeming in die kategorie vir beste sangeres by Huisgenoot ontvang.

Leef het ontstaan nadat Interkaap my vervoer vir die Tsotsi-Evangelie landwyd geborg het. Dit was so ’n besonderse reis waartydens ek baie mense ontmoet het – elkeen met ’n eie storie. Ek het die mooiste stories geneem en liedjies daarvan gemaak. Vandaar die album.

“Dit was altyd die heel lekkerste vir my om per trein na my opvoerings te reis. Ek was in my eie woonwa (kompartement) en het net ontspan. Die natuur, die sonsondergang, die geklik-klak op die spore … alles. Die treine het egter mettertyd laat by hul bestemmings uitgekom en ek moes dit laat vaar om betyds vir my optredes te wees. Om trein te ry het my egter die tyd gegee waarin ek ná optredes en baie mense ontmoet net weer myself kon vind voor ek my huislewe tot die volgende toer hervat het. Dit was dus die oorbruggingstyd tussen twee wêrelde. 

“Ek wou elke CD iets besonders maak. Met die beplanning van ’n nuwe geestelike album (my hart lê al baie lank hierin) het ek besluit om Manuel Escorcio te kontak en te vra of hy nie ’n duet saam met my op die album wil doen nie. Natuurlik kon hy nie blindelings instap nie. Nie almal wat goed sing se stemme werk noodwendig saam nie. Waardes en respek is ook baie belangrik, juis omdat ’n mens so baie tyd saam deurbring. Ons het met vier optredes saam begin en die res is geskiedenis. Ons was die afgelope vier jaar sangmaats met meer as 200 landwye optredes. Ja, dit het baie goed gewerk en ons optredes was besonder gewild. ’n Mens weet dit as jy weer teruggenooi word na ’n plek toe vir optredes.”

Sy beskryf Manuel as “hardwerkend, ervare en toegewyd met ’n sterk persoonlikheid en iemand wat deur die jare nie groter as sy musiek geword het nie”.

“Ek het baie geleer, maar om as kunstenaar te groei, beteken dat ek moes aanbeweeg. Daarom is ek opgewonde oor Belia sing Janita Claassen. Daar is ’n skatkis van liedjies wat nie verlore mag gaan nie. My grootste uitdaging was om dié gewilde sangeres te huldig, maar om soos Belia te klink. Ek bied tans vroue-oggende met die tema “‘n Skatkis vol juwele” aan. Ek gesels oor al die verskillende juwele en span die kroon met Janita se liedjies.”

Oor haar optredes met Frans van Rensburg oor tien jaar vertel sy dat hulle so goed bevriend geraak het dat sy haar eie kamer in hul huis gehad het.

“Ons het in die noorde vanaf Potchefstroom gewerk. Baie duisende kilometers saam lei daartoe dat ’n mens mekaar later baie goed ken. Ons het baie na aan mekaar geraak en kon veral die kunste saam waardeer. Frans het intussen siek geword, maar ek besoek hom so gereeld as moontlik.”

Oor die uitputtende lang afstande wat hulle soms moes aflê, sê sy: “Ek het geleer om dit vir myself maklik te maak. Ek doen gewoonlik drie tot vyf optredes na mekaar as ek van dorp tot dorp reis. Die ryery kan jou moeg maak, maar na ’n goeie nagrus het reis tog ’n manier om jou kop oop te maak. Om te reis beteken ook jy is in transito. Vir ’n kort tydjie kan jy van verantwoordelikhede vergeet. Jy kan tog nie op twee plekke tegelyk wees nie.” 

Wat doen ’n kunstenaar as hy of sy siek word en die gehoor wag?

“Dis maar ’n geval van ‘The show must go on.’ Ek lig ook nie die gehoor in dat ek siek voel nie. Hulle het nie ‘n kaartjie uit jammerte gekoop nie, maar om die vertoning te kom geniet. Daarom gee ek my beste.”

Sy beskerm haar stem deur teen ooreising te waak, aangesien dit een van die grootste redes vir skade aan stembande is.

Die Afrikaanse sanger vir wie sy die meeste bewonder, is Jo Black.

“Ek hou van sy waardes en uitgangspunte oor die lewe en hoe dit deur hom vertolk word sonder om te dweep.”

Oor haar eie sangtalent is al talle mooi woorde geskryf, So skryf Vrouekeur se musiekresensent CJ de Swardt onder meer oor Belia se “Vokale swier” dat haar CD Leef jou met die eerste noot aangryp. Sy het ook groot indruk met haar vorige albums, Kom dans Klaradyn, Die Tsotsi-Evangelie en Stroeslove, gemaak en daarom is haar vaardigheid met Tempo- en Vonk-benoemings erken.

Oor die leefwyse van ’n kunstenaar is haar benadering: “Jy kies nie die kunste nie, die kunste kies jou. Bevrediging oorskadu opoffering. Dit moet deel wees van jou bestaan, anders is volhoubaarheid onmoontlik.”

Besoek die Prinses Projek by www.princessproject.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top