Sandveldstories deur Ferdinand Deist: ’n resensie

  • 1

Sandveldstories
Ferdinand Deist
nb Uitgewers
ISBN: 9780624087267

ʼn Keur uit Ferdinand Deist se gewilde kontreistories uit Pofadder en Peddelford, Die pomporrel-konsert en Blom Appeltiet op Eselspoort is onlangs deur Tafelberg uitgegee as Sandveldstories.

Deist is ʼn ervare storieverteller wat die Sandveldse wêreld en unieke karakters van daardie omgewing meesterlik aan die lesers bekendstel. Die stories, wat in die tipiese streekstaal geskryf is, dra by tot die verruiming van die Afrikaanse literatuur – juis deur die gebruik van die streekstaal, maar ook deur die verskeidenheid tematiese elemente en die kleurryke karakteruitbeelding van die verskillende karakters in die verhale.

Sandveldstories bevat 30 kortverhaaltjies en “handel oor ʼn unieke wêreld en sy mense, sommige groots soos hul omgewing of klein en dwaas soos mense ook maar is”, soos op die agterblad vermeld word. Die stories boei die leser om verder te wil lees en al is dit aanvanklik nie maklik om aan die streekstaal gewoond te raak nie, pla dit nie – veral as die leser die stories hardop vir hom-/haarself begin lees.

Dit is die uitbeelding van menswees waarmee lesers sal identifiseer. Ons ken almal ʼn “ou Lettie” wat “Mar kan ’ie ou mens nou vir jou geskinner ’t!” of “ou Sarel” wat “ʼn selfgemaakte man” is wat hom opgewerk het van ʼn skaapwagter tot ʼn bywoner tot “hy op so vyf-en-veertig nie net ʼn vermoënde man gewees het nie, mar sommer ʼn miljoenêr”, of ʼn Hermaans wat “nie vannie stoepsitter-soort gewees (het) nie”. Almal karakters met wie die leser deernis sal hê omdat hulle so herkenbaar is en so met deernis beskryf word in die verhaaltjies. Interessant is dat baie titels die name van karakters in het: “Ta’ Anna se wye tanne” en “Hermaans Askies se opperasie” en “Fransiena se slieflis rok” en “Oom Willem Booise se gedagteverlies”. Dit vat ook die inhoud van die verhaal saam: “Die Jôn Deere trekter” handel oor die verkoop van ʼn ou “Lans”-trekker sodat ʼn nuwe John Deere-trekker gekoop kan word; in “Die plaag van Bawel”, wat handel oor die verwarring met tale, leer Eg Vannermerwe hoe om “Bom Appeltiet” te sê en in “Witblits betekent besigheid” leer die “agjint” die effek van witblits: “En met dié lat hy die leë beker oppie tafel neerkap, kom ‘ie tafel so ʼn ent nader aan hom toe en hy gaan weer weg van hom af.” Net soos die leser die verskillende gesigte van die Sandveldse mense leer ken, net so leer ons van die gebruike en tradisies van die mense: die inwyding van die nuwe pomporreltjie in die kerk, die skelm afluister by die telefoon op die partylyne, die negatiewe persepsies oor prokureurs, en die rol van die koster by begrafnisse.

Ook die rykheid en uniekheid van die ruimte word pragtig beskryf: “Sy’t allie jare hier op Eselspoort innie wit huisietjie m’t die twee gewels ennie buitetrap gebly”; die son brand seer “want dié kan al smôrs teen agtuur lelik in ʼn man se nek gesteek het”; “Eselspoort ‘t ok, so klein gewees ‘t, sy bodorp en sy onderdorp gehad”, maar veral leer die aarde jou: “Jy moet gespessialiseerd geraak het op darie stuk aarde. Annerster het hy vir jou afgegooi van hom af. Mar as hy jou self geteel het, dan’t hy jou nie sommer afgegooi nie en dan’t hy goed vir jou gesôre.” Dit is waarskynlik wat die verhale oordra: ʼn Mens moet een word met hierdie ruimte om hier te kan oorleef.

Deist slaag meesterlik daarin om in die tradisie van kontreiverhale soos deur Jan Spies en Herman Charles Bosman neergepen, die tipiese eiesoortigheid van ʼn kontrei, hier die Sandveld, aan die leser oor te dra. Lees die boek en raak bekend met die karakters en wêreld van die Sandveld.

  • 1

Kommentaar

  • Ek wens so dat ’n DVD gemaak kon word van Johnny Klein se voorlesings wat die wonderlike stories eintlik tot hulle reg laat kom. Dit was reeds gewild op die radio en feeste. Tog seker nie onmoontlik nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top