Sandveldstories deur Ferdinand Deist: ’n FMR-resensie

  • 2

Ferdinand Deist: Sandveldstories – Die pomporrel-kônsert en ander verhale, uitgegee deur Tafelberg

’n Resensie deur Danie Botha, uitgesaai op 20 Maart 2019 in Boekkeuse op Fine Music Radio onder leiding van Amanda Botha

Wyle Ferdinand Deist se bundel humoristiese kontreiverhale Sandveldstories – Die pomporrel-kônsert en ander verhale het onlangs verskyn by Tafelberg, ’n afdeling van NB-Uitgewers in Kaapstad.

Dit is ’n keur van 30 kort tekste uit die volgende bundels: Pofadder en Peddelford (1987), Die pomporrel-kônsert (1988) en Bom Appeltiet op Eselspoort (1989). As veelbekroonde teoloog het hy ’n verdere 66 boeke gepubliseer, enkeles met medewerkers. Ek noem ’n paar: Tussen angs en sekerheid, Klippe in my kerkskoen, Kan ons die Bybel dan nog glo? en Bybeldagboeke soos Met God vandag.

Die verhale is deurgaans geskryf soos die karakters in daardie landstreek die woorde uitspreek en inspan: rewirs, kestrolle, opkoenek, lantering, badskamer, bykenvelletjies, ens.

In Sandveldstories is daar ook plek vir die Bybel en geestelike gedagtes, maar dan in ’n ligter trant en nog steeds oortuigend. In “Ant Kytie se verweer” gaan dit byvoorbeeld om die tante wat soos volg beskryf word op bl 28: “Ou Ant Kytie ’t nou behoorlik m’t ’n oorhangsel alkante af op oorle’ Oom Pietjan se kop gesit. En sy’t die lyf ennie temperement daarvoor gehad.”

’n Nuwe doomnis kom toe by hulle huisbesoek doen en praat met hulle oor “die firmeliere vannie kerk, wat mos duitlik gepraat ’t vannie onnerdanigheid vannie vrou aan ’ie man”, dat sy “moet gebelowe ’t lat sy haar man sil dien en sil gehoorsaam wees soos ’n getroude vrou aan haar wettige man verskullig is” (29). Lees maar wat toe gebeur het! 

Deist wissel sy vertelwyses heerlik af. Kyk hoe bou hy ’n toneel in “Witblits betekent besigheid” (57) op met kort sinne en herhalings sodat dit dramaties raak: “En met dié skink ou Sarel die agint se glaas net so onner ‘ie driekwart. En nou praat ek van ’n waterglaas. En van witblits. En van sestig persint skoon.”

Ons beweeg aan na die alledaagse gebruike van destyds. In “Die dood vannie founmannetjie” (23) gaan dit om die afluistery op die plaastelefone op die partylyne. Ou Lettie Ingelbrê het dit so gedoen: Sy het al haar stories gehoor as sy op die foun ingeluister het. “Daar laans die foun innie gang het haar leunstoel sy staan gehad en daar ’t ou Lettie dag en nag gesit waak. En assie foun ‘trieng’ sê, het sy opgetel en geluister. En assie foun weer ’tjiert’ wil sê m’t die neersitslag, het sy die slingertjie gedrai lat hy sing: hierie kant toe en daai kant toe ’t sy gefoun, totlat al wat mens is oppie lyn geweet ’t wat angan.” Die mense kon haar soms hoor steun in die “praatgat” van die foun. Daarom het hulle “baiekeers sommer so ’n skyns opmerking gelos oor ’ie een of anner skannelike ding wat dan m’t ou Lettie sil gebeur ’t. En dan’t ou Lettie sommer ingetjip met ‘Dit lieg jy!’ mar weer vêder gesit luister.”

Lees teen die einde hoe sy van die kwaal genees is, maar watter nadeel dit vir die buurt se mense gehad het.

Die volgende stories boei en verras ‘n mens ook: In “Die oorbesige prekkereer” (32) word bespiegel oor die baie prokureurs in die hel. Die slot laat jou grinnik of selfs hardop lag. “As ’n man oppie punt staan om te dood” (120) vertel van ‘n ou wat staan met sy harsings in sy hand, maar hy verseg om te dood. In “Die kruis van ’n gespesseliseerde soort mens” (46) begin ’n pa skrikkerig raak oor sy seun wat reg langs hom ’n bok keelaf moet sny. Die seun se linkeroog kyk skeel. Pa vra: ”Gjys, my seun, ga’ jy snee wa’ jy kjeek?” 

In “Ta’ Anna se wye tanne” (13) kan die tandarts net nie agterkom wat fout is met ta’ Anna se “winkeltanne” nie. Hy weet ’n mens eet nie te lekker met winkeltanne nie. Maar sy kom maar kort-kort kla. Die slot, o, die lekker slot!

Die laaste verhaal wat ek móét noem is “Hermaans Askies se opperasie” (63). Dit begin só:

“Hermaans was maklik die sku’ste mens wat ek geken ’t en nog ken.

...

“Mar dit was veral as daar ’n vroumens oppie toneel geverskyn ’t lat hy skoon verboureer geraak ’t. En dis sukke tye wat die arme Hermaans dan allerhanne eienaardige goeters gesê en gedoen ’t net om nie niks te sê of te doen nie. En nes hy iets gesê of gedoen ’t, het hy gesê: ‘Askies tog’, want hy’t sommer geweet dit was weer verkeerd gesê en gedoen gewees.”

En toe moet Hermaans hospitaal toe. “Daai selle aand, toe het dit al beginne skeefloop.” Want die dokter wat hom laat uittrek het vir die ondersoek, was ’n vroumens gewees. In ’n stadium begin sy werk met Hermaans se naweltjie. “En toet sy so an sy maag vat, toe ruk sy hele maagvel op ’n knop. Sy’t nog gerekent sy’t oppie kwaad afgekom, mar allie tyd wassit skoon senewees gewees wat so gepluk ‘t.

“Toet sy nou m’t die maag sam klaar is en beginne vêder beweeg, toe beginne Hermaans m’t: ‘Voertsek! Askies tog!’ en ‘Bly uit my menslikheid uit, gehoor. Askies tog.’

“En hoe meer Hermanus klou waar hy klou, hoe meer beginne die doktertjie toe die speletjie te geniet.”

Dit doen ons ook. Jy geniet Sandveldstories: Die pomporrel-kônsert deur Ferdinand Deist.

  • 2

Kommentaar

  • My peetpa het as kind in die Sandveld gebly. Oom Danie se meelewende en aptytwekkende resensie van hierdie boek, inspireer my as isiZulu-sprekende om dit beslis te wil lees. Ek kan nie wag om meer van die Sandveld se mense te beleef nie!

  • Baie, baie dankie, Sipho. Jou reaksie beteken vir my baie. Ek gaan dit bewaar Oom Danie van die Kaap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top