Sandra Prinsloo beslis by Clover Aardklop, al kan Jani nie haar draaie kry nie

  • 0

Jani, die solovertoning met Sandra Prinsloo, gaan nie meer by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees te sien wees nie. Maar in haar plek is daar twéé ander vroue wat gehore reg oor die land op hul voete en in trane gehad het. Die bekroonde Prinsloo sal te sien wees in twee van haar gewildste solovertonings ooit: Die naaimasjien en Oskar en die pienk tannie.

Jani is gebaseer op die outobiografie van die joernalis Jani Allan, Jani Confidential,  wat in die 90’s opslae gemaak het weens haar beweerde verhouding met Eugène Terre’Blanche. Volgens die vervaardiger en skrywer Saartjie Botha, het ’n sameloop van omstandighede gelei tot die besluit om die toneelstuk vir eers terug te hou. “Ons is jammer vir enige teleurstelling,” het sy gesê.

naaimasjien650

Die naaimasjien is ’n aangrypende verhaal van die bejaarde Magdaleen wat terugdink oor haar lewe terwyl sy wag vir die koper wat haar geliefde Bernina-naaimasjien gaan kom oplaai. Dit is geskryf deur Rachelle Greeff en het in 2008 die Nagtegaal-teaterteksprys gewen. Nadat dit vertaal is, het Prinsloo onder meer by die Edinburgse teaterfees in Skotland opgetree.

Met Oskar en die pienk tannie het Prinsloo daarin geslaag om gehore te verstom met haar vermoë om die rol van die jonge Oskar sowel as ouma Rosa te speel. Die toneelstuk is gebaseer op Eric-Emmanuel Schmitt se Oscar et la dame rose. Naòmi Morgan het dit in Afrikaans vertaal. Die produksie het pryse gewen oral waar dit opgevoer is – beste debuut op die Vryfees, terwyl die Absa KKNK en Clover Aardklop dit ook bekroon het. In 2013 het Oskar drie Fiësta-pryse gekry – Prinsloo is aangewys as beste aktrise en Lara Bye as beste regisseur. Dit is ook aan­gewys as die beste aanbieding.

Die naaimasjien word op 6, 8 en 9 Oktober aangebied en Oskar en die pienk tannie op 7 en 10 Oktober. Die kaartjies kos R130.

Feesgangers wat kaartjies vir Jani het, kan hul geld by enige Computicket-tak terugeis. Dit is ongelukkig nie moontlik om ’n kaartjie vir Jani net so vir een van die produksies te vervanging te gebruik nie. Sodra die Jani-kaartjie teruggegee is, kan feesgangers kaartjies vir dieselfde tydgleuf vir die nuwe vertoning bespreek.

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die volledige program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top