Titel: Salf vir jou seerkry: Die pad na genesing na egskeiding
Skrywer: Ronald Irwin
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796316516
Koop Salf vir jou seerkry: Die pad na genesing na egskeiding by Kalahari.com.
Jy geniet jou werk; finansieel gaan dit goed; jy is reeds twaalf jaar gelukkig getroud met die man van jou drome. Julle het twee pragtige kinders.
Dié Kersoggend gaan die familie kerk toe. Ná die Kersete gaan stap julle teen die strand. Boeta ry op Pa se rug. Sussie kom agterlangs aangehuppel. Daar is soveel seën om julle.
“Ek wil skei,” sê jou man. “Daar is iemand anders.”
Dit het met Jacelize de Waal gebeur.
Oor daardie “nagmerrie” het sy ’n boek geskryf.
“Salf vir jou seerkry: Die pad van genesing ná egskeiding is ’n natuurlike uitvloeisel van my dagboeke. Die tema is dat God ons seer wil genees, jou bínne jou gebrokenheid wil heel maak.”
Jacelize is 42. Blond. Blou oë. Sy en haar twee kinders (ses en nege) bly in Bellville. Sy het ’n BComm, ’n diploma in reklame en bemarking, en bedryf haar eie konsultasie-onderneming.
In Salf vir jou seerkry sê Jacelize die tekens dat iets in hul huwelik skort, was lank daar: sy was moontlik te naïef of hardkoppig om dit te herken vir wat dit was en het haarself lank kwalik geneem daarvoor. “Maar as ek nou terugkyk is ek nie spyt dat my liefde ‘blind’ was nie. Ek het my man vertrou en ten alle koste in ons huwelik geglo. Ek glo steeds dié eienskappe is noodsaaklik in enige huwelik.”
Maar Christene is mos nie eintlik veronderstel om te skei nie?
“’n Egskeiding is nie deel van God se plan vir Sy kinders nie. Hy laat dit toe weens ons sondige natuur en die vrye keuses wat ons uitoefen. Maar ’n egskeiding is nié die einde nie. God wil vir almal, enkellopend of getroud, ’n toekoms vol hoop en verwagting hê.”
’n Mens probeer altyd tot aan die bitter einde om jou huwelik te red, veral as daar kinders is. Maar is dit nie te laat wanneer daar ’n derde party is nie?
“Ek glo God kan enige huwelik red as béide partye daartoe verbind is,” antwoord Jacelize. Sy het soveel getuienisse gehoor van mense wat deur soortgelyke situasies as sy (of selfs erger) was en uiteindelik geskei het, en dan weer met dieselfde persoon getrou en ’n selfs beter huwelik gehad het. “Dit vra egter wedersydse ‘commitment’ en ’n fisieke wegdraai van dít wat die huwelik in die eerste plek bedreig het.
“Ek glo ook dat so ’n ‘nuwe begin’, een van totale genesing en vergifnis, net deur God bewerkstellig kan word. Ons kan dit nie uit eie krag doen nie.”
As haar eks nóú aan haar voordeur sou klop en vra dat sy hom terugneem?
“Hy is intussen getroud. Ons het mekaar ‘vrygestel’ en aanbeweeg. Ek is gelukkig en het ’n vol, opwindende lewe. Ons verhouding het tot so ’n mate herstel dat ons steeds die beste ouers vir ons kinders kan wees.”
Jacelize moes van iemand skei vir wie sy steeds lief was. Was haar egskeiding daarom moeiliker as in die meeste ander gevalle?
“Om te skei is altyd ’n baie seer proses. Mý situasie het my gedwing om oor en oor met die Here te worstel. Ek glo dat dit my genesing bespoedig het. Dis ’n beter opsie as om keer op keer ou koeie uit te grawe, wat net verdere pyn en negatiewe emosies bring.”
Wanneer moet ’n egpaar aanvaar dat ’n egskeiding onafwendbaar is? Wanneer daar géén emosie meer is nie, selfs nie haat of woede nie, net volkome apatie?
“Daardie apatie was, in my man se geval, reeds daar toe hy gesê het hy wil skei,” antwoord Jacelize. “Hy het ’n besluit geneem en ek sou hom nie daarvan kon laat afsien nie.”
Dit het háár vyf jaar geneem om apaties te raak. “Tyd is ’n groot genesende faktor. My eks het aanbeweeg en ek het ’n jaar later besef ek moet dieselfde doen. Ek het my man liefgehad, maar hom laat gaan. Hy het nie teruggekeer nie. Daarna moes ek myself ook vrymaak: my ‘reis’ deur die lewe was nie ook my man se reis nie.”
Hul huwelik was grootliks gelukkig: daar was wonderlike tye. As sy kon kies, sou sy sy beslis daardie deel van haar lewe wil oorhê. Daar het boonop twee pragtige kinders uit die huwelik voortgekom.
“Geen huwelik wat deur God ingestel is, is ooit ’n fout nie, maar ons het keuses. En keuses het gevolge. Omdat ons ‘een’ word binne ’n huwelik, het elke besluit wat jy neem, ’n impak op jou eggenoot. My eks het ’n besluit geneem wat ’n reuse-impak op my en ons kinders gehad het. Ons leef almal steeds met die gevolge saam.”
Jacelize is katvoet om weer te trou. Sy glo steeds aan die huwelik, maar haar verwagtinge is nou anders as vroeër: sy besef nou meer as ooit die erns en omvang van die huweliksbelofte. “Ek glo ’n man moet sy vrou liefhê en beskerm en die beheer in die huwelik neem; sy moet hom respekteer en as’t ware onder sy vlerke leef. Die vrou is haar man se ‘help meet’. Ek dink nie ek het hierdie rol werklik verstaan nie.”
’n Moderne, onafhanklike vrou wat glo die man moet “die baas in die huis” wees ...?
Maar die oortuiging waarmee dié vrou dit sê, en die feit dat sy nie bang is om haar standpunte te verdedig nie, al is dit “polities inkorrek”, bewys daar skort niks met haar ruggraat nie.
Jacelize de Waal is hard geslaan, maar sy het opgestaan en genesing gevind. Haar blik het nie vir ’n oomblik afgewyk van die God in haar hart nie.
Sy het meer murg in haar pype as die meeste mans wat ek ken.
JB Roux
* Twee lesers kan elk met die komplimente van Lux Verbi ’n getekende eksemplaar van Salf vir jou seerkry: Die pad van genesing ná egskeiding wen. Stuur ’n e-pos met SALF in die onderwerplyn na wen@litnet.co.za.


Kommentaar
Salf
So dankbaar dat daar ’n slag ’n boek uitgaan hieroor. Want duisende mense trotseer dit daagliks maar so min is daar op die rakke om ander hiermee te help. Selfs net te besef jy is nie alleen of die enigste een met wie dit gebeur nie. Ek is nou ‘n jaar geskei ... presies dieselfde storie en dit bly swaar en seer. Maar met genade raak elke dag beter. Wat sleg is is om jou eks elke dag nog te sien saam met sy nuwe liefde wat in jou huis bly wat jy gebou het op ‘n plaas wat julle saam gekoop het. Dit maak seer en die seer vat lank!
Sal graag ’n kopie vir my vriend gee wat tans deur ’n moeilike egskeiding gaan.
Goeienaand. Ek het dit waardeer want ek gaan deur soortgelyke en ek het iemand regtig Christlike nodig on my deur hierdie tyd the neem. My skeisaak is nou op hande en ek het 'n Christlike mentor nodig om saam met my die pad te stap om dit vir my te vergemaklik.
Ek gaan ook tans deur egskeiding, dis nog net aan die begin. Hy het darem nou uit die huis getrek. Ek en hy verskil 17 jr (50 en 67) My man ook 2 jr verhouding met 'n ander vrou van 61 jr. Dit het my regtig gebreek om die dag na lockdown dit te moes uitvind. Tans is ek gebreek en hy duidelik gelukkig. Wat die toekoms inhou, weet ek nie, maar my hart is stukkend en weet nie hoe ek die egskeiding verder gaan hanteer nie. Ek het nog 'n dogter van 17jr wat nou matriek doen. Sy ook baie teleurgesteld in haar pa, maar wil ook 'n goeie verhouding met hom hou, wat ek nie anders sou wou hê nie. Maar dis nie maklik nie, waar begin mens?