Sal iemand asseblief die klank afskakel?

  • 0

Is dit net ek, of hunker jy ook soms na ’n beter klankbaan? Die hele wêreld is ’n poppekas en ons dans so na aan die rand as wat ons toutjies toelaat. Die backdrop is dromerig (Tafelberg, mynhoop, stadskap of duin), die windmasjien vroetel deur ons hare en die pienk kollig streel ons wangbene, maar net soms laat die backtracks ons lelik in die steek. Stop, rewind, wie doen die klank?! wil ek gil.

Ek gaan nou iets bely waaroor ek nog nooit die moed gehad het om uit te praat nie. In oomblikke van stres trek ek soos 'n kat my ore plat teen my kop, skreef my oog teen die Suidooster, haal diep asem, waaier my ribbekas soos 'n trekklavier oop en dan ... klink daar triomfantelik in my binne-oor op ... Carike Keuzenkamp se (helaas) onvergeetlike treffernommertjie “I love you TIMothy … you’re just the GUY for me”.

Ek besit 'n arsenaal onvanpaste Afrikaanse kougomtreffers wat spontaan na die oppervlak borrel in waterskeidingsmomente. Veerligte liedjies met ooglopende paarrym soos lewe, strewe, jou, blou, hart, smart, meisie, wysie kriewel in my bors soos asma. Dis nie dat ek ooit gaan sit en luister het na hierdie liedjies of hul woorde gememoriseer het nie, dis net dat die holruggeryde akkoord en die sufgerymde woord soos taai kougam aan jou skoensool plak en weier om bes te gee. Dae lank draal die sinnelose refrein.

As 'n mens se innerlike klankbaan nie gesinchroniseer is met jou draaiboek nie, word alles laf. Kardinale momente val plat. Paradigmaverskuiwende insigte sink soos klippe. Pak iemand my aan die skouers beet, kyk diep in my oë en dring aan op onverdeelde aandag, 'n grondige reaksie, 'n weldeurdagte antwoord, begin ek oorverdowend in my kop sing: "Gautengeleng, Gautengeleng, die crime is streng, maar wat de heng, I wanna stay in Gautengeleng."

Soms pas die liedjie wel by die oomblik, maar bloot op 'n sekere Mad Hatter-vlak. As iemand byvoorbeeld kla van slegte spysvertering, wel "Dit borrel in my" in my op.

Natuurlik is daar niks nuuts onder die son nie: in Anne Tyler se boek Breathing Lessons word die verteller se man soortgelyk geteister. Loop hulle in die straat af en sien 'n hondedrol op die sypaadjie ("dog doo" op Amerikaans) begin die man neurie: "Do doo that voodooh that you do so well." Ek is nie alleen nie. Boeke het my nog altyd minder eensaam laat voel.

Ek veg vergeefs teen hierdie verlammende sindroom. Soms dink ek ek moet maar die handdoek ingooi en dit hartlik omhels. Stel jou voor daar is 'n soort Tourette-sindroom waar die lyer kompulsief met iets veel obsener as swetstaal vorendag kom. Dat iemand, soos ek byvoorbeeld, se logiese reaksie op 'n waansinnige wêreld is om soos in 'n low-budget amateur musical in sang uit te bars. Die arme lyer laat hulpeloos op die lug los snarse van nommers soos: "Hoe sê mens da-HA-nkie?", "Rock daai lyfie", "Baby Chocolates!", "Kapteeeein, sy is MYne!", "Liewe Lulu, wil jy nie maar met my doedoe?".

Jare gelede was daar 'n TV-dokumentêr oor countrymusiek in Suid-Afrika. Die aanbieder wou by een aanhanger, 'n moeë blondine in skitterwit stetson, weet wat dit is wat haar so aantrek na countrymusiek. Haar antwoord, met lispel, was: "It's the WORDSCH." Ek stem saam, dis presies wat my ook altyd begogel: wóórde – álle woorde óral. Verhewe, poëties, inspirerend, bombasties, laf, geyk, wat ook al. It's the wordsch.

Ek woeker daagliks met woorde. Daarom hunker ek dikwels na stilte of kalmerende instrumentale interludes. As iemand my innerlike radiostasie net kon oorskakel na Classic FM. Soos Johnny Depp met sy allermooiste soetwynmondjie in Alice in Wonderland sê: "On that day, I will fukkerwacken VIGOROUSLY."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top