Saktyd-finaliste bekendgemaak

  • 0

Die dertien finaliste van Huisgenoot se eerste werklikheidsreeks, Saktyd, is aangekondig en tydens 15 Mei 2012 se baie suksesvolle openingspartytjie het die kameras begin rol!

Die program is ’n werklikheidsreeks, in samewerking met kykNET, waartydens die deelnemers meeding om ’n werk by Huisgenoot los te slaan. Izelle Venter (hoofredakteur), Wicus Pretorius (adjunkredakteur) en Haidee Muller (verslaggewer) het landwyd gereis om die beste finaliste vir die program te kies en nou het die tyd aangebreek om te sien of die ink in hul are bruis. Die finaliste is tussen 18 en 41 jaar oud en die groep bestaan uit entrepreneurs, kopieskrywers, sakelui en selfs ’n kinderoppasser!

“Wat ’n voorreg om soveel Suid-Afrikaners te ontmoet wat droom van ’n loopbaan in die media,” sê Izelle Venter, die hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum. “Hul deursettingsvermoë en entoesiasme was inspirerend.”

Izelle Venter, Haidee Muller en Wicus Pretorius
Esmaré Weideman en Christo Snyman
Johandri Jacobs en Andriette Theron

Die deelnemers kom van oral in Suid-Afrika en sal vier weke lank in Kaapstad woon, waar die episodes by die Huisgenoot-hoofkantoor geskiet word. Hier sal hulle aan ’n verskeidenheid uitdagings deelneem en na afloop van elke episode sal iemand huis toe gestuur word.

“Elkeen van ons kandidate het daai iets spesiaals wat hul deel kan maak van die Huisgenoot-span. Ons sal egter moet sien wie die uitdagings en druk kan weerstaan,” sê Izelle.

Die vervaardiger, Mark Veltman van Homebrew Films, is veral opgewonde oor die formaat van die program. “Daar is geen ander werklikheidsprogram in Suid-Afrika soos Saktyd nie,” sê hy. “Die uitdagings sal onder meer deelnemers se mediakennis en mensevaardighede toets.” Saktyd gaan nie net oor stories skryf nie. “Die deelnemers gaan ook met bekendes, sosiale media en selfs die grafiese- en bladuitlegafdeling van die tydskrifte te doen kry.”

Die uitdagings sal deelnemers onder baie druk sit. “Tog is dit alles realisties en binne die perke van wat ons van verslaggewers hier verwag,” sê Wicus Pretorius. “Dit gaan nie maklik wees nie, maar wie ook al wen, gaan presies weet wat hier by Huisgenoot op hom of haar wag.”

“Ons soek slim, kreatiewe mense wat ’n bydrae kan lewer tot Huisgenoot se sukses,” sê Izelle. “Hoewel ons ’n opwindende TV-program maak, wil ons ’n kontrak teken met iemand.”

Saktyd word oor die bestek van 13 weke op kykNET uitgesaai. Die loodsepisode is op 17 Julie.

Tracy Lange en Liezel van der Westhuizen
Rooi tapyt-tyd: finaliste word aangekondig
Die finaliste wat aan Saktyd gaan deelneem:

  • Voor links - regs: Jurie Prins, Leon Flemmer, Jeannie Erasmus, Christiaan Lee, Christiaan Boonzaaier, Elridus Grobler.
  • Agter links - regs: Leilani Marx, Astrid Fisher, Leveinia Botha, Tersia Jacobs, Lilian Strauss, Laura Stopforth, Jolene Fransman

Foto's: Huisgenoot-fotograaf, Misha Miles

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top