![]() |
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Jaarliks, gedurende Augustus, word CJ Langenhoven se geboortedag nog steeds op een of ander wyse herdenk. Hy is op 12 Augustus 1873 naby Ladismith gebore. Hy word onthou as die man wat die Afrikanervolk leer lees het, maar miskien sou dit goed wees as ons 'n bietjie fokus op Langenhoven, die regsgeleerde.
Hy het nie juis uitgeblink as student aan die Victoriakollege op Stellenbosch nie. Dit was te wyte aan – soos hy dit later gestel het – "my tugtelose gewoonte om te leer soos ek lekker kry". Nogtans het hy deurgedruk en in 1899 die LLB-graad verwerf.
Sy geboortemaand, Augustus, het op 'n vreemde manier nogal 'n groot rol ook in sy lewe as juris gespeel. 'n Paar dae na sy 26ste verjaarsdag – op 17 Augustus 1899 – het hy as prokureur op Oudtshoorn begin praktiseer en twee jaar later – op 15 Augustus 1901 – is hy as advokaat van die Kaapse hooggeregshof toegelaat. Sy praktyk aan die Kaapse balie wou net nie koers kry nie en in November 1902 is hy terug na sy geliefde Oudtshoorn, waar hy tien jaar lank betreklik suksesvol as prokureur gepraktiseer het. Hy het veral in die waterhof sy merk gemaak met argumente wat hy altyd suiwer logies en in 'n sprankelende styl gelewer het.
Langenhoven se agtergrond as regsgeleerde slaan dikwels in sy skryfwerk uit. In "Ons weg deur die wêreld" verskyn daar byvoorbeeld die toneelstukkies "Beproewinge van 'n prokureur" en die nogal humoristiese "Tweetalige vonnis".1 Laasgenoemde is die verhaal van Kiewiet Tarentaal wat in die rondgaande hof aan moord skuldig bevind is en nou deur die Engelstalige regter – wat g'n woord Afrikaans verstaan nie – gevonnis moet word. Die regter is lief om lang, indrukwekkende preke af te steek wanneer hy iemand vonnis, en die tolk – wat lankal moeg vir die saak is – het boonop "'n paar doppe in", soos Langenhoven dit stel. Hy tolk die regter se preek sinnetjie vir sinnetjie aan die beskuldigde, maar parafraseer en las aan soos hy lus kry.
Nadat die regter Kiewiet goed laat verstaan het hoe sleg hy is, en hoe seer hy die doodstraf verdien, sê hy: "Prepare therefore, Keywhit Tarantula, for a fearsome and lonesome journey to the undiscovered country from whose bourn no traveller returns."
Nou is dit die tolk se beurt: "Die juds sê jy gaan pylreguit hel toe as jy jou nie bekeer nie, en daarvoor het ek maar min hoop ..."
"Have you anything to urge now, Keywhit Tarantula," vervat die regter, "why sentence of death shall not be passed on you?"
"Die juds vra of jy nog meer leuens het om te vertel, Kiewiet?" word daar aan die beskuldigde getolk, waarop die bedremmelde Kiewiet sy enigste woorde in die toneelstukkie spreek : "As ek iets mag vra, dan wou ek vra dat meneer vir Kiewiet eers moet ophang en dan sleg maak."
Na al die jare verskaf Langenhoven se spreuke nog steeds genot en stof tot nadenke. Hier is twee wat jy op vandag se pad kan saamneem: "Soek vir jou 'n dokter wat jou goeie moed inpraat en 'n prokureur wat jou slegte moed inpraat."2 Waak dus teen die ooroptimis wat jou met die eerste besoek verseker dat jy 'n goeie saak het wat jy net nie kan verloor nie.
Die tweede spreuk is vir diegene wat graag hof toe gaan oor die beginsel wat op die spel is. "Prosedeer oor 'n baadjie,” was Langenhoven se waarskuwing, “en hou jou broek klaar vir die onkoste."3
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


