’n Politieke aktivis keer terug uit die buiteland om ’n Afrikanerseun te kom aankla wat vyf swart mense doodgemaak het. Dis waaroor die jongste drama van Charles Fourie handel wat op 29 Mei in die New Africa Theatre in Athlone opgevoer gaan word. Naomi Meyer het Fourie oor sy werk uitgevra.
Hallo Charles, dankie dat jy tyd maak om te gesels. Jy’s baie produktief, soos ATKV-Skrywersalbum op LitNet ook tereg sê. Hoe het dit gegaan met jou produksies by die Woordfees, soos Stander? Of laat jy die produksie vry nadat hy geskryf is en gaan kyk nie wat die regisseur en akteurs daarmee maak nie?
Ek kon ongelukkig nie Stander tydens die Woordfees bywoon nie, weens druk repetisieskedules van ons ander produksies, Sonde met die Biere en Offer, by die KKNK vroeër vanjaar. Ek verneem wel dat die nuwe Stander-produksie ’n uitstekende medewerking tussen Albert Maritz en Waldemar Schultz is, en hoop om dit eersdaags by die Kykweer-fees in Stellenbosch te gaan besigtig. ’n Dramaturg moet beslis afstand neem van sy werk wanneer hy dit toevertrou aan ’n regisseur en spelers, sodat hulle hul eie paadjie daarmee kan loop. Die dialoog bly immers voortleef, selfs onder die hand van ’n skewe interpretasie.
Stander is geherinterpreteer – jare gelede was Albert Maritz die man wat die hoofrol vertolk het, maar in 2013 was dit Waldemar Schultz. Hoekom het die teks teruggekeer?
Albert Maritz is een van my gunsteling-akteurs, en ons het destyds ’n kookwater Stander op die planke gesit te danke aan sy toegewyde benadering as speler. Hy het hom ook die afgelope jare as uitnemende regisseur bewys wat met dieselfde toegewydheid en respek omgaan met veral die talle klassieke Afrikaanse dramas wat hy met groot sukses opgevoer het. Die gedagte om Stander weer nuwe lewe te gee was dan ook sy inisiatief, en soos hy al self gesê het, dis een van die lekkerste en mees uitdagende mansrolle wat nog in ’n Afrikaans geskep is. Ek glo Stander sal, soos die mite van André Stander self, nog lank by ons spook en voortleef in dié eenmanstuk.
Jou Engelstalige drama Sacrifice vertoon by die New Africa Theatre vanaf 29 Mei. Is dit vir jou ewe natuurlik om in Afrikaans en in Engels te skryf?
Sacrifice is die Engelse weergawe van Offer, wat onlangs by die KKNK gedebuteer het, en omdat die teks oorspronklik in Engels geskryf is, het ons besluit om dit nou so op te voer in Kaapstad met die oog daarop om dit later Londen toe te neem. Die keuse om in Engels of Afrikaans te skryf is eintlik meer ’n dilemma as ’n natuurlike gang, aangesien mens soms die gevoel kry dat wanneer ’n teks in Afrikaans geskryf en opgevoer word, daar by Afrikaanse gehore die verwagting is dat dit tot hulle eksklusief moet spreek. Die gegewe wat in Sacrifice op subtiele dog nadenkende wyse belig word, naamlik hoe geweld alle Suid-Afrikaners se lewens bevlek, en ook destyds bevlek het, is nie versoenbaar met ’n eensydige gevoel van slagoffer wees nie.
Uit die skrywersalbum kan ek sien dat jy reeds baie oorsee gereis en ook oorsee gebly het. Is die tema van die expat wat terugkeer na Suid-Afrika (in dié geval om navorsing te doen), iets wat ook persoonlik by jou resoneer? Of maar net ’n nuttige karakter vir doeleindes van jou storie?
Om te reis en afstand tussen jou en jou heimat te ervaar lei tot herbesinning van wat eens was en wat nou is. Dis in dié verband dat die karakter van Errol Hendriks in Sacrifice tot sy tuiskoms staan. Dis ’n fisieke maar ook pynlik geestelike afstand, en soos Kafka dit stel in sy kort en kragtige beskrywing van die verlore seun wat na sy vader se huis terugkeer: hoe langer jy voor die deur staan en huiwer hoe meer vervreemd raak jy. In hierdie huiwering kom die besef dan ook dat al sou jy ingaan, sal dit nie ’n verskil maak nie, want die reis het jou onherroeplik verander.
Geweld is die finale offer, sien ek, word oor Sacrifice geskryf. Of die finale opoffering – maar die gevoelswaarde van offer en opoffering is nie dieselfde nie. Maar as die geweld geoffer is, wat dán? Probeer jou teks antwoorde bied, of is dit ’n narratief wat die gehoor self gaan moet uitpluis?
In Sacrifice is die byeenbring van die jong blanke seun wat swart mense in ’n township afgemaai het en op ’n eetstaking is, en die oud politieke aktivis / oudterroris wat nou terugkeer na Suid-Afrika as geleerde sielkundige om die seun se lewe te red, en die mitiese verhaal van die boereheldin Racheltjie de Beer, almal maar net rituele narratiewe wat die gehoor vra om te herbesin oor hoekom ons as Suid-Afrikaners so antagonisties teenoor mekaar staan wanneer ons ’n gedeelde verlede en toekoms het. Die verskillende vorme van offering word dan ook voorgehou as ’n tempering van die oeroue drang by die mens om hom deur middel van geweld te laat vergeld.
Wat skryf jy op die oomblik? En wanneer gee jy op met ’n teks?
Ek is besig met ’n ligte radiovervolgverhaal vir gemeenskapsradiostasies wat eersdaags uitgesaai sal word waarvan Bettie Kemp die vervaardiger en regisseur is, en ek werk ook so saam-saam aan ’n nuwe eenmanstuk en nog ’n lekkerlagkomedie wat volgende jaar op die planke sal wees. ’n Onvoltooide teks is maar net ’n storie wat wag om geskryf te word wanneer die tyd en geleentheid hom voordoen.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

