Saartjie in die reën

  • 5

Saartjie in die reën

Foto: Canva

Vanoggend staan Saartjie in die gietende reën voor ons deur. Dit is die eerste keer in ses weke wat ek haar sien. Sy lyk vir my té maer vir die drie maande wat sy swanger is. En sy ruik wrang. Voorheen was daar probleme: ’n Ander werkgewer het haar weggejaag. Daar het toerusting uit sy garage verdwyn. Dis glo haar “neef” wat sy as tuinhulp voorgestel het. Daarna volg ’n doktersbesoek. Saartjie bloei. En sy moenie. Sy moet vir ’n maand tuisbly. ’n Bitter pil vir ’n dagwerker om te sluk. Vir geeneen van haar werkgewers werk sy vir meer as 24 uur per maand nie. Geen UIF. Geen siekverlof wat gaan uitbetaal nie.

Ek vra haar of sy die volle salaris gekry het wat ek en my buurvrou vir haar oorbetaal het. Ja, antwoord sy. Dankie. En die Kersfeesgeldjie? Ja, dankie, Meneer. Iets anders talm egter agter haar oë terwyl sy die mop en emmer uit die kas haal.

“Saartjie, jy moes die dag ná die langnaweek opgedaag het,” probeer ek. “Tóé was die vier weke verby. Waar was jy?”

“Jammer, Meneer. Ek kon nie werk nie.”

“Hoe oorleef jy? Is daar kos in die huis?” Ek wys na haar plat maag. “Eet jy ooit genoeg?”

Sy lig haar ken vorstelik.

“Ek sal regkom.”

“Is jy seker?”

Saartjie vertel: Die telefoon wat se skerm so herhaaldelik gekraak het totdat ek vir haar ’n ou foon uit die kas gehaal het, het nooit geval nie. Sy is daarmee gegooi. Of dit is uit haar hande geklap. Die kere wat sy nie vir werk opgedaag het nie, was nie omdat sy siek was nie. Daarom geen briewe van die kliniek af nie. Hy het haar geslaan. Erg. Sy kan my die polisieverklarings wys. En die “neef” was toe nooit haar familie nie. Dit was hy. Die man. Ek verstaan meteens die suur reuk wat om haar hang toe sy verder praat: Sy was op straat vir die afgelope tyd. Toe ek gisteraand skakel om te hoor waar sy dan is, eers tóé het sy kans gesien om na ou Sarah se huis terug te gaan. Sy het die kind se pa verlaat. Daar was ’n ander vrou. Sy het ’n ultimatum aan hom gestel. Hy het die vrou sonder die groeiende probleem gekies. En hy het alles gevat. Alles. En haar toe uit die huis gesit.

Sy vou haar hand beskermend om haar buik, kyk verby my deur die kombuisvenster. Buite verdamp die reënweer in mistige walms.

“Ek was skaam, Meneer.”

Sy is trots. Dít is hoe ek haar ken. Toe ou Sarah, haar tannie, my ’n jaar gelede skakel, het die matriarg van die familie gewaarsku dat hierdie jong meisie van die Oos-Kaap af ’n “way” het.

“Jy het nie nodig om skaam te wees nie, Sarah.”

“Ek het nie meer ’n huis nie. Ek het nie kos nie. Die ander mense het my laat gaan want ek gaan werk nie. Ek het niks. Net hierdie klere wat ek dra.” Haar hand is weer op haar maag. “En hierdie kind.”

Ek is baie bewus van Saartjie se agtergrond. ’n Aangeekind wat op ’n taxi van ’n gehuggie op die platteland hierheen gestuur is toe haar matras in die hut vir ’n ander, jonger familiekind gegee word.

“Wat sê ou Sarah?”

“Sy raas met my.”

“Ons sal ’n plan maak, Sarah. Ek het jou antie se nommer. Ek sal haar skakel.”

Vir die res van die oggend werskaf sy soos gewoon. Stil, teruggetrokke, 21-jarige Saartjie. Ek het baie respek vir haar. Toe sy hier opdaag, kon sy kwalik Engels praat, watwou Afrikaans. In die afgelope 12 maande het sy die taal só onder die knieg gekry dat dit die enigste manier van kommunikasie tussen ons is. Ek lag soms vir hoe sy woorde aanpas. Of in lettergrepe spel oor WhatsApp. Ek skaam my dood dat ek intussen nie een enkele woord in Xhosa by haar geleer het nie.

Wanneer ek haar afsien, is haar ken steeds gelig. Sy het ekstra geld in haar gatsak. Daarmee gaan sy ’n aangelapte kamer in die township huur. By ou Sarah sal sy nie kan bly nie. Daar is te veel asems wat ook heenkome soek. Mense wat minder foute as sy gemaak het. Beddegoed, lakens en kussings is vir haar gegee om mee te begin. Soos sy wegstap, sien ek iemand anders in Saartjie se rugkant. Die reën het weer saggies oor haar begin val.

Die manier hoe sy haar skouers na agter druk en haar voorkop na bo, herinner my aan ’n ander jong vrou wat ek eens geken het: Sussie in die wit plakkerskamp langs die snelweg in Johannesburg-Suid. Ook nog maar ’n kind met ’n kind. Sy was een van die eerste gevalle wat ek destyds gedurende my uitreikwerk moes hanteer.

Sussie het ’n man gehad wat haar ook geslaan het. En misbruik het. Sy was 18, hy 45. Gedurende ons sessies sit haar tweejarige dogtertjie pal op Sussie se skoot. Afgetrokke luister sy hoe haar ma vertel van die drie, dalk vier miskrame vooraf. Elke kind is tot ver verby vyf maande gedra. Ek doen die wiskunde. Sussie was maar 12 toe haar man met haar “getrou” het. Ek vra, maar op papier bestaan daar niks nie.

My werk was nie om vir Sussie te red nie. Die kleintjie se welstand was meer belangrik. Ek verduidelik dit ook vir haar só. Ek beplan ook saam met haar. Sy sal die man moet los. Hierdie sirkel gaan homself net herhaal.

Op ’n oggend kry ek ’n SMS: Is daar nog plek by die shelter waarvan Meneer gepraat het? Natuurlik, antwoord ek. Kan ek jou kom haal?

Ek sal nooit daardie oggend vergeet nie: Sussie wag vir my langs die snelweg. Die dogtertjie is op haar heup. Beide se hare is olierige toutjies. Toe hulle inklim, slaan die reuk van ongewaste klere en vuil lywe op. Die kleintjie kou aan NikNaks. Daar is slegs ’n pap swartsak by hul voete. Daarin hul goedjies.

Toe ek haar by die skuiling inteken en afsien, kyk sy my lynreg in die oë. Dieselfde kyk waarmee Saartjie my vanoggend gegroet het.

“Ek sal regkom.”

Sy draai om en stap weg. Dit is die laaste wat ek van haar gesien het. In so baie jong vrouens sien ek haar steeds.

  • 5

Kommentaar

  • Everline van Dyk

    Daar word so maklik van sulke tragediese gevalle net weggekyk. "Wat kan ek nou daaraan doen om die situasie te verbeter?"
    As elkeen van ons net een so 'n vrou kon help om op haar voete te kom ... Goed geskryf.

  • Martie Jv Rensburg

    My moederhart wil almal help, maar dis onmoontlik. Mag al die Saartjies 'n heenkome en uitweg vind. Dis my gebed vir hulle in 2023.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top